Piekfyn met piesangs

(Foto: iStock)

Het jy al ooit gewonder waarom sportlui soos tennisspelers die een ná die ander piesang tydens wedstryde verorber? Wel, dié nederige vrug is nie net goedkoop en maklik om byderhand te hou nie, maar ook propvol gesondheidsvoordele.

Tien redes om piesangs op die proef te stel

  1. Ryk in voedingswaarde. Hoewel ’n piesang nie baie proteïen bevat nie, bevat dit geen vet nie en bied dit tot 12% van jou daaglikse dosis vitamien C, 10% van die aanbevole hoeveelheid kalium en 8% van die magnesium wat jou liggaam per dag benodig.
  2. Hou bloedsuiker in toom. Piesangs is ryk aan oplosbare vesel. Dit help nie net om jou bloedsuikervlak in toom te hou nie, maar vertraag uitskeiding (wat jou langer versadig laat voel). Al bevat piesangs heelwat koolhidrate, laat dit nie jou bloedsuiker die hoogte inskiet nie. Mense met diabetes moet egter matigheid voor oë hou.
  3. Stukrag vir spysvertering. Een mediumgrootte piesang bevat ongeveer 3 gram vesel. Piesangs wat nog nie ryp is nie, bevat voorts weerstandbiedende stysel (“resistant starch”), ’n soort probiotika. Dié probiotika spring die spysverteringsproses vry en beland in die dikderm waar dit soos manna vir goeie bakterieë is. Die pektien in piesangs voorkom op sy beurt hardlywigheid en sommige navorsing het bevind dat dit beskerming teen kolonkanker kan bied.
  4. Ligter op die skaal. Hoewel navorsing nog nie klinkklare bewyse hiervoor kon bied nie, bevat piesangs wel eienskappe wat dit ’n gewigsvriendelike vrug maak. ’n Piesang bevat slegs sowat 100 kalorieë en tesame met die vesel wat jou langer versadig laat voel, word vrugte en groente wat veselryk is dikwels met ’n gesonde liggaamsgewig én gewigsverlies verbind.
  5. Kalium is ’n mineraal wat noodsaaklik is vir hartgesondheid, veral om jou bloeddruk te beheer. Navorsing het getoon dat mense wat ’n dieet ryk aan kalium volg, se risiko vir hartsiektes met soveel as 27% afneem. Piesangs is nie net ryk aan kalium nie, maar ook magnesium, nog ’n hartvriend.
  6. Propvol antioksidante. Vrugte soos piesangs bevat verskeie soorte kragtige antioksidante, insluitend flavonoïed en amiene. Hierdie antioksidante hou verskeie gesondheidsvoordele in, insluitende beskerming teen hart- en degeneratiewe siektes. Dit help om oksidatiewe skade aan jou selle te voorkom wat deur vrye radikale veroorsaak word.
  7. Insulienweerstandigheid is ’n beduidende risikofaktor vir verskeie chroniese siektes, insluitend tipe 2-diabetes. Verskeie navorsingsverslae toon dat die eet van piesangs wat nog nie ryp is nie, insuliensensitiwiteit kan verbeter. Dit kan jou liggaam dus help om beter op hierdie bloedsuikerregulerende hormoon te reageer.
  8. Goed vir jou niere. Kalium is nie net goed vir bloeddrukbeheer nie, maar is broodnodig vir die niere om behoorlik te funksioneer. Navorsing wat meer as 5 000 mense met ’n vroeë stadium van chroniese niersiekte ingesluit het, het bevind dat kalium laer bloeddruk en ’n stadiger vordering van niersiekte in die hand werk. Diegene met ’n gevorderde niersiekte of wat op dialise is, moet egter hul kaliuminname met hul dokter bespreek.
  9. Woema vir sportlui. Dié reputasie is grootliks te danke aan piesangs se maklik verteerbare koolhidrate, asook die minerale kalium en magnesium, wat albei as elektroliete dien. ’n Mens verloor elektroliete deur jou sweet wanneer jy strawwe oefening doen. Dié elektroliete moet weer aangevul word. Deur byvoorbeeld ’n piesang te eet word die voedingstowwe teruggeplaas in die liggaam, terwyl dit ook oefeningverwante spierkrampe en pyn verminder.
  10. Maklike en goedkoop bestanddeel. Nie net is ’n piesang ’n ideale en vinnige peuselhappie nie (skil net en geniet), maar kan dit in die plek van suiker in jou bak-en-brouwerk gebruik word. Voeg dit gerus ook by jou jogurt, graankos of smoothie, of probeer ’n grondboontjiebotter-en-piesang-broodjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.