Oorweeg ʼn detoks vir jou psigiese welstand

Dalk is dit tyd vir ‘n bietjie groentee vir die siel? (Foto: @shotsoflouis/Unsplash)

As jy jou emosionele en sielkundige welstand vandag moes beoordeel, watter punt uit tien sal jy vir jouself wou gee?

“Ons is almal die afgelope paar maande uitgedaag,” sê Anja van Beek, ʼn leierskapkenner en lewensafrigter. “Ons het ervaar hoe ons geestesgesondheid – wat jou emosionele, sielkundige en sosiale welstand insluit – ons gedagtes, gevoelens en optrede kan beïnvloed.

“As ʼn werkende ma weet ek persies hoe dit voel as jou spreekwoordelike eendjies eenvoudig net nie in daardie netjiese ry wil of kan staan nie. Daar was dae tydens die afsonderingstyd wat besonders uitdagend was en ek moes myself daaraan herinner dat ek nie ‘alles vir almal’ hoef te wees nie.

“Belangriker nog, ek moes sorg dat my beker gevul word sodat ek in hierdie ingewikkelde en onsekere tye weerbaar is.”

Waarom is ʼn detoks vir jou geestesgesondheid so belangrik?

Van Beek glo ʼn mens moet met opset ʼn tree terug gee van alle aktiwiteite en gedrag wat nie jou emosionele, sielkundige en sosiale welstand voed nie. “Omarm eerder dít wat wel jou gevoel van gelukkigheid verhoog.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het regerings aangemoedig om beskikbare finansiering vir geestesgesondheid te verhoog en gewaarsku dat die vraag na die soort dienste wat hierna omsien waarskynlik sal toeneem na aanleiding van die Covid-19-pandemie.

Wêreldgeestesgesondheidsdag is op 10 Oktober gevier en die kollig is hierdie maand op geestelike welstand.

Van Beek doen ʼn paar wenke aan die hand wat jy in dié tyd kan oorweeg:

Maak jou los van sosiale media

Is jou selfoon die eerste ding wat jy soggens bekyk? Dalk spring jy nie dadelik op Instagram of Twitter nie, maar jy lees sommer gou die nuus op jou slimfoon? “Dit is dalk nie die beste aktiwiteit wat jy heel eerste soggens kan doen nie. Kry eerder vir jou ʼn wekker en laat jou selfoon in ʼn ander vertrek deur die nag laai.”

Prioritiseer ʼn doelgerigte ingesteldheid

Dit gaan nie hier oor die doelwitte wat jy vir jouself stel nie, maar eerder waarop jou onderbewussyn ingestel is en hoe dit jou help om ʼn dinamiese breintoestand te behaal. Optimisme, dankbaarheid en ʼn bewuste vermindering van negatiewe denkpatrone is die wegspringplek vir so ʼn dinamiese breintoestand.

“Eksperimenteer gerus om uit te vind watter manier vir jou die beste werk om hierdie fokus te vind. Jy kan ʼn dankbaarheidsjoernaal begin of in ʼn joernaal besin oor jou vorige suksesse. Jy kan dit ook oorweeg om die positiewe en voordele in elke situasie te vind, selfs die situasies en ervarings wat nie so aangenaam is nie,” sê Van Beek.

Onderdruk die versoeking van die sluimerknoppie

Neem ʼn bewustelike poging om ʼn ritme en roetine in jou lewe in te bou wat jou welstand verhoog en jou emosionele weerbaarheid opbou.

“Weet jy nie waar om te begin nie? ʼn Maklike stap is om ʼn slaaproetine te vestig waar jy elke dag op dieselfde tyd bed toe gaan en wakker word. Ja, selfs oor naweke.”

Van Beek sê hierdie soort ritme is net so noodsaaklik soos die ritme van jou hartklop.

Bel ʼn vriend

Kry vir jou ‘n dinkmaat en wees ‘n luistermaat vir ‘n vriendin. (Foto: @bewakoofofficial/Unsplash)

Wanneer laas het jy ʼn vriend of vriendin gebel en gevra om jou te ondersteun? Oorweeg dit om ʼn vriend te vra om jou dink- of luistermaat te wees.

“Dit is ʼn effektiewe strategie waarmee jy en ʼn vriendin die ruimte skep om mekaar te ondersteun, want soms het ʼn mens net ʼn klankbord nodig as ʼn manier om jouself te hoor dink.”

Van Beek sê die ideale luistermaat sal luister sonder om jou te onderbreek, of advies of oplossings te gee en sal ʼn nie-veroordelende houding tydens die gesprek inneem.

Neem gereeld ʼn betekenisvolle blaaskans

Hoe lank kan jy fokus sonder om ʼn blaaskans te neem? As die meeste van jou werk op ʼn rekenaar gedoen word, is dit net nog soveel belangriker dat jy gereeld ʼn breek sal neem.

“ʼn Pouse van vyf tot tien minute elke uur is beter as ʼn pouse van 20 minute elke drie uur. Skep die gewoonte om op te staan, rond te beweeg en jou arms en bene te skud. Dit sal jou help om gedagtes gefokus te hou, jou nuwe energie gee terwyl die bloed na jou brein vloei wat beteken die inspirasie kan jou sommer weer opnuut tref. Dit is iets wat ongelukkig net nie kan gebeur as jy vir lank in dieselfde posisie bly sit nie.”

ʼn Effektiewe manier om teenwoordig te wees is om in die oomblik al jou sintuie te betrek om verskillende aspekte van jou omgewing raak te sien of te hoor.

Onthou om asem te haal

Voel jy reeds uitasem en die dag het pas begin? “As jy nie deurlopend diep genoeg asem haal nie, sal jy kort van asem en selfs slaperig voel. Dit mag selfs jou produktiwiteit beïnvloed.

“Die behoorlike vloei van suurstof is uiters belangrik vir jou brein, veral om jou byniere te herstel en te herlaai en om uit die veg-of-vlug modus te ontsnap.”

Van Beek sê ons het die nuwe dekade met ʼn stampe en stote afgeskop, maar ʼn geestelike, verstandelike en emosionele detoks kan ons help om die laaste paar maande van 2020 gepas af te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Robert

Wanneer gaan die kundiges begin onderskei tussen jou geestelike welstand en jou psigiese welstand. Daar is niks met jou gees verkeerd nie en dit word nie deur jou psige beinvloed nie dis jou psige wat geaffekteer word deur jou emosie, denke ens. en waarvoor daar allerhande terapie is.

Derek

Vandag dink ek aan die verhaal van waar Christus, Petrus en Maria bymekaar was en sy die duur nardus olie op Sy hoof uitgegooi het en Petrus dadelik kapsie gemaak het met die woorde: moenie die olie mors nie, ons kan dit verkoop en die geld onder die armes verdeel. Christus antwoord Petrus: Petrus, as jy weet wie Ek is, sal jy al jou olie op My uitgooi, die armes sal altyd met julle wees. Dan dink ek aan die vierdie brief in Openbaring 2/3, die waarskuwing aan die mans en vrouens teen die satan soos verklaar in Matheus 16.… Lees meer »