Moenie jou gesondheid met ’n knippie sout neem nie!

(Foto: iStock)

Terwyl groot gewag gemaak word van die groot hoeveelhede suiker wat Suid-Afrikaners daagliks inneem, vergeet ons dikwels die ander groot rede vir ’n ongesonde lewe: sout.

Volgens die Hart-en-beroertestigting van Suid-Afrika (HBSSA) eet Suid-Afrikaners twee keer meer sout as die aanbevole daaglikse hoeveelheid van 5 g per dag, wat tot ernstige gesondheidsprobleme kan lei.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê dat 2,5 miljoen sterftes jaarliks voorkom kan word deur ons soutinname te beperk. Indien jy ouer is of aan ʼn chroniese mediese toestand soos hoë bloeddruk, diabetes of chroniese niersiekte ly, kan jou dokter aanbeveel dat jy jou natriuminname (Engels: sodium) selfs meer beperk.

Te veel sout, Suid-Afrika!

Studies toon dat Suid-Afrikaners gemiddeld tussen 6 g en 11 g sout per dag inneem. Sowat 55% van ons daaglikse soutinname kom van verwerkte voedselsoorte soos brood, harde margarien, ontbytgraan, soppoeier en vleisekstrak, verwerkte vleis, sous (soos tamatiesous, soja- en slaaisous) en kitskos wat dikwels die internasionaal aanvaarde riglyn oorskry waarvolgens kosse wat meer as 600 mg natrium per 100 g bevat, as ongesond beskou word.

In teenstelling met ander Westerse lande waar die diskresionêre soutinname nagenoeg 15% beloop, kry Suid-Afrikaners ʼn allemintige 40% van hul sout in deur sout wat ons by ons kos gooi terwyl ons kook of aan tafel sit.

Tafelsout bestaan uit 40% natrium en 60% uit ʼn mineraal bekend as chloried. Sout is die meeste mense se hoofbron van natrium. Dit word as ʼn preserveermiddel by kos gevoeg en word gebruik om vleis te pekel, in gebakte disse, om vog te behou en om geure te verdoesel of te versterk.

Die beste manier om jou soutinname te beperk, is om minder klaar verpakte, geprosesseerde en kitskos te eet. (Foto: iStock)

Dit kan jou lewe kos

Natrium is ʼn mineraal wat slegs in klein hoeveelhede nodig is. Dit help om senu-impulse oor te dra, handhaaf die liggaam se vloeistofbalans en help ons spiere en organe om behoorlik te funksioneer. Die liggaam benodig slegs tussen 200 mg en 500 mg natrium per dag (1,25 g sout) hiervoor.

’n Oormaat natrium veroorsaak dat die liggaam vog terughou, wat die bloedvolume verhoog en tot gevolg het dat die hart en bloedvate harder moet werk. Dit kan lei tot hipertensie, wat ʼn belangrike risikofaktor vir hartsiektes en beroerte is en wêreldwyd een van die hoofoorsake van sterftes en ongeskiktheid is. ʼn Hoë soutinname word boonop met osteoporose, maagkanker, blindheid, niersiekte en verslegtende asmasimptome verbind.

Suid-Afrika se hipertensiekoers is van die hoogste ter wêreld, met 6,3 miljoen mense wat hierdeur geraak word. Volgens die HBSSA kom 130 hartaanvalle en 240 beroertes daagliks in Suid-Afrika voor. Dit beteken dat vyf mense elke uur ʼn hartaanval kry en dat tien mense elke uur ʼn beroerte het. Tot 80% hiervan kon voorkom word deur gedragsverandering, soos om soutinname te beperk.

Moenie sout by voeg wanneer jy kook of aan tafel is nie. (Foto: iStock)

Hokaai, stop die soutlorrie!

Die beste manier om jou soutinname te beperk, is om minder klaar verpakte, geprosesseerde en kitskos te eet en nie sout by te voeg wanneer jy kook of aan tafel is nie. Onthou dat natrium natuurlik in sommige kossoorte soos vleis en suiwelprodukte voorkom. ’n Mens kan ook nie deur ’n tongtippietoets bepaal of kos baie sout bevat nie.

Die eerste drie bestanddele op ʼn etiket maak die grootste deel van die kos uit. Vermy kos wat die volgende as die eerste drie bestanddele lys, of eet minder daarvan:

  • Sout (natriumchloried of NaCl)
  • Mononatriumglutamaat (MNG of MSG in Engels)
  • Koeksoda of bakpoeier (natriumbikarbonaat)
  • Natriumfosfaat
  • Enige verbinding wat die woord “natrium” of “Na” bevat.

Hierdie artikel is nie bedoel en moet nie beskou word as mediese advies nie. Raadpleeg altyd jou geneesheer en/of apteker oor die moontlike newe-effekte of reaksie wat kos op jou gesondheid en/of die werking van medisyne kan hê.

(Grafika: Dawid Brand)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.