Moedige Madri versit berge ná rugoperasie

Madri Bothma van Worcester het met Maroela Media gesels oor haar seer pad met skoliose. (Foto: Verskaf)

In November 2016 is skoliose, ’n mediese toestand waar ’n mens se ruggraat ’n sywaartse kurwe het, by Madri Bothma van Worcester (toe 12 jaar oud) gediagnoseer. Yolanda Wessels het met haar en haar ma, Marésa, gesels oor haar seer pad van emosionele trauma asook die operasie en hoe dit haar lewe verander het.

Marésa vertel dat hulle nie dokter toe is as gevolg van haar rugpyn nie, maar omdat Madri griep gehad het.

“Ek het haar na ons huisdokter geneem en toevallig genoem dat sy gereeld rugpyn het. Hy het haar laat regop staan teen die muur en deur slegs na haar postuur te kyk, het hy gesê hy vermoed sy het skoliose.

“‘Skoli-wat?’ was my reaksie. Hy het verduidelik dat dit die ruggraat is wat skeef groei. Maar steeds, en beslis, was ek nie voorbereid op dit wat ons op die X-straalplate gesien het nie.”

Die X-strale-uitslag was adolessente idiopatiese skoliose met ’n rugkurwe van 32,2 grade.

“Jy skrik jou in ’n ander bloedgroep in en hoe meer jy google, hoe banger raak jy. Dan kom die realiteit: my dogter het ’n defektiewe ruggraat en gaan heel moontlik in haar jong lewe dalk ’n rugoperasie moet kry. Daar is nie ’n geneesmiddel nie. Jy of sy het niks verkeerd gedoen om dit te veroorsaak nie. Met sommige kinders gebeur dit net en daar is medies geen verduideliking hoekom dit gebeur nie.”

Hulle is verwys na dr. HJ Herbst, ’n ortopediese chirurg in Worcester. Nadat hy haar X-straalplate gesien het, is hulle na dr. Johan Davis in Stellenbosch verwys. Omdat die kromming van Madri se rug nog nie 40 grade bereik het nie en hy bekommerd was dat haar rug baie skielik kan verswak, het hulle vir die volgende vier jaar elke drie maande Stellenbosch toe gery vir ’n opvolgbesoek om dit te monitor.

“Dit was elke keer vir my senutergend, want mens weet nie wat om te verwag nie… het die ruggie stabiel gebly of het dit verswak? Madri het stelselmatig verswak en in Maart 2020 was die kromming 39 grade.”

Dit was ook tydens dié besoek dat Marésa die eerste keer gehoor het van emosionele swaarkry en die feit dat vriende en onderwysers – soms in onkunde – lelike goed kwytraak.

“Madri het nooit in die vier jaar by ons gekla daaroor nie. Dit het my oë oopgemaak toe sy emosioneel geraak het toe dr. Davis met haar gesels het. Ons was so gefokus om haar liggaamlik te ondersteun, dat ek nie die emosionele swaarkry raakgesien het nie.”

Die pad tot vanjaar, toe Madri op 2 September die operasie ondergaan het, was allermins maklik. Sy voel mense se onkunde oor skoliose lei tot soveel onsensitiewe aanmerkings dat jy nie net fisieke pyn ervaar nie, maar ook emosionele pyn.

“Skoliose is ’n fisieke pyn, want alles in jou lyf pyn omdat niks op die regte plek is nie; jou hele lyf is uit proporsie. Jou heupbene is ongelyk, jou ribbes en jou rug pyn die heeltyd omdat jou spiere en jou rug voortdurend probeer om weer jou rug reguit te trek.

“’n Meisie van my ouderdom kyk na haar eie lyf. Mens staan voor die spieël en sien jou heupe en skouers is ongelyk, jou ‘vlerkies’ staan uit. Dit is nie ek wat myself kritiseer nie, maar ander mense se onkunde omdat hulle my daaroor spot. Dit het my emosioneel sat gemaak. Daar is soveel onkunde oor skoliose omdat mense nie weet wat dit is nie. En bitter min mense weet dat daar ook emosionele pyn agter die fisieke pyn skuil.”

Van gr. 6 af kon Madri aan geen sport deelneem nie, want enige impak het haar rugpyn net verder vererger. Sommige dae was die pyn te erg en kon sy nie skool toe gaan nie. Ander dae het sy weer gegaan, al het sy in pyn verkeer, want sy moes leer om daarmee saam te leef. Madri sê sy het vir haarself in die spieël gekyk en gesê: “Ek is wie ek is, dit is hoe ek geskape en gemaak is. Ek het my ken hoog gehou, want ek wou wys dat ek sterker is as hulle en dat ek hier kan deurkom. Ek wou wys dat ek trots is op my lyf en op wie ek is.”

