Ons bejaardes en Covid-19

(Argieffoto: pixabay)

Deur Maretha Botes

Bejaardes is die groep mense wie se gesondheid die meeste in gevaar is weens die Covid-19-pandemie. Hulle is egter ook dié mense wie se geestesgesondheid die ergste onder die langdurige “sosiale afstandhouding” ly.

Kenners sê dié groep mense het ekstra sorg en gerusstelling in hierdie uitdagende tyd nodig.

Albertha Oosthuizen onthou hoe sy haar ma (95) vir oulaas, voor die staat van inperking, in haar private kamer in die aftreeoord waar sy woon, besoek het. ’n Vrag toiletware en snoepgoed is in haar kassie weggepak terwyl Albertha aan haar ma verduidelik het van die verskriklike virus.

“Ek het by haar op die bed gaan sit, haar hand styf vas gehou en oor en oor verduidelik. ‘Onthou, mamma, ons is baie lief vir mamma, maar ons mag nou vir baie lank nie kom kuier nie.’ Haar blou oë het onseker en vraend na my gestaar. Toe ek uiteindelik finaal groet en vir oulaas my refrein herhaal, vra sy doodonskuldig: ‘Hoekom dan nie?’”

Haar ma is aan die beginfase van vaskulêre dimensie, en hoewel haar langtermyngeheue nog baie goed is, is haar korttermyngeheue verlore. Die hartseer dilemma: Albertha se ma kan nie onlangse gebeure of boodskappe onthou nie.

“Sy vergeet wat ek nou net herhaaldelik aan haar verduidelik het van die Covid-19-pandemie…” sê Albertha.

Albertha, self ’n maatskaplike werker by die Roodepoort Sentrum vir Bejaardes (RSVB) – ’n ander oord as dié waar haar ma woon – besef bitter goed wat die gevolge van inperking op bejaardes is.

“Hierdie inperking het ingrypende gevolge. ’n Persoon van 95 jaar leef absoluut op genadetyd. Hoewel sy liggaamlik goed versorg word, weet ek dat sy emosioneel wegkwyn. Sy sit daagliks alleen in haar kamertjie met slegs ’n TV as geselskap. Etes word ook in die kamer bedien. Inwoners mag ook nie onderling kuier nie.

“Die eensaamheid moet onbeskryflik wees! Watter gevoelens ervaar my ma? Verlange, verwerping, vrees, angs, woede, hartseer, frustrasie? Waarskynlik al bogenoemde.”

Die reëls by die oord waar haar ma woon, stipuleer streng dat geen besoekers toegelaat word nie. Selfs op die dag van haar ma se 95ste verjaarsdag was daar geen manier waarop Albertha haar te siene kon kry nie. Haar pleitende versoek om deur die venster vir haar ma te sing, is afgekeur. Hul kontak word dus tot telefoonoproepe beperk.

“Omdat sy op 1 April sou skuif na ’n ander sentrum vir bejaardes, is haar landlyn in Maart gekanselleer. Nou is ons kontak beperk tot telefoonoproepe met die betrokke suster aan diens. (Daar is ongeveer ses susters wat roteer.)

“My ma is liggaamlik té verswak om na die landlyntelefoon te gaan om te kan gesels. Groeteboodskappe word dus daagliks mondelings via die suster aan my ma gestuur. Wanneer die verlange te groot word, vra ek die suster of sy sal omgee dat ek my ma op haar selfoon skakel. Soms is die betrokke suster se selfoon al oud, en kan my ma nie so goed hoor nie. Kommunikasie is dan onmoontlik. Ons het agtergekom dat my ma net met twee spesifieke susters se selfone kan kommunikeer. Ons het toe lugtyd vir daardie susters gekoop sodat ons met my ma kan gesels wanneer hulle aan diens is. Video-oproepe werk nie, want daar is hanteringsprobleme tussen die susters en my ma. Wanneer ons vra, stuur die suster egter ’n foto van my ma per WhatsApp. So ’n foto gee darem so ietwat van ’n gerusstelling dat dit darem nog fisiek goed gaan met haar.

“Radeloos van verlange en bekommernis, het ek toe maar vir haar ’n outydse brief geskryf en dit saam met ’n bos blomme by die hek afgelewer. In die brief het ek so goed as moontlik aan my ma verduidelik van die pandemie en hoekom ons haar nie mag besoek nie. Weens haar korttermyngeheue is die susters gevra om asseblief elke dag vir haar die brief te lees. Hopelik kan my ma op so ’n wyse daagliks ons oneindige liefde vir haar besef. Maar hierdie brief is maar ’n skrale troos. Hoe weet ons of die brief wel gereeld gelees word?”

Marieta Krynauw, maatskaplike werker by Country Life-aftreeoord in Benoni, sê die impak van afsondering op bejaardes is erg, maar die liefdevolle familie en versorgers wat daagliks met hierdie emosies gekonfronteer word, word net so erg geraak. Sy sê aanvanklik het die inperking “’n groot onsekerheid” tot gevolg gehad. Daarmee saam ook ’n bietjie opwinding, want niemand was nog ooit blootgestel aan sulke omstandighede nie. Namate die tyd verloop het, het die ware impak daarvan egter ontstellend waarneembaar geword.

