Oefening met ʼn masker: Dít is wat jy moet weet

Twee navorsers by die Universiteit van Pretoria (UP) het onlangs wenke gegee vir aktiewe mense wat hulle begin regskud vir wanneer die gimnasiums weer oopmaak en alle sport toegelaat word.

Prof. Christa Janse van Rensburg, hoof van sportmedisyne in die Departement Gesondheidswetenskappe, en dr. Jessica Hamuy Blanco het hul wenke in ’n blog-plasing, wat sedertdien in die New York Times, die Trail Running-tydskrif én die Britse joernaal vir sportmedisyne opgeneem is, saamgevat.

Hulle sê dit is die beste om jou masker aan te hou tydens enige soort oefeninge, al stel dit sy eie reeks unieke uitdagings.

Van Rensburg, wat self ʼn groot sportentoesias is, sê al hou jy daarvan om aktief te wees, moet jy ook ʼn verantwoordelike burger wees wat die verspreiding van die virus help beperk.

Hulle verduidelik die rede hoekom maskers selfs tydens oefeninge gedra moet word, is om “bronbeheer” toe te pas.

“Dit keer dat die druppels wat deur die maskerdraer geproduseer word verder versprei deur dit af te sper. Dit is baie makliker om groot druppels met ʼn masker te keer sodra dit by die persoon se mond uitkom, as wat dit is om kleiner druppels te keer wanneer dit reeds begin versprei het,” sê Van Niekerk.

Die twee kollegas bied wenke vir wanneer jy met ʼn masker aan oefeninge of sport doen.

  • Om te voorkom dat jou masker ʼn risiko vir infeksie word, moet jy twee maskers gebruik ingeval een nat word tydens oefening.
  • Sosiale afstand moet ook ten alle tye gehandhaaf word tydens oefeninge. Maak seker jy het altyd handreiniger byderhand om te gebruik.
  • Iemand wat ʼn hoë koors het, moet glad nie oefeninge doen nie, veral nie met ʼn masker op nie.

Dr. Blanco verduidelik dat die kombinasie van die siekte self en die uitwerking van masker dra komplikasies kan veroorsaak.

“Wanneer die persoon siek is en ʼn koors het, kan die risiko van ernstige komplikasies toeneem sodra hy of sy oefeninge doen. Komplikasies kan insluit die afbreek van die skeletspier, elektrolietafwyking, hiper-responsiewe lugweë, veranderende hartritmes en ʼn verhoogde risiko vir skielike hartstilstand,” sê sy.

  • Weens asemhaling wat moeiliker raak gedurende oefeninge is die risiko van lugdruppelvloeiing en die verspreiding van die virusbesmette druppels groter.
  • Moenie mediese gesigmaskers dra tydens oefeninge nie, spaar dit eerder vir gesondheidswerkers en dra jou lapmasker of buff.
  • Die beperking van lugvloei deur maskers kan jou uitsette gedurende weerstandsoefeninge verminder, so maak seker jy ooreis nie jouself wanneer jy met ʼn masker aan oefen nie.
  • Mense met bestaande hart- en longkwale moet laerintensiteit-oefeninge doen omdat die masker dit moeiliker maak om asem te haal.
  • Maskers met twee lae is voldoende wanneer jy oefeninge doen.
  • Maak seker jou mond en neus is bedek reeds voordat jy die huis verlaat.
  • Wanneer jy jou masker afhaal, let daarop om nie aan die voorkant, en veral die binnekant, te raak nie. Vermy kontak met enige oppervlakke wat moontlik besmette druppels kan bevat. Haal jou masker eerder van die agterkant van jou kop af, gooi dit dadelik in die was en was jou hande goed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chantel

Ek sal graag hulle opinie wil he oor die koolstofdiksiet wat jy dan inasem? Dis GLAD nie goed vir jou nie, hoe dan gemaak?

R

RUBBISH! Ek is een van die wat graag oefen. Die polisie is al te vinnig om kommentaar te gee en boetes te dreig mee. So moet ek hardloop met ‘n masker? Met ander woorde ek dwing myself om Hipoxia te kry, my koolstofdioksied tot so mate te verhoog dat ek kan flou word, my hart totaal te ooreis aangesien die koolstofdioksied in my bloed meer is as die suurstof, my longe in oormaat te laat werk omdat dit stoei om by te hou met my hart se abnormale tempo en om te probeer meer suurstof in my lyf te kry,… Lees meer »