Oormatige sweet lê miljoene lam

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: iStock)

Februarie is tradisioneel die maand wat die kwik die hoogste in Suid-Afrika styg, maar Suid-Afrikaners beleef reeds sedert November verlede jaar rekordhoë temperature. 2023 was die warmste jaar ooit wêreldwyd sedert daar in 1850 met rekordhouding begin is, en die afgelope dekade was die warmste in die geskiedenis.

Weerkenners is dit eens dat ons die gevaarlike 1,5 °C-kerf nader in gemiddelde jaarlikse temperatuurstygings en dat uiterste klimaatgebeure (soos hittegolwe) met rasse skrede in intensiteit en frekwensie gaan toeneem. Die gapende kraaie is veral slegte nuus vir die miljoene mense wat met oormatige, onbeheerbare, chroniese sweet, ook bekend as hiperhidrose, sukkel.

Volgens die Internasionale Hiperhidrosevereniging is dié ongemaklike en dikwels vernederende toestand allermins ’n rare verskynsel, met nagenoeg 385 miljoen mense wêreldwyd wat hieraan ly. Dit is bykans 5% van die wêreldbevolking. Byna 9% van mense tussen 18 en 39 jaar ly hieraan en ten spyte van hoe algemeen hiperhidrose is (dit is meer algemeen as outisme en psoriase), word ongeveer 27% van gevalle nooit gediagnoseer nie.

Volgens die Hiperhidrosevereniging word dié mediese toestand verkeerdelik toegeskryf aan veranderende hormoonvlakke of ’n fase wat mettertyd sal oorwaai. Omdat die gemiddelde aanvangsouderdom van hiperhidrose 12 jaar is, glo talle dat dit ná adolessensie sal wyk. Navorsing toon egter dat 88% van mense met hiperhidrose se sweetprobleem óf dieselfde bly óf vererger indien dit nie behandel word nie.

Berg, nie ’n molshoop

Mense met hiperhidrose sweet vier tot vyf keer meer as wat as normaal beskou word en nodig is om liggaamstemperatuur te beheer, of as ’n reaksie op stres, oefening of hitte. Die enorme hoeveelheid sweet deurdrenk hul klere en selfs skoene.

Benewens ’n glygevaar en om voorwerpe te laat val, is die uitwerking op dié mense se loopbane, sosiale interaksie en verhoudings verwoestend. Hulle sal openbare plekke asook handdrukke en ander vorme van aanraking vermy, en bykans een uit elke drie mense met hiperhidrose ly aan depressie en angs.

Altesaam 20% van mense met hiperhidrose sukkel om rekenaars, selfone en raakskerms te gebruik.

Die fisieke impak is ewe verreikend. Hiperhidroselyers het ’n 300% groter risiko vir velinfeksies. Die voorkoms van ekseem (atopiese dermatitis) verhoog drasties, 60% ervaar ’n negatiewe impak op hul algemene gesondheid en 40% ervaar ernstige fisieke ongemak. Hoewel toestande soos aknee en psoriase ’n individu se lewensgehalte versleg, het navorsing getoon dat hiperhidrose ’n selfs groter negatiewe uitwerking op lewensgehalte het.

Soorte en oorsake

  • Primêre hiperhidrose: Dit beïnvloed spesifieke areas van die liggaam, soos die handpalms, voetsole, oksels, kopvel en gesig. Die oorsaak van primêre hiperhidrose is onbekend, maar dit is oorerflik.
  • Sekondêre hiperhidrose: Anders as primêre hiperhidrose, word sekondêre hiperhidrose dikwels deur ’n onderliggende mediese toestand of medikasie veroorsaak. Toestande soos menopouse, hipertireose, diabetes, alkoholisme, vetsug en infeksie kan oormatige sweet veroorsaak. Sekere medikasie, insluitend sommige antidepressante en antipsigotiese middels, kan ook aanleiding tot verhoogde sweet gee.
  • Emosionele snellers: Emosionele faktore soos stres, angs, senuweeagtigheid of opgewondenheid kan die liggaam se sweetkliere stimuleer, wat tot oormatige sweet lei.
  • Genetiese faktore: Sommige individue kan ’n genetiese geneigdheid tot oormatige sweet hê. As een of albei ouers ’n geskiedenis van hiperhidrose het, is hul kinders meer geneig om dié toestand te ontwikkel.

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: iStock)

Behandeling

Die goeie nuus is dat hiperhidrose behandel kan word. Behandeling verskil van persoon tot persoon en sluit in:

  • Antiperspirant: Antiperspirant wat aluminiumchloried bevat is dikwels die eerste verdedigingslinie. Hierdie produkte werk deur die sweetkliere te blokkeer, wat die hoeveelheid sweet wat in die behandelde areas geproduseer word, verminder.
  • Medikasie: In gevalle waar antiperspirant ondoeltreffend is, kan medikasie soos anticholinergiese middele voorgeskryf word om sweet te verminder. Dié medikasie werk deur die chemiese seine te blokkeer wat sweetproduksie stimuleer. Dit kan egter newe-effekte soos ’n droë mond, hardlywigheid, blaasprobleme en wasige sig veroorsaak.
  • Voorskrifroom en -lappies: Room wat glikopirrolaat bevat kan hiperhidrose op die gesig en kopvel verminder. Daar is ook lappies (wipes) wat op die hande, voete en onder die arms gebruik kan word. Moontlike newe-effekte sluit in velirritasie en ’n droë mond.
  • Iontoforese: Hierdie prosedure behels ’n ligte elektriese stroom wat deur die vel gestuur word terwyl die aangetaste area in water gedompel word. Iontoforese is veral doeltreffend vir die behandeling van oormatige sweet van die hande en voete. Dit word aanvanklik verskeie kere per week gedoen, met opvolgbehandelings later.
  • Botoks: Botulinumtoksieninspuitings, beter bekend as botoks, kan die sweetkliersenuwees tydelik blokkeer. Dié behandeling is veral doeltreffend vir oormatige sweet in die oksels. Dit bied verligting vir ’n paar maande.
  • Chirurgie: In ernstige gevalle van primêre hiperhidrose wat nie op ander behandeling reageer nie, kan chirurgiese opsies soos simpatektomie oorweeg word. Hierdie prosedure behels die verwydering of vasklem van die sweetproduserende senuwees.
  • Leefstylaanpassings: Vermy kos met baie speserye, kafeïen en alkohol. Dra klere wat “asemhaal” of van natuurlike stowwe gemaak is, en oorweeg joga en meditasie om spanning te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Ongelukkig nie die warmste ooit nie. Ongelukkig net die warmste vandat ons die temperature begin boekstaaf het. En dit is maar net die afgelope 200 jaar. En die laaste 50 jaar se rekords is onder verdenking omdat van die faktore rondom die meeting van temperature drasties verander het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.