Lang pad na herstel ná post-Covid-sindroom

Jurgen van Staden ontvang steeds fisio- en arbeidsterapie. Hy het die volle gebruik van al sy ledemate, behalwe sy linkerbeen. (Foto: Verskaf)

Toe ’n jong paartjie van Mosselbaai in September verlede jaar ewige trou aan mekaar gesweer het, het hulle nie besef dat die spreekwoordelike sewe sakke sout so kort ná hul wittebrood sou volg nie.

Jurgen (26) en Marisa (28) van Staden het mekaar sewe jaar gelede in die kerk ontmoet waar albei jeugleiers was. Hulle was ses jaar lank saam voordat hulle die knoop deurgehak het. Nooit sou hulle kon droom dat hul huweliksbeloftes voor die kansel “for better or for worse” en “in siekte en gesondheid” so gou getoets sou word nie, want twee maande later was Jurgen verlam en kon nie praat nie. Dit is aan post-Covid-miëlitis (rugmurgontsteking) toegeskryf.

Jurgen wat ’n speurder in die polisie is, moes ’n gevangene vervoer waarna hy in November positief vir Covid-19 getoets het. Een van sy kollegas wat saam met hom was, is dood aan Covid terwyl die ander een ná ’n lang siekbed herstel het.

Ongeveer sewe maande nadat Jurgen siek geword het, sukkel hy, ondanks maande se fisio- en arbeidsterapie, om met hulp enkele treë te stap.

Die jong paartjie het besluit om hul verhaal aan Maroela Media te vertel omdat hulle mense teen die erns van Covid wil waarsku en dat dit nie ’n ’n valse, opgemaakte siekte is om mense bang te maak nie. Dis ’n werklikheid. Alle protokol soos die dra van maskers moet gevolg word. Selfs sterk, gesonde jong mense soos Jurgen kan dodelik siek word, waarsku hulle.

Marisa wat so nou met hom saamgeleef het en hom so getrou bygestaan het, het wonderbaarlik negatief vir die virus getoets.

Marisa vertel: “Dit het alles met ’n hoofpyn begin wat Jurgen ná dae nie kon afskud nie. Ons het gedink dis maar sinusitis. Toe word hy eendag wakker met erge lyfseer en ’n koors van 38,2 ℃.

“Hy is positief vir Covid getoets en ons moes tien dae lank isoleer. Jurgen het geen energie gehad nie en was heeltyd moeg. Elke keer dat hy net ’n paar treë gestap het, moes hy eers gaan rus.

“Teen die middel van Desember kon hy glad nie meer op sy eie loop nie en hy moes op my steun as hy iewers heen wou gaan.

“Dit het al slegter met hom gegaan. Hy kon later glad nie meer loop nie en is in die hospitaal opgeneem. Hy het gesukkel om te praat en was baie deurmekaar en vergeetagtig.

“Hy het ook in die hospitaal enige gevoel in sy arms en bene verloor. Ná talle bloedtoetse en skanderings, X-straalplate en ’n lumbale punksie is “aftakelende spierswakheid weens post-Covid-sindroom” by hom gediagnoseer. Dit was later so erg dat hy slegs sy regterhand se vingers kon beweeg.

“Sy stem het darem geleidelik herstel. Omdat die Covid so ’n nuwe siekte is en baie daaroor nog onbekend is, kon niemand hom presies vertel wat met hom verkeerd was nie.”

“Jurgen was in ’n stadium heeltemal verlam maar het nou weer volle gebruik van al sy ledemate, behalwe sy linkerbeen. Met elke klein verbetering is dit asof ’n rots gelig het,” sê Marisa.

Jurgen en Marisa met hulle troudag. (Foto: Verskaf)

Vir die jong getroudes was dit ’n geweldige groot slag.

Toe hy ontslaan is, het hy het so moeilik beweeg dat hy van ’n rolstoel gebruik moes maak. Jurgen kon later met ’n kruk aan die regterkant begin trappe klim terwyl Marisa hom aan die linkerkant ondersteun het. Net om die badkamer te besoek, was ’n bitter moeilike taak. Uiteindelik het hy weer voetjie vir voetjie vir kort afstande begin loop met sy loopraam wat hulle grappenderwys sy “4×4” noem.

