Pasop voor jy daardie hoofpynpil uitdeel

Argieffoto: Pixabay

Jy mag nie aan nie aan ʼn kollega by die werk, of ʼn skoolkind enige pil of medikasie gee nie – al is dit een wat ʼn mens oor die toonbank kan koop.

Dit is volgens die Wysigingswet op Medisyne en Verwante Middels van 2008, wat saam met die wet van 2015 gelees moet word. Verdere wetgewing, die Wet op Algemene Gesondheid en Veiligheidsregulasies bepaal presies hoe noodhulp in die werksplek moet geskied en wat alles in ʼn noodhulpkissie mag en moet wees. Die Aptekerswet is ook duidelik hieroor.

Die wette bepaal dat net ʼn apteker, dokter of persoon met ʼn lisensie om medikasie aan ʼn ander persoon te gee, dit mag doen. Dit beteken dat ʼn skoolhoof of sekretaresse nie vir ʼn kind ʼn pil mag gee nie. ʼn Pil mag ook nie by die werksplek uitgedeel word nie, tensy die persoon ʼn lisensie het.

Die kind se eie medikasie mag net deur iemand anders gegee word, met presiese aanwysings en skriftelike toestemming van die ouers of wettige versorger. Volgens die Onafhanklike Skole-organisasie mag ʼn skoolverpleegster ook net aan kinders ʼn middel gee indien sy ʼn lisensie het om dit te doen.

Indien ʼn kind ernstig siek word moet die skool die kind na die naaste hospitaal neem, en spesiale kondisies geld net in uiterste noodgevalle.

Lee Baker, ʼn apteker en besturende direkteur van die mediese inligtingsentrum Amayesa, sê net omdat iets oor die toonbank verkoop word beteken dit glad nie dit is 100% veilig vir almal nie.

“Jy kan nie soveel daarvan gebruik soos jy wil nie. Niks kan in groot hoeveelhede geneem word nie. Jy weet ook nie wat die ander persoon se mediese geskiedenis is nie,” sê sy.

Volgens haar moet jy nooit self vir ʼn kind jonger as 18 jaar aspirien gee nie, tensy die dokter dit voorskryf. By ʼn skool of dagsorgsentrum weet jy dalk ook nie of die ma reeds vir die kind iets gegee het nie, en daar kan ʼn interaksie met ʼn ander middel wees, of oordosering. Die kind kan dalk ook ʼn onderliggende toestand, soos epilepsie, hê.

Argieffoto: Pixabay

“Sekere kinders reageer ook verskillend op verskillende medikasie en kan allergies wees vir spesifieke medikasie, ook iets wat oor die toonbank gekoop is. Daar is ook medikasie wat nie vir kinders gegee moet word nie, en dit is ouderdomsverwant,” het sy gesê.

Baker het bygevoeg die potensiële gevaar wat pynmedikasie wat oor die toonbank gekoop word kan inhou, kan gesien word aan die feit dat dit die afgelope paar jaar in kleiner verpakkings kom. Selfs skedule 2 (en hoër) moet ook deur ʼn apteker uitgedeel word, en kan nie net van die rak geneem word nie.

Dieselfde geld werkgewers en kollegas wat nie vir mekaar mag of kan medikasie gee nie, want hulle ken nie die persoon se mediese geskiedenis nie. Nie eens paracetamol of hoesstroop nie.

Die wet vereis dat indien tien of meer mense by ʼn plek werk, daar ʼn noodhulpbeampte aangewys word wat behoorlike opleiding ontvang het en in besit is van ʼn geldige sertifikaat. Dié persoon moet gedurende kantoorure beskikbaar wees.

Daar moet ʼn noodhulpkis wees indien daar vyf of meer mense by ʼn plek werk en daar is ʼn lys van items wat dit moet bevat. Daar mag nie medikasie in wees wat oraal geneem kan word nie.

Gaan na https://www.labourguide.co.za om te kyk wat al die voorwaardes by die werksplek is.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Apteker ·

Meeste mense deel hulle Skedule 5 pyn/slaap medikasie uit. Gaan hulle regtig omgee oor hierdie? Ons aptekers kan mense probeer leer/inlig soveel as wat ons wil, almal maak in elk geval nes hulle lus kry. ‘Dit het vir my gewerk, so hierso, probeer jy dit ook’. Deel medikasie uit soos lekkers.

Dark One ·

Meer vreesaanjaend vir my is ouers wat hulle kinders se psigotrope middels onder mekaar uitdeel om op hulle kinders uit te toets en wat self met die voorgeskrewe dosisse “speel” deur dit te verminder of te verhoog.

Stef ·

Maar n kind van 13 kan wettig n aborsie op eie keuse kry. Iemand se skroewe is los.

David ·

So, as iemand skielik ‘n allergiese reaksie het, mag ek nie vir die persoon ‘n Phenergan gee, tot mens die persoon by ‘n dokter kan kry nie? Net ‘n dwaas kan met so iets voorendag kom. Mag die slagoffers in vrede rus…

Susan ·

As n kind deur n by gesteekb word mag hy allergex kry by skool

Heinrich van Zyl ·

Ek sal medisyne vir ‘n kollega gee indien hy daarvoor vra.
Ek sal my foon gebruik terwyl ek bestuur, mits dit volgens my veilig is.
En ek sal nog baie ander simpel wette oortree soos wat dit my pas.

Pandora ·

Hein, is seker moeilik om so selfsugtig deur die lewe te gaan. Ek hoop jou beskermengel is 24/7 aan diens.

Elza du Plessis ·

Ek het ‘n privaat skool en wil graag weet of ek die spesifieke verwysing vir hierdie opdrag kan kry, aangesien ek graag die ouers wil verwittig van hierdie veranderinge. Dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.