Perdfris met pynappels

(Foto: iStock)

Pynappels het tydens die pandemie koning gekraai en in Julie vanjaar het die prys in ’n stadium met meer as 70% die hoogte ingeskiet soos die potte van Pretoria tot Paternoster met pynappelbier geprut het.

Pynappels, wat sy oorsprong in Suid-Amerika en sy naam aan Europese ontdekkers te danke het (omdat dit soos ’n dennebol, oftewel “pinecone” lyk), is nie net ’n stroopsoet peuselhappie vir pouse nie, maar propvol potensiaal as dit by jou gesondheid kom.

Ofskoon dié stekelrige vrug ’n pyn is om te skil, is dit propvol vitamiene en vesel, en bevat geen vet nie.

Puik pynappelvoordele

  • Vaartbelynde spysvertering. Die ensiem bromelien vergemaklik spysvertering in die dermkanaal en help om artritispyn te verminder deur ontsteking in die bene en brongiale buise te verminder.
  • Een koppie pynappel bevat meer as jou daaglikse dosis vitamien C. Dit versterk die immuunstelsel en voorkom onder meer sinusinfeksies, verkoue en griep.
  • Kry krag. Die mangaan, tiamien (vitamien B1) en vitamien B6 stabiliseer die bloedsuiker in die liggaam, wat jou energievlakke bestendig hou.
  • Goed vir jou oë. Namate ons ouer word, verhoog ons risiko vir makulêre degenerasie (verlies van visie). Navorsing het getoon dat vrugte soos pynappel die risiko vir ouderdomsverwante sigverlies drasties kan verlaag.
  • ’n Koppie vars pynappel bevat slegs 83 kalorieë, maar 2,81 g vesel. Dit help om jou langer vol te laat voel en is die perfekte peuselhappie vir mense wat probeer om gewig te verloor (hou egter matigheid voor oë vanweë die hoë suikerinhoud).
  • Pynappels is ryk aan antioksidante wat help om vrye radikale te beveg. Hierdie vrye radikale het interaksie met die liggaamselle en veroorsaak skade wat verband hou met chroniese inflammasie, ’n verswakte immuunstelsel en verskeie siektes.
  • Dit is bewys dat pynappel ’n goeie akneebehandeling is en help om wonde vinniger te genees. Die ensieme wat in pynappels voorkom, versnel die genesingsproses en help met die sintese van kollageen, wat ons vel ’n gladde voorkoms gee.
  • Tien uit tien vir tande. Pynappels help om sterk bene en bindweefsel te vorm. Dit voorkom die opbou van plaak en die groei van bakterieë in die mond.
  • Strawwe gimsessie? Die anti-inflammatoriese voordele van die bromelien in pynappel help spiere om vinniger te herstel en pyn te verlig.
  • Studies het bevind dat een koppie pynappel sowat 1 mg natrium en 180 mg kalium bevat, wat noodsaaklik is om bloeddruk te reguleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Francois Le Cochon ·

Net jammer mens kry nie soet pynappels in SA nie! Hoekom pynappel produsente groen pynappels vir die mark lewer, sal net hulle weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.