Maklike velsorgwenke vir die oorgang van seisoene

(Foto: Anastasiia Ostapovych/Unsplash)

Dit is moeilik om te glo dat die warmer maande verby is en dat ons die komberse moet uithaal en verwarmers moet begin afstof.

Saam met die seisoensoorgang is dit belangrik om jou vel ook in gedagte te hou, aangesien die weer ʼn groot rol speel in die toestand van jou vel. Wat in die somer vir jou vel werk, sal nie noodwendig in die winter werk nie.

Maar daar is maklike veranderinge wat jy kan aanbring wat jou vel sal beskerm in die kouer wintermaande, en nie gaan beteken dat jy ʼn hele nuwe reeks velsorgprodukte hoef te koop nie.

Hier is ʼn paar wenke vir wintervelsorg:

Bevogtig

In die warmer maande verkies baie mense ʼn ligte bevogtiger wat nie dik op die vel voel nie. In die kouer maande is dit egter belangrik om ʼn ryker bevogtiger aan te wend om jou vel optimaal te beskerm en seker te maak dit droog nie uit nie.

Hoewel die koue weer ook meer tyd binnenshuis, en in baie gevalle minder tyd in die son meebring, is dit steeds belangrik om daagliks ʼn goeie sonroom aan te wend. Al bring jy geen tyd buite deur nie, moet jy steeds sonroom aanwend om velskade deur middel van weerkaatsing en indirekte sonlig te voorkom.

Lug

Koue weer gaan gepaard met droë lug omdat baie mense en kantore gebruik maak van verwarmers wanneer dit koud is buite. Dit kan jou vel uitdroog en irriteer, veral as jy reeds bestaande velprobleme soos ekseem het.

Plaas ʼn elektroniese bevogtiger in jou kamer en leefarea om genoeg vog in die lug te hou. Dit sal voorkom dat jou vel nie onnodig uitdroog nie. Dit is ook ʼn goeie manier om jou vel bevogtig terwyl jy slaap.

Temperatuurverandering

Probeer om nie te veel van baie koue temperature na baie warm temperature te beweeg nie. Wanneer jy byvoorbeeld uit die koue buitelug in ʼn warm huis instap veroorsaak dit dat die klein bloedvaatjies in jou gesig te vinnig oop en toe gaan, wat kan veroorsaak dat hulle bars en jou met ʼn rooi gelaat laat.

Olie

In die winter is dit belangrik om gebruik te maak van jou liggaam se natuurlike olies. Daarom moet baie warm baddens of storte vermy word, maak nie saak hoe lekker dit dalk na ʼn koue dag voel nie.

Baie warm water beskadig die liggaam se natuurlike olielaag wat vog binne hou. As die lagie beskadig word, kan die vel droog en jeukerig word.

As jy regtig ʼn lang, warm bad nodig het, gooi ʼn paar druppels olie daarin om op te maak daarvoor en moenie vergeet om dadelik ná jou bad ʼn goeie room oor jou hele lyf aan te wend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.