Manlike menopouse: Mite of moontlik?

Foto ter illustrasie. (Foto: Jenny Hill/Unsplash)

Menopouse by vroue, oftewel dié tyd in ’n vrou se middeljare wat die hormoontrein sy laaste fluit gee, is goed beskryf en welbekend. Die swanesang van die menstruele siklus, warm gloede, nagsweet, gereelde urinering, slaaploosheid (insomnia), ’n emosionele tuimeltrein, asook ’n droë mond, oë, vel en vrouedele is slegs sommige van die simptome wat vroue vanaf hul laat 40’s en vroeë 50’s ervaar.

Hoewel mans in dieselfde ouderdomsgroep op hul beurt slegs ’n effense en geleidelike afname in hul testosteroonvlak ervaar, was die mediese gemeenskap tot onlangs nog huiwerig om die benaming “manlike menopouse” te gebruik. Tog meen verskeie medici dat die fisieke en emosionele veranderings by mans veel verder strek as nét ’n hormoonverandering of ’n sogenaamde middeljarekrisis.

Die feit dat manlike menopouse nie algemeen as ’n mediese term gebruik word nie, beteken nie dat dit nie bestaan nie. Trouens, sê dr. Dirk Lombard, ’n mediese dokter van Kempton Park, manlike menopouse is ’n werklikheid wat dikwels verwater word maar beslis nie geïgnoreer moet word nie.

Wat gebeur met middeljarige mans?

Baie mans in hul laat 40’s tot vroeë 50’s ontwikkel depressie, ’n verlies aan seksdrang, erektiele disfunksie en ander fisieke en emosionele simptome. Ander simptome wat algemeen by mans op hierdie ouderdom voorkom, sluit in:

  • gemoedskommelings en prikkelbaarheid;
  • verlies aan spiermassa en ’n verminderde vermoë of lus om te oefen;
  • verminderde beendigtheid (wat tot frakture kan lei);
  • gewigstoename en die ontwikkeling van ’n “bierpens” of groter borste (ginekomastie);
  • ’n algemene gebrek aan geesdrif en energie;
  • slaaploosheid of verhoogde moegheid; en
  • swak konsentrasie en korttermyngeheue.

“Dít wat mans ervaar, strek veel verder as net andropouse, die term wat vir die afname in mans se testosteroonvlakke gebruik word. Hoewel dié hormoon se vlakke daal soos mans ouer word, is die afname bestendig met minder as 2% per jaar vanaf die ouderdom van ongeveer 30 tot 40 jaar.

“’n Testosteroontekort wat later in die lewe ontwikkel, ook bekend as laataanvang-hipogonadisme, kan soms vir hierdie simptome verantwoordelik wees, maar in baie gevalle het die simptome min of niks met hormone te doen nie,” sê hy.

Oorsake en simptome

Lewenstylfaktore of sielkundige probleme kan ook vir baie van die simptome verantwoordelik wees wat mans veral in hul laat veertigerjare begin ervaar, sê Lombard. “Erektiele disfunksie, ’n lae libido en buierigheid kan die gevolg wees van spanning, depressie en angs. Daar is ook fisieke veranderings in die manlike liggaam, soos veranderinge in die bloedvate, wat tot erektiele disfunksie kan lei.”

Volgens Lombard kan leefstylfaktore soos ’n gebrek aan slaap, ongesonde eetgewoontes, te min oefening, te veel alkohol, rook en ’n swak selfbeeld ook oorsake van manlike menopouse wees.

Wat is hipogonadisme?

Soms, wanneer die simptome van manlike menopouse nie voor die deur van leefstylkeuses gelê kan word of ’n sielkundige oorsprong het nie, kan dit as gevolg van ’n toestand genaamd hipogonadisme wees. Dit is wanneer die testikels min of geen hormone produseer nie. Hipogonadisme kan reeds vanaf geboorte teenwoordig wees en word gekenmerk deur simptome soos vertraagde puberteit en klein testikels.

Hipogonadisme kan egter ook later in ’n man se lewe ontwikkel, veral by mans wat vetsugtig is of tipe 2-diabetes het. Dit staan as laataanvang-hipogonadisme bekend, ’n ongewone en spesifieke mediese toestand wat nie ’n normale deel van veroudering is nie. ’n Diagnose word gewoonlik gemaak op grond van die pasiënt se simptome asook bloedtoetse waarin die testosteroonvlakke gemeet word.

Behandeling

“Indien jy enige van die simptome soos bo genoem, ervaar, moet jy jou geneesheer raadpleeg. Jou dokter sal jou uitvra oor jou werk en persoonlike lewe en jou moontlik na ’n sielkundige verwys indien jou geestesgesondheid en alledaagse funksionering deur onder meer depressie, spanning of angs beïnvloed word.

“Jou dokter kan ook ’n bloedtoets aanvra om jou testosteroonvlakke te meet. As die resultate daarop dui dat jy ’n testosteroontekort het, kan jy na ’n endokrinoloog, ’n spesialis in hormoonprobleme, verwys word. As dié spesialis hierdie diagnose bevestig, is testosteroonvervanging ’n moontlike behandeling om die hormoontekort aan te pak om die simptome te verlig,” sê Lombard.

Volgens hom is die grootste struikelblok in die behandeling van manlike menopouse die vrymoedigheid van mans om oor hulle simptome én uitdagings te praat. “Baie mans voel geïntimideer of is te skaam om veral seksuele onderwerpe met hul dokter te bespreek.

“Die beste vertrekpunt vir die behandeling van die simptome van manlike menopouse is ’n gesonde leefstyl. Dit sluit in om gesond te eet, gereeld oefening te doen, genoeg te slaap en jou stres te verminder deur doelbewus tyd vir ontspanning of ’n splinternuwe stokperdjie te maak. Deur net jou leefstyl aan te pas, sal die meeste mans wat simptome van manlike menopouse ervaar ’n drastiese verandering in hul algehele gesondheid ervaar.”

Bykomende bronne: Cleveland Clinic; WebMd; Mayo Clinic; NHS; Healthline.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.