Natuurlike immuunversterkers – is daar so iets, of is dit fopnuus?

Foto ter illustrasie. (Foto: Vitalii Pavlyshynets/Unsplash.)

Jou immuniteit is ’n komplekse stelsel, maar as dit reg werk is dit jou verweer teen skadelike virusse en bakterieë waaraan jy daagliks blootgestel word. Dié stelsel bestaan uit selle op jou vel, in jou bloed, en in jou beenmurg en organe, waarvan die spysverteringskanaal die grootste immuunorgaan is. Wetenskaplikes wêreldwyd bestudeer die immuunstelsel reeds dekades lank, en die volle werking daarvan bly egter steeds ’n raaisel.

Daar is gelukkig talle studies gedoen oor natuurlike immuunversterkers wat die immuunstelsel ’n hupstoot gee. Ongelukkig is daar soveel bemarkingsveldtogte rondom die produkte dat dit somtyds moeilik is om die kaf van die koring te skei.

Hier is lys van betroubare natuurlike produkte wat die wetenskap sal ondersteun en wat jou immuunstelsel sal versterk.

Borrie. (Foto: Stevepb/Pixabay.)

Borrie

Borrie is bekend as ’n superkos. Dié geel poeier is ’n gunsteling in Asiese geregte, en word reeds vir duisende jare in Indië gebruik om respiratoriese siektes mee te behandel. Dit is nie borrie wat gesondheidsvoordele inhou nie, maar eerder ’n aktiewe bestanddeel kurkumien in die spesery wat goeie antioksidant en anti-inflammatoriese eienskappe het. Kurkumien is volgens prof. Manohar Garg van die universiteit van Newcastle in Australië een van die kragtigste middele om inflammasie in die liggaam mee te beveg.

Dit is egter nie genoeg om ’n knippie borrie in jou geregte by te voeg nie. Volgens hom het jy ten minste ’n groot eetlepel nodig om ’n verskil te maak. Ongelukkig word kurkumien nie maklik in jou liggaam geabsorbeer nie omdat dit vinnig deur jou spysverteringskanaal beweeg. Daarom is dit volgens hom belangrik om dit met vet of swartpeper of eerder saam met vloeistof in te neem. Moet dit nie vir lank kook nie.

Vitamienes en minerale. (Foto: Kayla Maurais/Unsplash.)

Minerale en vitamiene

Sink, selenium en yster en ’n verskeidenheid van vitamiene soos A, C, E, B6 en B12 is belangrike voedingstowwe waarvan die liggaam genoeg van moet hê om die immuunstelsel sy werk te laat doen. Sink is egter een van die minerale wat ’n groot rol speel as dit kom by die beskerming teen virusse. Heelwat navorsing is al gedoen oor sink se invloed in die bekamping van virusse.

Volgens die Mayo-kliniek, ’n navorsingsentrum in die VSA, het jou immuunstelsel ’n gesonde hoeveelheid sink nodig om te funksioneer. As jy ’n verskeidenheid van groete, vrugte en vleis eet behoort jy genoeg sink in te neem. Sink voor kom in voedselsoorte soos hoender, rooivleis en sommige ontbytpapsoorte wat dit bevoeg. Oesters bevat die meeste sink per porsie. Suiwelprodukte, pampoensade en amandels is ook bronne van sink.

Mense wat ’n tekort aan die mineraal het, baat veral by sinkaanvullings. Heelwat navorsing het bewys dat sinkaanvullings die duur van ’n verkoue kan verkort mits jy dit by die aanvang van verkouesimptome dadelik begin drink. Die groot nut van sink lê daarin dat dit verhoed dat die virus wat verkoue veroorsaak vermenigvuldig. Volgens die Europese Journal of Immunity Studies het jou liggaam sink nodig om T-selle te aktiveer. T-selle help die liggaam met die beheer en regulering van immuniteitsreaksies en val geïnfekteerde of kankerselle aan. ’n Sinktekort kan jou immuunstelsel drasties verswak.

’n Navorsingsverslag gepubliseer in ʼn internasionale vaktydskrif vir molekulêre medisyne wys daarop dat wanneer sink met die Covid-19-virus in die laboratorium in kontak kom, dit ’n ensiem verantwoordelik vir die virale aktiwiteite van die virus kan inhibeer. Dit is egter volgens navorsers net in ’n kliniese studie en is nie noodwendig ’n aanduiding van wat sink doen as ’n mens met die virus besmet is nie.

Te veel sink kan egter jou gesondheid benadeel en jou liggaam verhoed om koper op te neem. Dit is dus belangrik om by die voorgestelde daaglikse dosering van 8 mg vir vroue en 11 mg vir mans te bly, en ook seker te maak jy gebruik die aanvullings soos aangedui. Jou liggaam stoor nie sink nie, so jy moet daagliks genoeg daarvan inneem.

