Nie almal voel feestelik in die feesgety nie

(Foto: Nik Shuliahin/Unsplash)

“ ‘Tis The Season To Be Jolly!”, klink dit vrolik wanneer ons in die feeseisoen in die winkelsentrums gaan inkopies doen. Tog is daar talle mense van alle ouderdomme, en verskillende groepe in die samelewing, vir wie dit allermins ’n jolige tyd is.

Families kom bymekaar en kos word gemaak, maar derduisende mense wat nie families het nie, staar in stilte in hul verbeelding na die feesgangers – vir hulle is dit maar ’n donker ervaring.

Hoe 2020 se Kersfees gaan lyk, weet ons nie. Maar veral in sekere dele van ons land gaan dit voorwaar moeiliker wees vir diegene wat alleen of eensaam is.

Vir lank was die aanname dat selfdoodpogings rondom Kersdag ’n toename toon, maar dit het duideliker geword dat dit meer tydens die Nuwejaarstyd gebeur – en wat in hierdie postpandemie-era gaan gebeur, is moelik om te voorspel. Wie weet, dalk sien mense juis iets positiefs daarin om hierdie jaar agter te laat?

Werkloosheid, finansiële druk, eensaamheid en depressie speel ’n bepalende rol in mense se wegkom-van-dit-alles-gedagtes. Maar selfdood het altyd ’n lang (selfs ’n lewenslange) aanloop van ’n hele spektrum van faktore wat emosionele en/of fisieke mishandeling, sielkundige probleme soos verwerping of verlating, en natuurlik geestesongesteldheid soos depressie en angsversteurings, kan insluit.

Gevolglik kan die feesseisoen die sneller wees. Maatskaplike werkers by die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos, ’n geregistreerde kinderbeskermingsorganisasie, kry met hierdie probleme te doen en doen aan die hand dat persone geassesseer word en dan vir die nodige intervensie gesien word.

“Sommige mense kan baat vind daarby om nuwe kognitiewe tegnieke aan te leer om stres te hanteer. Ander het dalk kliniese depressie of angsversteurings en benodig mediese hulp. Maatskaplike werkers sien hierdie tyd van die jaar groter getalle mense wat hulp benodig – nie net in emosionele terme nie, maar ook diegene wat op straat woon en toenemend hulpeloos voel. Ekstreme hulpeloosheid kan aanleiding gee tot selfdoodpogings en kan voorkom word as intervensie betyds plaasvind,”sê Henda van der Merwe, direkteur van die organisasie.

Cizelle Louw, ’n kliniese sielkundige in ’n privaat praktyk beklemtoon dat enige persoon wat selfdoodgedagtes het of daarvan praat, ernstig opgeneem moet word. “Moet nooit die ernstigheid van iemand wat daarvan praat om sy/haar lewe te neem, minag nie. Statistieke het getoon dat daar ’n werklike gevaar is dat so ’n persoon dit wel sal doen, aldus die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsstoornisgroep (Sadag). Insgelyks moet ’n persoon wat dit wel probeer het, die regte behandeling kry – weer eens wys statistieke dat so iemand dit weer sal probeer.

“Ons is deesdae bevoorreg om korttermynterapie te kan toepas, soos Brainworking Recursive Therapy en Solution Focused Brief Therapy,” verduidelik Louw.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eend Bessinger ·

Depressie in vakansietyd is ‘n groot probleem. Kry hulp so gou as wat jy kan voor dit tot verdere probleme lei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.