Minder kosreëls, meer genot

(Foto: Unsplash)

Om bewustheid te kweek oor jou eetgewoontes en jou denkwyse oor kos, kan ʼn groot rol speel in hoeveel jy eet, wat jy eet én jou langtermynverhouding met kos.

Druk van die samelewing en die maniere waarop ouers hul jong kinders oor kos leer, vorm dikwels ongesonde idees en verhoudings met kos.

Dieetkultuur skep ook al jare reeds ʼn verwronge idee oor ʼn gesonde verhouding met kos. Dieetkultuur is ʼn kultuur waar diëte, met die oog daarop om gewig te verloor, as die norm aanvaar word. Dit verdeel kossoorte in kategorieë van “goed” en “sleg”, en versprei die idee dat skraalheid belangriker as welstand en gesondheid is.

Xenia Ayiotis (Foto: Verskaf)

Xenia Ayiotis, ʼn opgeleide, geregistreerde afrigter vir mense wat meer aandagtig wil eet, sê dieetkultuur, gepaard met kommer oor geld en vermorsing, is die groot redes hoekom mense nie aandagtig eet nie.

“Mense eet dikwels hul kos op, of leer hul kinders dat hulle hul kos móét opeet, juis omdat hulle vir die kos betaal het, iemand het moeite daarmee gedoen, of omdat hulle dit nie wil vermors nie. Maar om jou koskeuses te oordeel, baat jou nie,” sê Ayiotis.

Ayiotis verduidelik aandagtigheid in sy eenvoudigste vorm gaan daaroor om te weet wat onderskeidelik in jou liggaam, jou kop en jou emosies aangaan. Die bewustheid moet dan na jou eetgewoontes oorgedra word.

“Wanneer jy eet, moet jy besef jy is honger of gespanne of moeg, oorwerk, of wat ook al – dit alles gaan beïnvloed hoe jy eet. Want as jy gespanne en honger is, is die kanse dat jy baie vinnig en te veel gaan eet, soveel groter. Mense eet dan gereeld net om te eet, en proe nie eens die kos nie.”

Put genot uit kos

Om nie ander goed te doen terwyl jy eet nie, kan jou help om meer aandagtig te eet.

“Skakel dus die televisie af, moenie voor jou rekenaar eet nie en moenie eet terwyl jy bestuur nie. So sal jy meer aandagtig kan wees oor wat in jou kop, emosies en liggaam aangaan voordat, gedurende en nadat jy geëet het.

“Om aandagtig te eet is nie ʼn manier om gewig te verloor nie. Dit gaan daaroor om die meeste voordeel en genot uit kos te put.

“As jy nie net op jou kos fokus terwyl jy eet nie, neem jy eintlik die plesier en genot daaruit. Dit lei daartoe dat ons ooreet omdat ons eintlik nie weet hoeveel ons eet nie.”

Beperkings

Terwyl dieetkultuur kossoorte in kategorieë van “goed” en “sleg” plaas, wil ʼn leefstyl waar jy aandagtig eet, jou aanmoedig om alle soorte kos as neutraal te sien en om geen beperkings in jou dieet te stel nie.

Ayiotis sê dit gaan alles daaroor om die oordeel wat jy op kos plaas, weg te neem. Jy moet jouself die vryheid gun om enige soort kos te eniger tyd te geniet.

“As jy jouself oordeel as jy byvoorbeeld brood eet, lei dit net tot skuldgevoelens. En as gevolg daarvan eet jy dan meer brood as wat jy sou, net omdat jy jouself veroordeel het. As jy kosvryheid toegepas het, was dit dalk nie eens die geval nie.”

Sy sê dit is belangriker om te fokus op hoe die kos in jou voel, eerder as om vooropgestelde reëls te hê van wat jy mag en nie mag eet nie, of wanneer jy dit mag en nie mag eet nie.

Om te luister na jou liggaam wanneer dit honger en versadig is, is iets wat mense nie meer ken nie, en dit is een van die vaardighede wat hierdie soort leefstyl jou toelaat om te leer.

“Dit baat jou nie om kos in kategorieë te plaas nie. As jy ʼn stuk koek as ‘sleg’ brandmerk, is jy meer geneig om jou daaraan te ooreet wanneer jy dit wel kan eet, eerder as om net ʼn stuk koek te eet en dit te geniet.

“Hierdie soort wanfunksionele verhouding met kos lei tot ʼn wipplank-dieet, die belofte dat jy elke jaar, elke maand of elke week van voor af gaan begin ‘reg’ eet. Dit kan al hoe meer skade doen hoe langer dit aangaan. Dit kan ook later tot ʼn eetstoornis lei.”

Hoe om te begin

Ayiotis gee hierdie paar wenke om die eerste tree in die regte rigting te gee as jy ʼn leefstyl wil volg waar jy meer aandagtig eet:

  1. Hou op diëte volg.
  2. Gee jouself toestemming om enigiets te eniger tyd te eet. En pas dit sonder oordeel toe.
  3. Laat vaar al die kosreëls en beperkings wat jy voorheen opgestel het.
  4. Leer hoe honger en versadigheid voel.
  5. Kou aandagtig en fokus op jou kos wanneer jy eet.
  6. Sit jou mes en vurk neer terwyl jy kou.
  7. Moenie eet terwyl jy besig is met iets anders nie.
  8. Onthou dat die doel is om meer genot uit kos te kry, en nie om noodwendig minder te eet nie.

Hoe voel dit om aandagtig te eet?

Ayiotis verduidelik dat jy aanvanklik kan voel asof jy buite beheer is, veral as jy van ʼn dieet-agtergrond kom, aangesien daar nie streng reëls is om te volg, soos in ander diëte nie.

“Jy gaan waarskynlik aan die begin meer eet as gewoonlik, veral kos wat jy voorheen beperk het. Namate jy egter besef jy kan nou hierdie kossoorte eet wanneer jy ook al wil, gaan jy nie meer so baie daaraan dink en jou daaraan ooreet nie.

“Só kan jy meer genot uit jou kos kry en ʼn beter verhouding met kos ontwikkel. Om aandagtig te leef, is goed vir jou eetgewoontes, maar dis ook goed vir baie ander aspekte van jou lewe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.