Niere is vuisgrootte verbete vegters

(Foto: iStock)

Hulle is dalk net vuisgrootte, maar die niere is die fantastiese filters wat verseker dat afvalstowwe uit ons bloed verwyder en uitgeskei word. Dié suiweringsaanleg is verantwoordelik vir die filtrering van 140 liter vloeistof per dag en bevat elkeen 1 miljoen nefrone wat ons bloed filtreer. Elke nier is ongeveer 10 cm lank en 6 cm breed en jou linkernier is effens groter as jou regternier.

Ons niere:

  • Reguleer die liggaam se pH-vlakke deur die herabsorpsie van bikarbonaat uit die urine en stel waterstof in die urine vry;
  • reguleer bloeddruk, wat afhang van die hoeveelheid natriumchloried wat uit die bloed geabsorbeer word;
  • skei hormone af soos renien (wat bloeddruk verhoog) en eritropoiëtien (wat die vorming van rooibloedselle in die beenmurg stimuleer); en
  • neem vitamien D op (wat kalsium-absorpsie beïnvloed).

Kyk uit vir dié simptome

Selfs in die geval van ernstige niersiektes kan ’n pasiënt soms geen simptome ondervind nie. Raadpleeg jou dokter indien jy enige van die volgende simptome ondervind:

  • Hoë bloeddruk en voortdurende hoofpyn
  • Kortasemigheid
  • Geswolle ledemate
  • Swakheid
  • Gebrekkige eetlus
  • Slapeloosheid
  • Liggaamspyn
  • Gebrekkige denkprosesse.

Wat is nierstene?

Nierstene is nie net een van die seerste dinge wat iemand kan tref nie, maar ook een van die algemeenste urienwegprobleme. Dit ontstaan wanneer die konsentrasie chemiese stowwe in die urine te hoog is. ’n Kristalmassa vorm dan in die nier of beweeg tot in die urienweg.

Kleiner nierstene kan soms in die urine uitgeskei word sonder dat ’n mens daarvan bewus is, maar groter nierstene kan lei tot pynlike urinering, bloed in die urine of ’n skerp pyn in die lae rug.

Die behandeling van nierstene hang af van die grootte, ligging en samestelling daarvan. Sommige nierstene word met ultrasoniese klankgolwe in kleiner stukkies opgebreek wat dan in die urine uitgeskei kan word. Ander word deur ’n uretroskopie opgebreek, waar ’n dun buis onder verdowing in die ureter geplaas word om die niersteen te verwyder of met ’n laserstraal in kleiner deeltjies opgebreek.

In sommige gevalle moet ’n uroloog ’n nefrolitotomie uitvoer. Tydens dié prosedure word ’n klein snytjie onder verdowing in die pasiënt se rug gemaak om die niersteen met behulp van ’n nefroskoop te verwyder.

Tien wenke om jou niere gesond te hou

  • Maak seker jy handhaaf ’n konstante bloeddruk op die vlak wat jou dokter voorgestel het. Sodoende kan jy nierversaking vertraag of voorkom.
  • Beheer jou bloedglukosevlak indien jy diabetes het.
  • Verseker dat jou cholesterolvlak binne die gesonde teikenvlak bly.
  • Maak seker jy gebruik jou medikasie presies soos deur jou dokter voorgeskryf. (Sekere bloeddrukmedikasie kan help om jou niere te beskerm.)
  • Eet minder sout. Probeer om minder as 1 500 mg natrium per dag in te neem.
  • Eet kos wat gesond is vir jou hart, soos groente, vrugte, volgraankos en laevetsuiwelprodukte.
  • Beperk jou alkoholinname en moenie rook nie.
  • Kry gereeld oefening.
  • Verloor gewig indien jy oorgewig is.
  • Probeer elke dag genoeg water drink om nierstene te voorkom.

Skenkings tot stilstand gedwing

Covid-19 het orgaanskenking in Suid-Afrika in sy spore gestuit, sê die Suid-Afrikaanse Orgaanskenkerstigting.

“Veral lewende skenkings (soos ’n persoon wat een van sy niere vir ’n familielid in dieselfde bloedgroep skenk), wat 50% van alle oorplantings verteenwoordig, is grootliks opgeskort. Dit het ook ongelooflik moeilik geword vir oorplanting van oorlede skenkers af, omdat die gesondheidsektor oorlaai en geriewe uiters beperk is.

“Oorplantings in geheel het met 75% afgeneem. Baie pasiënte wat vir organe gewag het, is oorlede, terwyl die waglys vir mense wat op organe wag, drasties langer geword het,” het die stigting gesê.

Jy kan ’n nier skenk, omdat ’n mens maklik met net een gesonde nier oor die weg kan kom. Die skenker se oorblywende nier pas gou by ’n hoër werklas aan en verdubbel sy funksie. Studies toon dat die verwydering van ’n nier meestal geen probleme vir die skenker oplewer nie, selfs oor dekades.

Hoewel ontvangers van ’n nier lewenslank medikasie moet gebruik om te keer dat die nier verwerp word, funksioneer 90% van alle oorgeplante niere ná ’n jaar suksesvol. Die wagtydperk vir ’n skenkernier kan tot 12 jaar wees.

  • Die Suid-Afrikaanse Orgaanskenkerstigting het ’n dringende beroep op mense gedoen om as skenkers te registreer. Besoek hul webwerf by odf.org.za of skakel 0800 22 66 11.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.