Masels: Meer gevalle dié jaar verwag

(Foto iStock)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Verenigde Nasies se Internasionale Kindernoodfonds (Unicef) waarsku dat daar ’n verhoogde risiko is dat masels vanjaar vinniger gaan versprei en groter uitbrekings is hoogs waarskynlik.

Luidens ’n gesamentlike verklaring deur dié twee groepe is 80% meer gevalle as dieselfde tyd verlede jaar aangemeld. Meer as 17 300 gevalle van masels is wêreldwyd in Januarie en Februarie aangemeld, vergeleke met 9 600 gevalle aan die begin van 2021. In die afgelope 12 maande was daar 21 “groot en ontwrigtende” uitbrekings van masels, veral in Afrika en die Oos-Mediterreense streek.

Die laaste groot uitbreking van masels in Suid-Afrika was in 2009 toe die Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) 18 000 gevalle aangemeld het.

“Die Covid-19-pandemie het immuniseringsdienste onderbreek, gesondheidsdienste is oorweldig, en ons sien ’n oplewing in aansteeklike siektes soos masels. Die ontwrigting van immuniseringsdienste sal nog vir dekades gevoel word,” het dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, gesê. “Ons moet noodsaaklike immunisering gou op koers kry en inhaalveldtogte van stapel stuur sodat almal toegang tot hierdie lewensreddende entstowwe kan hê.”

Die WGO sê dat 57 entstofveldtogte vir voorkombare siektes in 43 lande sedert die begin van die pandemie nie kon plaasvind nie. Altesaam 203 miljoen mense word hierdeur geraak, van wie die meeste kinders is. Hieronder is 19 maselsveldtogte, wat 73 miljoen kinders in gevaar stel om masels weens misgeloopte inentings te kry.

“Dit is bemoedigend dat mense genoeg beskerm teen Covid-19 begin voel om meer sosiaal te verkeer, maar op baie plekke het kinders nie roetine-inentings ontvang nie. Dit skep die perfekte storm vir die verspreiding van ’n siekte soos masels,” het Catherine Russell, uitvoerende direkteur van Unicef, gesê.

Sterftes weens masels het sedert 2016 met 50% toegeneem. In 2019 is die meeste gevalle én sterftes in 23 jaar aangemeld – bykans 900 000 gevalle is aangemeld en meer as 207 000 mense is hieraan dood.

Oorsake en voorkoming

Masels (rubeola) is ’n hoogs aansteeklike siekte wat veroorsaak word deur ’n virus wat in die neus en keel van ’n besmette kind of volwassene vermenigvuldig. Wanneer iemand met masels hoes, nies of praat, beland besmette druppels in die lug, waar ander mense dit kan inasem.

Die besmette druppels kan ook op ’n oppervlak beland, waar dit vir ’n paar uur aktief en aansteeklik bly. Jy kan die virus opdoen deur jou vingers in jou mond of neus te plaas of jou oë te vryf nadat jy aan die besmette oppervlak geraak het.

Masels bly steeds ’n beduidende oorsaak van sterftes wêreldwyd, ondanks die beskikbaarheid van ’n veilige en doeltreffende entstof.

Om masels by kinders te voorkom, ontvang babas die entstof op ses en 12 maande. Aanvullende immuniseringsveldtogte word elke drie tot vier jaar onderneem om kinders onder vyf jaar te teiken. Hierdie veldtogte het ten doel om kinders wat moontlik ’n maselsinenting misgeloop het te immuniseer en die doeltreffendheid van die entstof te verhoog.

Simptome

Die simptome van masels, wat baie soortgelyk is aan dié van verkoue en griep, verskyn gewoonlik eers binne 10 tot 12 dae ná blootstelling aan die virus. Dit sluit in:

  • Hoes;
  • hoë koors;
  • loopneus;
  • rooi oë;
  • oë wat traan;
  • seer keel;
  • prikkelbaarheid;
  • ligsensitiwiteit;
  • spierpyn;
  • diarree; en
  • wit kolle in die mond.

’n Wydverspreide veluitslag is ’n klassieke teken van masels. Hierdie uitslag kan tot sewe dae duur en verskyn gewoonlik binne 14 dae ná blootstelling aan die virus. Dit ontwikkel gewoonlik op die nek en gesig, en versprei oor die volgende paar dae na ander dele van die liggaam.

Die koors begin mettertyd daal en die uitslag klaar op. Namate die uitslag opklaar, kan die vel donkerder raak en effens afdop.

Diagnose en behandeling

(Foto: iStock)

Jou gesondheidsorgverskaffer sal masels kan diagnoseer deur ’n ondersoek te doen. Die dokter kan egter ook laboratoriumtoetse vir die virus laat doen deur monsters van bloed, urien of afskeidings van die neus en keel te neem.

Daar is geen geneesmiddel vir masels nie en die virus moet sy verloop neem – dit duur gewoonlik ongeveer 10 tot 14 dae. Die simptome kan wel soos volg behandel word:

  • Neem medikasie vir pyn of koors;
  • kry genoeg rus;
  • drink baie vloeistof;
  • gorrel met soutwater; en
  • vermy skerp lig as dit jou oë seermaak.

Let wel: Moet nooit aspirien aan kinders of tieners gee nie, tensy jou dokter dit voorskryf, weens die risiko van Reye se sindroom.

Risikofaktore en komplikasies

Risikofaktore vir masels sluit in:

  • Om nie ingeënt te wees nie: As jy nie die entstof vir masels ontvang het nie, is jy meer geneig om die siekte te ontwikkel.
  • Internasionale reise: As jy na ontwikkelende lande reis waar masels meer algemeen voorkom, het jy ’n groter risiko om die siekte op te doen.
  • Vitamien A-tekort: As jy nie genoeg vitamien A in jou dieet het nie, is jy geneig om meer ernstige simptome en komplikasies te hê.

Komplikasies van masels kan die volgende insluit:

  • Een van die mees algemene komplikasies van masels is ’n bakteriële oorinfeksie.
  • Brongitis, laringitis of kroep. Masels kan lei tot ontsteking van die larinks of van die binnewande van die hooflugweë na jou longe (brongiale buise).
  • Longontsteking is ’n algemene komplikasie van masels. Mense met ’n verswakte immuunstelsel kan longontsteking ontwikkel wat soms dodelik is.
  • Ongeveer een uit 1 000 mense met masels ontwikkel ’n komplikasie wat enkefalitis genoem word. Enkefalitis kan net ná masels voorkom, of dit kan eers maande later voorkom.
  • As jy swanger is, moet jy spesiale sorg dra om masels te vermy, want die siekte kan premature geboorte, lae geboortegewig en moedersterfte veroorsaak.

Hoe verskil masels en Duitse masels?

Duitse masels (rubella) is nie dieselfde as masels nie, hoewel die twee siektes ’n paar soortgelyke kenmerke het, insluitend die rooi uitslag. Duitse masels word egter deur ’n ander virus veroorsaak en is nie so ernstig of aansteeklik soos masels nie.

Duitse masels kom meestal by skoolgaande kinders voor en koors is nie ’n algemene verskynsel nie. Klein, pienk kolletjies verskyn eers op die gesig en versprei dan na die res van die lyf om ’n rooi gedeelte te vorm. Die limfkliere agter die kop en aan die bokant van die nek is vergroot en gevoelig en soms is die gewrigte pynlik.

Die grootste gevaar van Duitse masels is tydens vroeë swangerskap wanneer die fetus ernstig deur die virus aangetas kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.