Foto: Pixabay

Eet meer vleis

’n Goeie bron van proteïen is van kardinale belang om jou immuunstelsel optimaal te laat funksioneer. As die liggaam nie genoeg aminosure inneem nie, kan dit die immuunstelsel se vermoë om infeksies te beveg, inperk – dit volgens ’n studie wat in 2013 in ʼn vaktydskrif vir aansteeklike siektes gepubliseer is. Muise wat op ’n dieet van 2% proteïen was, was baie slegter daaraan toe toe hulle in kontak gekom het met die griepvirus in vergelyking met muise waarvan die dieet 18% proteïen bevat het. Toe die 2% verhoog is, het hierdie groep muise dadelik beter gevaar teen die griepvirus.

Probiotika

Die spysverteringskanaal is die grootste immuunorgaan. Dit is van kardinale belang dat dié kanaal genoeg lewende en goeie bakterieë bevat wat ons help beskerm teen virusse. Navorsing bewys dat mense wat probiotika inneem minder geneig is tot verkoue of griep as mense wat dit nie geneem het nie. Probiotika is nie net beskikbaar in aanvullings nie, maar kom natuurlik voor in enige gefermenteerde voedsel soos jogurt, suurkool, miso en kombucha.

(Foto: Kelly Sikkema/Unsplash.)

Essensiële olies

Navorsing dui daarop dat sommige essensiële olies veral soos origanum, bloekom en kruisement griepsimptome help verlig. Daar is navorsing wat daarop dui op dat origanum, veral in ’n olievorm, uitstekende natuurlike antibiotika-eienskappe het, maar daar moet nog meer navorsing hieroor gedoen word om genoeg bewyse hiervoor in te samel.

Bloekomolie het kragtige antivirale en anti-inflammatoriese eienskappe, en is een van die beste natuurlike immuunversterkers wat reeds jare lank ingespan word om respiratoriese probleme te behandel. Dit kan ’n lang lys van siektes behandel soos waterpokkies, masels en verkoue. In die 19de eeu het hospitale in Engeland bloekomolie gebruik om kateters skoon te maak. Hedendaagse navorsing toon hulle het die regte ding gedoen. Onlangse studies in Serwië het bewyse gevind wat dié praktyk te ondersteun, en meen bloekom gekombineer met antibiotika kan lei tot ʼn nuwe strategie om sekere infeksies mee te behandel.

Knoffel (Foto: Pixabay)

Knoffel

Knoffel sorg nie net vir ’n geurige sop nie, maar word ook vir eeue heen gebruik vir die legio gesondheidsvoordele wat dié beskeie bolplant bied. Dié bolplant is familie van uie en preie en is inheems in Asië.

Knoffel is al jare lank bekend vir sy antibakteriële, antivirale en swamdodende eienskappe. Een navorsingstusie het gevind dat mense wat daagliks ’n knoffelaanvulling vir drie maande geneem het, minder gevalle van griep gehad het in vergelyking met ’n kontrolegroep daarsonder.

(Foto: Sentot Setyasiswanto/Unsplash.)

Gemmer

Mense gebruik al eeue lank gemmer vir gesondheidsdoeleindes en enige goeie griepdoepa bevat gewoonlik gemmer. Die wetenskap stem saam, aangesien verskeie studies die medisinale voordele van gemmer bewys. Nie net help gemmer om die simptome van verkoue, veral ’n seer keel, te verlig nie, maar studies toon ook verder dat gemmer ’n rol speel in die voorkoming van verkoue en griep.

’n Laboratoriumstudie wat in 2011 gedoen is toon gemmer kan selfs doeltreffendder wees as sekere antibiotika, as dit kom by bakterieë wat keelseer veroorsaak. ’n Meer onlangse studie toon dat die antibakteriële eienskappe van gemmer uitstekend is.

Navorsers het ook bevind dat gemmer goeie antivirale eienskappe het en dat dit doeltreffend ingespan kan word om pyn en koors te behandel. Vars gemmer kan veral voordelig wees in respiratoriese siektes. Let wel, droë gemmer het nie dieselfde antivirale eienskappe as vars gemmer nie. Daar is egter nog geen bewyse dat gemmer mense teen Covid-19 kan beskerm nie. Gooi vars gemmer by warm water en suurlemoensap, kou aan ’n rou stuk gemmer of voeg vars gemmer in van jou gunsteling-resepte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Baas van die plaas ·

Groente en vrugte wat inflammasie teenwerk, veral appels, pere, suurlemoene en wortels, kan ook by die lys gevoeg word.

Chris ·

Dit bestaan wel. Ek praat van ondervinding. Het dit gesien en beleef. Die regte kombinasies van natuurlike produkte werk beslis. Spreek ‘n kenner van die produkte, doen navorsing en vergewis jouself van die oorsprong van die produkte. Daar is soos in elke bedryf jakkalse en muishonde.

Jax ·

My pel se kind het n orgaan-oorplanting gehad en neem medikasie om nie sy immuunstelsel op te bou nie. Hy is gesê om geen pomelo’s te eet nie. So toe reken ek, as dit die geval is, gaan ek my volprop met pomelo’s – ek is blakend gesond en die griep-gogga bly weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.