Erge agteruitgang in sy bewegings waarvoor niemand ’n verklaring kon gee nie het gevolg, maar op 23 Januarie kon hy vir die eerste keer in langer as ’n maand met die hulp van sy fisio- en arbeidsterapeut regop staan, al het hy nog net prikkels in sy regterbobeen begin voel.

Jurgen het later ná vele pynlike weke met ’n loopraam begin loop en uiteindelik vir die eerste keer self ’n paar treë sonder hulp gegee, maar die volgende dag ondraaglike rugpyn begin kry. ’n Hele span dokters het hom ondersoek en daar was weer hospitalisasie en skanderings, maar geen verduideliking kon vir die misterieuse rugpyn gevind word nie.

Hul mediese fonds, Polmed, wou ook nie vir alles betaal nie. Hulle moes self vir die ambulansritte opdok.

Jurgen kon nie alleen tuis bly nie en hy kon ook nie die paar trappe na hul woonstel opklim nie. Dus moes hulle noodgedwonge by hul ouers intrek. Marisa wou haar man ook nie alleen tuis laat nie omdat hy soms geval het.

Daar was elke dag nuwe uitdagings en terugslae, maar hulle het besluit hulle gaan nie toelaat dat dit hulle onderkry nie.

Hy oefen tans 3 keer per week met ’n biokinetikus, maar het nog nie gevoel in al sy ledemate terug nie. Hy kan ook nou al trappe klim met sy kruk en loop ook al baie gemakliker met sy “4X4”. ’n Groot deurbraak.

Jurgen en Marisa voor hy siek geword het. Dié paartjie sê hulle pak nou sy pad na herstel een dag op ‘n slag aan. (Foto: Verskaf)

“Jurgen se kop was op die regte plek en hy het die eindstreep gesien. Ons pak sy reis na herstel een dag op ’n slag aan. Ons glo ook dat hy nog eendag volkome gaan herstel.

“Hoewel dit baie eise aan ons huwelik gestel het, het dit ons band versterk. Hy moes soms fisiek opgetel word om op die rolstoel te sit. Gelukkig was ons vriende en familie baie ondersteunend en net ’n oproep ver.

“Ons weet sy omstandighede is tydelik en sal verbeter. Ons het nuwe respek vir mense in rolstoele gekry. Daarom doen ons ’n beroep op motoriste om asseblief nie parkeerplek vir gestremdes te gebruik omdat hulle nie ver wil loop nie.”

“Ek kan net die Here dank vir die krag wat hy my gegee het waaroor ek nie eens geweet het ek beskik nie, want die meeste van die tyd is dit ek wat Jurgen moet oplig, omdraai, aantrek, stoot en soms moet optel as hy val.

“Ons het ook besef hoeveel goeie mense daar is. Oral waar ons kom, wou mense help of net luister.

“Jurgen het nou weer volle gebruik van al sy ledemate, behalwe sy linkerbeen. Sy regterbeen dra sy liggaam en hy is nou weer baie sterk in sy bolyf en arms. Hy kan egter nog nie op sy eie loop nie en gebruik steeds die “4X4” vir kort afstande en die rolstoel vir langer afstande.

“Ons het geleer hoe kosbaar elke oomblik met mekaar is en hoe die Here jou bo jou kragte dra. Ons het geleer om ons knieë te bly. Daar ís krag in gebed.

Deel van: Gesondheid, Mense

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Dit is so hartseer. Beterskap en herstel word jou toegebid Jurgen.

Veronica

Ek dink nie ons weet ‘n kwart van die virus nie, elke dag ‘n nuwe ding – baie bly dat hy amper heeltemal herstel het my hart gaan uit na almal in die tyd want jy weet nie of jy more gegun gaan word nie sou nice gewees het as die regering minder geld verkwansel en laat verdwyn het dalk kon ons laaaaankal ‘n cure gehad het maar dis my opinie

Blikkies

Sterkte Jurgen, Ek bid vir jou herstel. Vasbyt Boetie.