Pak só die onderbroke vas-dieet aan

(Foto: Pixabay)

ʼn Eetplan wat onderbroke vastye insluit, die sogenaamde “intermittent fasting”, het die afgelope paar jaar ʼn gewilde manier geword om jou te help om gewig te verloor. Die dieet sluit tye in wanneer jy moet vas en tye waarin jy mag eet. Dit is dus nie ʼn dieet wat vir jou sê wát om te eet nie, maar eerder ʼn plan wat sê wanneer om te eet.

Lees hier meer oor die onderbroke vas-dieet.

Soos met enige nuwe eetplan of leefstylverandering is dit belangrik om jou gesondheid eerste te stel en om ʼn dokter te raadpleeg as jy onseker is of dit veilig is vir jou spesifieke situasie, veral as jy ʼn bestaande mediese kondisie het.

Omy Naidoo, ʼn registreerde dieetkundige, sê alle diëte werk nie dieselfde vir alle mense nie en daarom is dit belangrik om uit te vind wat vir jou werk.

Hy sê die beste manier vir beginners om dié dieet met onderbroke vastye aan te pak, is om die 16:8-model te volg. Dit beteken dat jy vir 16 uur van die dag vas, en vir agt uur van die dag wel mag eet.

Jy eet byvoorbeeld jou eerste maaltyd van die dag om 12:00 en die laaste om 20:00, of jou eerste maaltyd om 10:00 en jou laaste om 18:00.

Wanneer die dieet gevolg word met die doel om gewig te verloor, is hierdie model, tesame met kilojoule-beperkings, die effektiefste.

“Dit beteken mense moet ook bedag wees op die soort kos wat hulle eet tydens die agt uur venster,” sê Naidoo.

As gewigsverlies die oogmerk is, raai hy mense aan om gesonde kossoorte te eet en nie hulself te ooreet in die agt uur nie. Mense word wel toegelaat om tydens die vas-periodes koffie, tee en water te drink. Jy mag nie suiker by jou koffie en tee gooi nie, maar wel ʼn bietjie melk.

Sommige navorsing toon dat onderbroke vas kan help met gewigsverlies én om kardiovaskulêre siekte te voorkom, maar Naidoo sê dié dieet is nie vir almal nie.

“Dit het nie altyd positiewe resultate nie en kan hipoglisemie (lae bloedsuiker) by diabete, swanger vroue en mense wat reeds sukkel met lae bloedsuikervlakke vererger.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.