Leef gesonder, koop gesonder

(Foto: iStock)

Die aantal dieetprogramme en resepteboeke vir gesonde maaltye is duiselingwekkend en dis duidelik dat dié mark nog lank nie ’n versadigingspunt bereik het nie. Selfs op sosiale media word pasgemaakte oefen- en eetprogramme (natuurlik teen ’n maandelikse intekenfooi) gesmous.

Tog meen talle kenners ’n gesonde leefstyl is haalbaar én volhoubaar sonder die alewige weeg en wonder. En dit begin by jou inkopiewaentjie!

Voordat jy winkel toe vertrek

Gesonde inkopies begin reeds by die huis.

  • Beplan eers jou weeklikse spyskaart en stel dan op grond daarvan ’n gesonde en gebalanseerde inkopielys saam. Dit behoort byvoorbeeld genoeg groente en vrugte en gesonde proteïene soos vis, eiers, hoender, bone en neute in te sluit.
  • Moenie op ’n leë maag gaan inkopies doen nie. As jy tussen die rakke rondstap en die hongerpyne begin knaag, is die kans baie groter dat jy van jou goeie voornemens gaan vergeet en bederfkos koop. En as die kinders saam gaan inkopies doen, maak ook seker hulle eet vooraf, anders is ’n geneul tussen die lekkergoedrakke of voor die roomyskas waarskynlik jou voorland.
  • Baie supermarkte het deesdae afleweringsdienste waar jy jou inkopies op ’n app kan bestel. Dit kan ’n nuttige manier wees om seker te maak jy kry presies waarna jy soek.
  • Nog ’n manier om die versoeking (en ongerief) van die supermarkrakke te vermy, is om ’n plaasmark te besoek waar vars produkte soos groente, vrugte, melk, eiers en vleis direk van die plaas verkoop word. Dit is nie net ’n lekker naweekuitstappie vir die gesin nie, maar ook ’n goeie manier om kraakvars, gesonde kos te koop.

’n Voorslag met voorraad

Deur te verseker dat jou spens propvol gesonde noodsaaklikhede is, kan jy verhoed dat jy elke nou en dan vir een of twee items winkel toe moet gaan, en ook help om die versoeking vir (ongesonde) versnaperings te vermy.

  • Dit is ’n goeie idee om te sorg dat jy genoeg bevrore groente, vis en hoender in die vrieskas hou, sodat die versoeking nie gedurig opduik om kitskos te bestel omdat dit minder moeite is as om winkel toe te ry nie. ’n Ekstra vrieskas kan ’n belegging in jou gesin se gesonde eetgewoontes wees.
  • Spesiale aanbiedinge waar jy afslag kry as jy vyf of ses van dieselfde item koop, kan jou weliswaar geld bespaar, maar dit kan ook daartoe lei dat jy kos koop wat nie noodwendig deel van jou eetplan is nie, of wat net in die spens gaan lê en stof vergaar. Dink mooi voor jy koop.
  • (Foto: iStock)

    Is die inhoud van jou groente- en vrugtemandjie kleurvol genoeg? Kenners beveel aan dat ’n mens verskillende kleure groente en vrugte eet, omdat dit ’n groter verskeidenheid voedingstowwe bevat. Wat van ’n pakkie aarbeie, ’n sakkie tamaties of geelwortels?

Vaartbelyn tussen die rakke

Met sowat 40 000 produkte in die gemiddelde supermark, is dit nogal ’n uitdaging om jou pad deur die rakke te navigeer.

  • ’n Supermark is spesiaal deur verbruikerspesialiste ontwerp om jou soveel moontlik te laat koop – en dit beteken nie noodwendig die gesondste produkte nie. Kenners beveel aan dat jy eers die gangetjies vermy. Die gesondste produkte soos vars vrugte, groente, eiers en vleis is dikwels al om die rand van ’n supermark geleë.
  • Goedkoper produkte word dikwels op die boonste of onderste rakke gepak, terwyl duurder produkte ooghoogte en maklik binne bereik geplaas word.
  • Hou by jou inkopielys en moenie swig voor die versoeking van promosierakke en daardie snoepgoed wat in die drukgang by die kasregister vir jou lê en loer nie.

Verpakking vra fyn lees

Dit klink dalk na onnodig baie moeite om die lys bestanddele op elke produk se etiket te lees, maar soms kan dit jou met een oogopslag help om ’n gesonder keuse te maak.

  • Nie alles wat sê laevet, vetvry, glutenvry of organies is noodwendig so gesond nie. Dikwels bevat dié produkte steeds hope ekstra suiker of sout. Doen moeite om die verpakking te lees.
  • Van verpakking gepraat – daardie ontbytpap met die oulike strokiesprentkaraktertjie op die boks laat dalk jou kleinding se hart vinniger klop, maar dit is dikwels juis dié produkte wat ’n spul ekstra suiker en sout bevat.
  • Selfs volwasse kopers kan maklik deur mooi verpakking om die bos gelei word om ’n duurder produk te koop, terwyl produkte met die supermark se eie handelsmerk dikwels goedkoper en/of gesonder is.
  • Wees versigtig vir produkte met hope kleur- en geurstowwe, versoeters, preserveermiddels, versadigde vette en verfynde koolhidrate. Kenners beveel aan dat ’n mens in die algemeen produkte met meer as vyf bestanddele probeer vermy.
  • Produkte met die Hartstigting se logo is goed vir jou hartgesondheid.
  • Die Amerikaanse hartstigting beveel aan dat jy graanprodukte kies met volgraan wat boaan die bestanddele gelys word, pleks van “multigraan” of “verrykte meel”.
  • Maak ook seker jy kyk na die vervaldatum, veral wanneer jy produkte soos vleis, eiers en melk koop. Dikwels word die varser produkte agter die ander gepak.
  • Koop in die algemeen blikkieskos en bevrore produkte wat in water eerder as olie, sous of stroop ingelê is.

Bykomende bronne: activebeat.com; healthline.com; heart.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miskruier ·

Dit begin by… koop wat God voorsien en nie wat deur geldwolwe in fabrieke gemaak word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.