Ondersteun ʼn geliefde met alzheimersiekte só

bejaardes-gesondheid-sorg-aanraak

Foto: Matthias Zomer/Pexels.com

Ongeveer 50 miljoen mense wêreldwyd leef met alzheimersiekte. Meer as die helfte van hierdie gevalle leef in lande waar gesondheidsorg tekort skiet – meestal in ontwikkelende lande – en die voorspelling is dat dit tot hoër as 70% kan styg teen 2050. In lande met goeie mediese ingryping waar lewenstyle die risikofaktore beperk, het die siekte begin afneem.

Die Ons Tuis–organisasie, met verskeie fasiliteite vir bejaardes onder hul vaandel, bied verblyf vir ouer en verswakte persone en spesialiseer in die versorging van persone met alzheimersiekte en ander seniele demensies.

“Dit is uiters belangrik dat mense bewus is van die simptome van alzheimersiekte, sodat dit hulle kan help om hulle geliefdes se gedrag beter te bestuur,” sê matrone Jennifer Wesson van die Ons Tuis‑organisasie.

“Alzheimersiekte is ʼn soort demensie wat lei tot probleme met geheue, denke en gedrag. Dit is die algemeenste vorm van demensie en is verantwoordelik vir 60% tot 80% van alle gevalle van demensie.

“Dié siekte word mettertyd erger en kom uiteindelik tot ’n punt waar iemand nie meer daaglikse take kan verrig nie. In die begin is geheueprobleme min, maar namate die siekte vorder, raak pasiënte minder bewus van hul omgewing en kan hulle nie meer ’n gesprek voer nie.”

Die simptome van alzheimersiekte:

  • Geheueverlies;
  • Moeilik om te beplan of probleme op te los;
  • Verwarring met tyd en plek;
  • Verloor goed en kan nie onthou waar en hoe hulle dit verloor het nie; en
  • Persoonlikheid en gemoedstoestand verander.

“Daar is nie enige medisyne of behandeling om ’n persoon met alzheimersiekte te genees nie, maar daar is sekere behandeling wat die vordering van die siekte kan vertraag.

“Geliefdes en versorgers kan ook ondersteuning aan iemand met alzheimersiekte bied, veral wanneer die siekte nog in die vroeë stadiums is,” sê Wesson.

Hoe om iemand met alzheimersiekte te ondersteun:

  • Hou ’n daaglikse roetine wat help om verwarring te voorkom;
  • Moenie oorstimuleer nie en hou dinge eenvoudig;
  • Probeer altyd om die persoon veilig en gemaklik te laat voel; en
  • Moenie skreeu, stry of uit frustrasie redeneer nie.

“Alhoewel dit moontlik is om in die vroeë stadiums van die siekte na ’n alzheimer-pasiënt om te sien, raak dit gewoonlik moeiliker om daarmee vol te hou. Alzheimer-pasiënte hou dikwels vir hulself ’n gevaar in omdat hulle vergeet van basiese veiligheidsmaatreëls. Wanneer die siekte hierdie fase bereik, is dit tyd om ’n versorgingsfasiliteit te oorweeg wat die pasiënt se behoeftes kan monitor en bestuur,” voeg Wesson by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.