Op 1 September het Madri en haar ouers ’n uur lange konsultasie met dr. Davids gehad waartydens hy verduidelik het dat daar altyd ʼn moontlikheid is dat iets verkeerd kan gaan, dat sy verlam kan wees of selfs kan doodgaan omdat dit so ’n ingewikkelde operasie is.

“Dit was vir ons erg, want hoe berei jy jou 15-jarige dogter voor vir iets waarvan jy geen kennis dra nie. Ons het geweet dit is gevaarlik en gaan ongelooflik seer wees, maar hoe verduidelik jy daardie seer as jy dit self nie ervaar het nie. Boonop is geen besoekers in die hospitale toegelaat nie as gevolg van Covid-19, maar omdat sy minderjarig is, het ons toestemming gekry dat een ouer by haar mag bly.”

Madri is op 2 September in Mediclinic Stellenbosch geopereer.

“Ek was glad nie gespanne nie, want Pappa God het ʼn hand oor my gehad en ek het volle vertroue gehad in dr. Davids.” Marésa sê: “Vir ons as ouers was dit baie erg – mens voel magteloos en kan net bid en nogmaals bid, want daar is niks anders waarop jy kan staatmaak as Koning Jesus nie. Die dag van die operasie was die langste dag in my lewe vandat hulle haar teater toe gestoot het tot hulle haar later in die intensiewesorgeenheid ingestoot het (die operasie het 6½ uur geduur).

Madri was vier dae in die hoësorgeenheid en daarna vier dae in die gewone saal.

“Die dag ná my operasie het ek my eerste treë geneem en daarna het ek elke dag sterker geword. Die twee weke nadat ek ontslaan is, is die seerste weke wat daar vir my bestaan, dit was twee weke van absolute hel.” Sy kon niks vir haarself doen nie en was konstant in pyn.

“My vriende het my ongelooflik baie gehelp. Ek was soms moedeloos omdat ek niks self kon doen nie, maar hulle het my gehelp om in my bed te kom, aan te trek – hulle was my regterhand. ’n Vriendin van my het ook dié operasie ondergaan. Ek het daarom geweet dit gaan baie seer wees, maar ook dat ek soveel beter gaan wees ná die tyd. Dit het my positief gehou om te sien dat die seer die moeite werd is.

“Ná vier weke kon ek basies aangaan soos normaalweg. My gesin en vriende het my soveel ondersteun en gehelp en bederf. Hulle het positiewe boodskappe gestuur en almal was opbouend. Sonder my vriende se ondersteuning sou ek dit nie kon maak nie, hulle het my positief gehou en deur alles gedra.”

Madri is nie skaam om haar letsel na die operasie te wys nie, soms spog sy selfs ‘n bietjie daarmee. (Foto: Verskaf)

Marésa sê in die tyd voor die operasie en ná die operasie is hulle gedra deur hul geloof, vriende en familie.

“Daar was so baie wat vir Madri en vir ons gebid het, selfs mense wat ek van geen kant af ken nie, mammas van haar skoolmaats wat ons gereeld gewhatsapp het, maats wat gedurig navrae gedoen het. Dis wonderlik hoe mens in sulke tye besef hoeveel mense vir jou en jou dogter omgee. Haar skool (HTS Drostdy) was ongelooflik: onderwysers wat aangebied het om ná die operasie te help dat sy haar werk inhaal, onderwysers wat hul persoonlike tyd na-ure opgeoffer het om haar te help.”

Ses weke ná die operasie kon sy gaan draf.

“Dit was seer, dit was die eerste oefening wat ek het gedoen van voor my operasie af. Dit was moeilik, ek moes baie kere stop, maar dit is beter as wat jy niks kon doen nie. Daar is baie tye waar my rug baie seer is en dan byt ek net vas, want ek weet alles moet nog regskuif. ’n Mens moet hoop hê om te veg; ek het ’n meter lange sny (as herinnering) ‘waardeur ek baklei het’ en ek is trots daarop. God sal jou nie tot hier bring as hy jou nie anderkant kan uitbring nie. Dié wete het van my ’n sterker mens gemaak. Ek het nou baie meer simpatie met ander wat in pyn is.”

Madri sê sy weet sy moet voortaan altyd versigtig wees watter aktiwiteite sy aanpak.

“Ek wil weer begin dans en netbal speel. Ek is baie gemakliker in my eie lyf en baie gelukkiger. Ek gee minder om wat ander van my dink. Ek wil vir mense wys dat dit nie saak maak hoe hoog die berge in jou lewe is nie, jy kán daaroor kom en sterker wees.”

Marésa en Abrie sê een ding is vir seker: sonder die Here sou hulle dit nie gemaak het nie.

“Ons is super trots op Madri en elke dag sien ek hoe sy daai letsel af-show met soveel trots en geensins probeer wegsteek nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.