“Mense vereensaam. Alle etes, kuiers en voorbereide kos moet by die hek afgelaai word. Ek was toevallig een dag by die hek toe sekuriteit met die mooiste gedekte skinkbord – met selfs met ’n ou blommetjie daarop en netjies gerangskikte eetgoed in twee bordjies – daar aankom. Die hele skinkbord het gestraal van ‘Ons lief julle’, maar dieselfde skinkbord sou in ander omstandighede persoonlik oorhandig word en die kind/suster/vriendin sou kon sien as daar dalk fisiek fout by die bejaarde is. Daai persoonlike in mekaar se gesigte kyk, die lag, die pyn… dít alles is verlore,” sê Marieta.

bejaardes-gesondheid-sorg-aanraak

Foto: Matthias Zomer/Pexels.com

Emosies van bejaardes in afsondering

Albertha het waargeneem dat die meeste inwoners aanvanklik onseker, verward en selfs kwaad gevoel het omdat hulle nie werklik die omvang van die pandemie besef en begryp het nie.

Die groot mediadekking, kommunikasie deur RSVB self en die drastiese stappe van inperking, het hulle laat besef dat hulle baie kwesbaar is vir die virus. Dit maak hulle bang en soms angstig. Hulle ontwikkel ’n vrees vir die onbekende. Slapeloosheid en ’n verandering van eetpatroon is by sommiges opgemerk.

Party inwoners is so bang vir die virus en die gepaardgaande selfisolasie, dat hulle verkies om nie hul roetine- mediese afsprake na te kom nie. Dit kan langtermyn gevolge inhou ten opsigte van hul gesondheid en dit laat hulle met addisionele stres.

Die fases van verlies, soos by ’n gewone rouproses, is ook by sommige inwoners gediagnoseer, want hulle rou oor die verlies van normaliteit. Dié fases is die volgende (die spesifieke volgorde kan verander): Ontkenning, woede, onderhandeling, wanhoop, en uiteindelik aanvaarding.

Daar is tydens individuele gesprekke bepaal wat die emosie of gevoel is wat hulle ervaar en hoekom dit ervaar word. Die inwoner is dan gehelp om eerder op iets positiefs te fokus.        

Hulle raak ook bekommerd oor hul familie en hul familie se gesondheid. Hulle ervaar spanning oor hoe lank die virus hul familiekuiers gaan affekteer. Die streng inperking het aanvanklik woede, irritasie, frustrasie en hartseer ontlok.

Die isolasie kan lei tot ’n gevoel van alleenheid. Die gesamentlike etes het bietjie verligting met hierdie gevoel gebring. Die gebrek aan sosiale integrasie omdat daar geen sosiale verkeer onderling toegelaat word nie, lei tot ’n gevoel van eensaamheid en nuttelose bestaan.

Die verlies van hul roetine dra ook by tot ’n gevoel van verveeldheid. Die gesukkel om onvoldoende voorrade aan te vul, lei weer tot frustrasie en soms woede. Die afwesigheid van kontak met hul familie word as eensaamheid ervaar. (Veral vir die inwoners wat nie tegnies bekwaam is of kontak via sosiale media het nie).

Party neig na depressie en vind dit moeilik om geluk te ervaar uit die alledaagse gebeur. Die feit dat hulle nie begrafnisse kan bywoon nie, veroorsaak dat hulle nie ordentlike “closure” kan kry nie. Baie inwoners is bekommerd oor hul kinders se finansies omdat hulle afhanklik is van hul kinders wat die verblyf betaal. Dit bring geweldige stres en angs na vore. Van die inwoners word erg beproef deurdat hul geliefdes in hospitale is. Die hartseer en bekommernis en gevoel van magteloosheid omdat hulle nie besoek kan word nie, is onbeskryflik.

bejaardes

Argieffoto: Psychone.net

Wenke om dié tyd draagliker te maak vir bejaardes

Indien jy ver van die bejaarde af woon:

  • Skakel gereeld indien die bejaarde ’n selfoon het. Stuur foto’s en doen video-oproepe.
  • Indien die bejaarde nie ’n selfoon het nie, skakel die betrokke sentrum se eenheidsuster. Kry die selfoonnommer wat jy kan gebruik vir kontak.
  • Hou gesprekke sover moontlik opgewek en vrolik.
  • Stel die bejaarde gerus oor die familie se welstand.
  • Stuur e-posse aan die bejaarde indien die bejaarde nog rekenaarvaardig is.
  • Stuur ’n e-pos aan die maatskaplike werker of eenheidsuster en vra dat dit aan die bejaarde voorgelees word.
  • Maak seker dat die bejaarde genoeg warm klere en komberse het. Indien nie, reël vir aflewering by die hek.
  • Indien die bejaarde nog in ’n huis of woonstel woon, maak seker dat daar iemand is wat hul voorrade kan aanvul.

Indien jy naby die bejaarde woon:

Doen alles soos voorgestel aan die persoon wat ver woon.

  • Lewer geskenkpakke met snoepgoed, lyfbederfprodukte en tydskrifte by die hek af.
  • Lewer blomme of ’n plantjie met ’n briefie by die hek af.
  • Skakel en vra om ’n vensterbesoek te organiseer indien moontlik.
  • Wanneer die bejaarde verjaar, lewer ’n geskenk en koek af by die hek sodat daar met teetyd partytjie gehou kan word.
  • Indien die bejaarde in ’n huis of woonstel woon, lewer kruideniersware af by die hek.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae