Mooier en fikser ná 40? Maklik!

Mary Joan het haar reis na ‘n fikser en gesonder persoon met Maroela Media gedeel. (Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Elke vrou is die een of ander tyd by dié kruispad wanneer jy jouself as bloot ’n vrou, ma en werker beskou. Wanneer dit voel asof jy nie gewaardeer of bemin word nie en gevolglik jouself begin afskeep. Dit word ’n bose kringloop.

Maar hoe ouer mens raak, hoe belangriker raak dit om na jouself om te sien, jou gesondheid op te pas en op die korrekte oefening en eetgewoontes te fokus. Dit is beslis binne jou bereik om 40+ en weer mooi en fiks te wees.

Mary Joan Witthuhn Swart het presies so gevoel ná haar tweede kind se geboorte, maar sy het ’n besluit geneem om iets te doen aan hoe sy lyk en voel. Sy het haar voorneme en kennis gedeel met ’n paar vroue en dié groep het spoedig gegroei tot ongeveer 50 gemotiveerde, vasberade vroue wat nie bang is vir hard oefen nie en wys alles is moontlik as jy jou daarop toespits.

Die vraag is meestal: Waar begin ’n vrou? Hier volg Mary Joan se verhaal. Sy gee ook ’n paar handige wenke met betrekking tot oefening en eetgewoontes

In 2018 het Mary Joan haar 40ste verjaarsdag gevier. Haar oudste, Mindie, was ses jaar oud en haar jongste, Monica, twee jaar.

“Ek was depressief, het nie veel werd gevoel nie, behalwe om ’n ma en vrou te wees en die huishouding aan die gang te hou. Ná ’n moeilike swangerskap en geboorte van my tweede dogtertjie, het ek my wil verloor om weer te begin fiks word, ten spyte daarvan dat ek oefening baie geniet. Alhoewel ek al my swangerskapgewig verloor het, was ek maer-vet (skinny fat), ek was geensins fiks of my spiere ferm nie en het min energie gehad.”

Sy het ernstig gaan nadink of sy vir die res van haar lewe so wil voel, of iets daaraan wil doen. Sy het.

Sy het reeds die nodige kennis oor oefening en voeding gehad nadat sy jare gelede haar sertifikaat in fiksheid en voeding ontvang het.

“Ek het destyds nie geweet hoe en waarvoor ek dit sou gebruik nie, maar baie belanggestel in die onderwerp. Ek het deurlopend naslaanwerk gedoen en op hoogte gebly met die jongste studies en tendense van oefening en diëte, dus was dit maklik om vir myself ’n oefenprogram te op te stel.”

’n Vriendin het in daardie stadium baie gewig verloor en wou begin oefen, maar sy was onseker waar en hoe om te begin.

“Ek het haar gehelp. Dié se vriendin het daarvan te hore gekom en ek het ingestem om haar ook te help en so het die groepie gegroei tot agt dames.”

Aan die begin het sy die oefenklasse tuis in ’n slaapkamer aangebied, maar namate die klasse groter geword het, moes sy mense begin wegwys omdat daar bloot nie meer plek was nie.

’n Jaar later het hulle in hul eie huis ingetrek, maar daar was ook nie genoeg plek om fiksheidsklasse aan te bied nie. Intussen het die navrae van voornemende kliënte toegeneem en sy het besef sy sal ’n groter perseel moet kry.

“Ek het aangeklop by ons plaaslike nagklub, The Shed, in Struisbaai – ’n lekker ruim lokaal. Hulle het ingestem en sodoende kon ek baie meer kliënte inneem en meer klasse begin aanbied by my eie oefenlokaal. Vanaf selfontwerpte fiks-en-ferm-klasse (fit and toning) wat h-intensiteit interval oefening (Hitt), krag- en kardio-oefeninge insluit asook jolates (’n kombinasie van joga, pilates, kernoefeninge en mobiliteit)”.

Mary Joan in aksie in haar oefenklas. (Foto: Verskaf)

The Shed het intussen ’n boutique-gimnasium geopen en sodoende kan hulle vir hul kliënte in Struisbaai ’n groter variasie van oefeninge bied. Kliënte kan selfs ’n lekker sportmassering, ’n proteïen-smoothy of Wings-koffie bestel.

Teen Maart 2020 was baie van Mary Joan se klasse byna vol en die besigheid ’n groot sukses, maar toe gebeur die COVID-19 epidemie en inperking word aangekondig.

“Baie van die kliënte kon van die toerusting huis toe neem en ek het vir hulle kort videos gemaak van oefeninge wat hulle tuis kon doen. Zoom was buite die kwessie, want om kinders weg en stil te hou terwyl ek oefeninge lei, was nie doenbaar nie en ná twee maande het dit ook moeilik begin raak met die videogrepe. Toe ons weer buite kon begin oefen, het ons gereeld gaan stap of die kinders het fietsgery wanneer ek draf. Ek het aanhou oefen, fiks gebly en probeer om my kliënte te motiveer om ook aan te hou.”

Toe die klasse weer kon voortgaan, was die getalle baie minder: baie was bang vir hul gesondheid. Verskillende tye en finansies het dit net nie meer toegelaat om te oefen nie en minder as die helfte van Mary Joan se kliënte het teruggekeer na die klasse toe.

Intussen het Vanessa McClelland by die span aangesluit en met haar kwalifikasie as voedingsdeskundige, kon sy ook help om eetprogramme vir die kliënte uit te werk en hulle weekliks te meet en weeg.

In Mary Joan se klasse word daar hard gewerk. (Foto: Verskaf)

“So het die klasse in reeks oefeninge (circuit training) ook begin wat Vanessa aangebied – gou moes ons weens die gewildheid daarvan nog ’n klas per week bysit. Die kinderklassies het ook afgeskop en die ouers was te bly omdat sport nog taboe by skole was. Vanessa het ons ongelukkig verlaat, maar sy sien een maal per maand kliënte.”

Mary Joan sê stadig maar seker word die klasse weer voller en hulle oefen sosiale distansiëring uit: elkeen oefen in ’n 1,5 meter-ruimte met ’n 1,5 m oop ruimte tussen hulle en die volgende persoon. Hulle het gou gewoond geraak aan die “normale” prosedures van inteken, temperatuur meet en ontsmet (ook al die toerusting wat gebruik word).

“Deur alles is ek baie trots op my kliënte. Omstandighede maak dit nie altyd maklik om die klasse by te woon nie en veral vir die mammas wat moet baie moeite doen om wel op te daag. Soms moet ’n mamma kanselleer omdat haar kind siek is en niemand het om na haar kind om te sien nie. Of haar man het haar by sy werk nodig of hulle is gebind aan hul eie werktye. Tog probeer hulle steeds alles in hul vermoë om die klasse by te woon.”

Van Mary Joan se kliënte wat al net soveel sukses behaal het. (Foto: Verskaf)

Mary Joan sê in daardie beperkte tyd word hard gewerk en nie rondgestaan nie.

“Ons oefen baie hard en sweet, maar vir daardie 45 minute is dit iets wat hulle vir hulself doen en die glimlagte en goedvoel ná die tyd, wys dit was die moeite werd.”

In die winter is dit moeilik, veral as die weer nie saamspeel nie en jy jouself vra of dit eerder lekkerder gaan wees om op te krul op die bank met ’n warm kombers voor die TV. Maar nee, hierdie dames kom na die gim toe en gee hul bes.

“Dit motiveer my baie en daar was nog nie een dag wat ek nog nie lus was om te gaan werk nie. Baie dames wat by ons aangesluit het, het fantastiese stories oor die transformasie wat hulle met baie deursettingsvermoë bereik het terwyl dit werklik nie altyd maklik was nie. Daarby is vroue mos maar emosionele eters en boonop was dit ’n moeilike jaar, dus is ek baie trots op almal wat deurgedruk het met die klasse, ’n eetplan gevolg het of meer bedag was met hul maaltye. Ons is soos ’n klein familie – almal is altyd vriendelik, gee om, motiveer en dryf mekaar aan.

“Wat die toekoms inhou vir Fit & Tone is om ’n groter verskeidenheid van klasse aan te bied om in almal smaak en behoeftes te val – die hele dorp ingesluit. Ek beoog ook om nog afrigters aan te stel en glo ons gaan in elke aspek nog groot sukses behaal.”

Mary Joan stel voor om verskillende oefeninge te kombineer soos, onder meer, Hitt, kardio, liggaamsgewig, met gewigte oefen en sport. Sorg dat jy oefening/sport doen waarvan jy hou en wat jy geniet, anders gaan jy dit nie volhou nie. Sit ’n dag of twee per week spesiaal daarvoor uit. En moenie ’n voedselgroep uitsluit nie, hou eerder ’n ogie op jou koolhidraatinname en eet eerder koolhidrate van ’n beter kwaliteit, wat meer vesel bevat en so min moontlik verfynde suiker. Patats, hawermout, bruin rys, rog en hoëveselbruinbrood is goeie keuses.

Sorg dat jy genoeg vesel en probiotika in neem. Proteïen is belangrik, maar eet verskillende tipes. Moet byvoorbeeld nie elke dag net beesvleis eet nie, maar ook hoender, eiers en veral vis wat goeie bronne is. Vette is noodsaaklik, maar natuurlik eerder dié van avokadopeer, olyfolie en neute. Vas gereeld. Drink genoeg water, dit is baie belangrik! Laat jouself toe om elke nou en dan iets lekker en “verbode” te eet. Die lewe moet ook geniet word en niemand kan ’n eetplan of leefwyse volhou as alles van hulle weggehou word nie.

My sêding is altyd: Dit gaan nie oor die afval van die wa nie, dit gaan oor hoe vinnig jy weer kan opklim!

Hier is ‘n paar oefenroetines wat Mary Joan voorstel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirk Mostert ·

Daar is 70-jarige vroue wat hierdie 40-jariges sal jaloers maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.