Pandemie verander denke oor fiksheid

(Foto: Samantha Gades/Unsplash.)

Gyms het moeite gedoen om relevant te bly tydens die afsonderingstydperk, veral gedurende die eerste drie vlakke toe die geriewe nog gesluit was. Klasse was blitsvinnig aanlyn beskikbaar en jou lidgeld is gevries. Nou kan jy weer terugkeer gym toe, maar dit bly steeds op die lys van plekke met ’n hoë risiko van verspreiding om te besoek.

Tydens vlak twee kon mense weer terugkeer na die gym, maar moes met maskers oefen. Boonop was die hoeveelheid mense wat die gym op een slag kon besoek, aansienlik beperk. Met die koms van vlak 1 is die reëls egter nog verder verslap en mag jy sonder ’n masker oefen, mits jy jouself van ander distansieer. Die gym mag ook tans op 50%-kapasiteit, funksioneer. Jy sal wel eers deur ’n basiese Covid-19-siftingsproses moet gaan, voor jy toegang het tot die fasiliteite. Met dié dat ons vir só lank van die gym af moes wegbly, het die pandemie ons anders laat dink oor oefening?

In Kaapstad het ʼn maatskappy FitPods ontwerp, ʼn 20 m²-spasie wat deur glas omring is, sodat elkeen sy eie afgesonderde borrel het waarin hy kan oefen. In die borrel is al die toerusting wat jy nodig het om jou hele liggaam te oefen. Jy kan joga doen, boks of draf, spin of roei. Die glasbokse kan gevind word in Loopstraat in die stad. Die spasie word deeglik gereinig voordat die volgende persoon dit kan gebruik.

Die afsonderingstydperk het ʼn geleentheid geskep vir persoonlike fiksheidsheidinstrukteurs en bekende persoonlikhede om weer soos Jane Fonda, huishoudelike name te word. Fonda het in die 1980’s en 90’s bekendheid verwerf met haar huishoudelike oefenvideo’s. Dit het ʼn groot impak gehad op hoe die moderne mens tans fiksheid as ʼn leefstyl beskou. Fiksheidsaanhangers het doodeenvoudig weer teruggekeer na die wortel van die bewering, en kan kies en keur van ʼn wye verskeidenheid aanlyn oefensessies om hul fiksheidsvlakke in stand te hou. Gyms het vinnig aan boord gekom en klasse aanlyn begin aanbied.

In Amerika was daar selfs ʼn groei in die fiksheidsbedryf, aangesien die verkoop van huishoudelike oefentoerusting met 55% gestyg het tydens die grendeltydperk in die land. Of dié nuwe gier gaan hou, weet ons nie, net tyd sal leer. Prof. James Stark van die Universiteit van Leeds dink dit gaan net hou tot die grendeltydperk verby is. “Gyms bly ʼn bymekaarkomplek vir mense met dieselfde belangstelling, mense wat hou daarvan om in groepe te oefen en kompeterend is.”

Marina le Roux, eienaar van MobiGym, beskryf hoe die grendeltydperk haar onderneming beïnvloed het.

“Tydens vlak 4 en 5 van die inperking, moes mense kreatief raak, en het hulle gesoek na aanlynoefenklasse met ʼn persoonlike afrigter deur Zoom, Facebook en Skype. Ons het ook gevind dat mense meer oop was vir die idee om alternatiewe oefeninge soos joga te probeer. Daar is miljoene aanlyn oefenprogramme beskikbaar. Baie mense het begin hardloop, en het nou ʼn liefde daarvoor ontwikkel. Mense se dagroosters is ook tans meer buigbaar, omdat hulle van die huis af werk – dit skep meer tyd om te oefen.”

MobiGym se persoonlike fiksheidsinstrukteurs bied een-tot-een oefensessies by klante se huis aan.

“Ons was nie juis besig tydens die inperking nie, en het ook geen finansiële ondersteuning van die regering ontvang nie.”

Le Roux meen daar is talle voordele aan oefensessies by die huis.

“Eerstens kan mense die oefeninge doen in die privaatheid van hul huis. Hulle hoef nie in die verkeer vas te sit om gym toe te gaan nie, en hoef nie te wag om toerusting te deel nie.”

Sy meen mense kan selfs hul hond of baba by die oefensessies insluit en hulle hoef ook nie selfbewus te wees oor hul vermoëns om die oefeninge uit te voer nie.

Volgens Le Roux is daar ook nadele om in gedagte te hou.

“As jy ʼn kompeterende persoonlikheid het, mag jy dalk die voordele van groepoefening mis, maar jy kan dit ook oorkom deur virtuele doelwitte vir jouself te stel en jou prestasie steeds teen ander te meet. Die grootste gevaar om by die huis te oefen, sonder ʼn persoonlike fiksheidsinstrukteur, is om beserings op te doen omdat jy die oefening verkeerd doen, of te veel daarvan aanpak.”

Sy sê alhoewel aanlyn oefensessies tans hoog mode is, glo sy dit sal nie lank hou nie.

“Daar is niks wat kers vashou by persoonlike aandag en oefen in groepe nie. Dit is in ons natuur om persoonlike aandag te ontvang en interaksie met mense te hê.”

Een ding is egter seker, dit is belangrik om nie op te hou oefen weens die afsonderingstydperk nie. Oefening is ʼn goeie manier om ontslae te raak die spanning en onsekerheid van die inperkingstydperk en is ook ʼn goeie manier om jou immuunstelsel te versterk om juis die virus te beveg, as dit aan jou deur kom klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.