Prostaatkanker: Manne, moenie dié toets uitstel

(Foto: iStock)

“’n Vingerondersoek? Vergeet dit! Ek sal eerder ’n wortelkanaalbehandeling kies,” antwoord ek vroulief vererg. Ek moes eerder stilgebly het oor my draai lopery wat net nie lekker wou, wel, loop nie.

Dit is egter die Prostaatkankervereniging van Suid-Afrika se statistiek dat ongeveer 1 uit 8 Suid-Afrikaanse mans waarskynlik deur prostaatkanker geraak sal word wat my laat instem het om daar en dan ’n doktersafspraak te maak.

Prostaatkanker is volgens die nasionale kankerregister die mees algemene soort kanker by mans. Hoewel meer gevalle van prostaatkanker jaarliks gediagnoseer word omdat meer mans hulle vroeër en meer gereeld laat toets, lei dié vroeë toetsing, diagnose en behandeling tot ’n baie laer sterftekoers.

Wat is die risikofaktore?

  • Ouderdom: Ofskoon prostaatkanker selde by mans onder 40 gediagnoseer word en die risiko die grootste is vir mans ouer as 65, word jaarlikse siftingstoetse vir alle mans bo 50 aanbeveel.
  • Oorerflikheid: ’n Familiegeskiedenis van prostaatkanker verhoog jou kans noemenswaardig. ’n Broer of pa met prostaatkanker verdubbel jou kans vir prostaatkanker. Indien daar prostaatkanker in jou familie is of was, behoort jy vanaf 45-jarige ouderdom jaarliks getoets te word. Sowat 10% van prostaatkanker is oorerflik.
  • Ongesonde leefstyl: ’n Ongesonde leefstyl verhoog die risiko vir kanker, byvoorbeeld rook, hoë alkoholinname, te min oefening en ongesonde eetgewoontes.

Het jy dié simptome?

As jy “ja” op een of meer van hierdie vrae antwoord, moet jy mediese advies inwin:

  • Dit is moeilik om te urineer of om my urienvloei te begin of te stop.
  • My urienvloei begin of stop vanself.
  • Ek ondervind pyn of ’n brandgevoel as ek urineer.
  • Ek moet dikwels urineer, veral snags.
  • Daar is bloed in my urine.
  • Ek ervaar dikwels pyn in my lae rug, heupe of bobeen.
  • Ek het ’n familiegeskiedenis van prostaatkanker.

Hoe word dit gediagnoseer?

  • Prostaat-spesifieke Antigeen (PSA)-bloedtoets:

Bloed word getrek en vir PSA-vlakke getoets. PSA is ’n proteïen wat deur die prostaat afgeskei word en hoë vlakke van PSA kan dui op ontsteking (prostatitis) of vergroting van die prostaat (benign prostatic hyperplasia of BPH), nie-kwaadaardige vergroeisels, urienweginfeksie of selfs kanker. ’n PSA van tussen 0 en 4 nanogram per milliliter (ng/ml) word as normaal beskou, maar ’n telling van 2,5 by mans in hul veertigs, 3,5 by mans in hul vyftigs en meer as 4 by mans in hul sestigs, kan op kwaadaardigheid dui.

  • Digitale Rektale Ondersoek (DRO):

Die dokter ondersoek die prostaat deur die rektum vir enige abnormaliteit. Indien enige twyfel oor die grootte van die prostaat bestaan of moontlike vergroeiings, word ’n biopsie dikwels aanbeveel omdat tot 20% van prostaatkanker by mans met ’n PSA-telling van minder as 4 ng/ml voorkom. Boonop word dikwels geen simptome ervaar totdat die kanker reeds ver gevorder het nie.

  • Biopsie:

Indien abnormaliteite in die PSA-telling en/of DRO gevind word, word ’n naaldbiopsie met behulp van ’n rektale sonar (trans-rectal ultrasound of TRUS) onder plaaslike verdowing of algemene narkose gedoen. Die weefsel word histologies ondersoek en vir moontlike kanker getoets. As die biopsie bevestig dat kanker teenwoordig is, kan dit nodig wees om uit te vind hoe gevorderd dit is of hoe ver dit versprei het.

  • Ander toetse sluit in ’n CT-skandering van die ingewande en pelvis om die verspreiding van die kanker (metastase – verspreiding deur die bloed) na ander organe te bepaal en/of ’n MRI-skandering van die skelet om metastase na die bene te bepaal.

Hoe word dit behandel?

Afhangende van hoe vroeg die kanker gediagnoseer word, die ouderdom van die pasiënt en die stadium van die kanker, word ’n behandelingsplan uitgewerk wat die volgende kan insluit:

  • Chirurgie: ’n Prosedure (radikale prostatektomie) word uitgevoer waartydens die prostaat en moontlik ook die omliggende kliere verwyder word en die blaas met die uretra herverbind word. Dit word gewoonlik gedoen indien die pasiënt ’n lewensverwagting van meer as tien jaar het en die kanker nog tot die prostaat en/of omliggende limfkliere beperk is.
  • Radioterapie: Die frekwensie van en soort bestraling hang van die gevorderdheid van die kanker af en is daarop gemik om die kankerselle te vernietig. Twee soorte bestraling word dikwels gebruik – eksterne bestraling (EBRT – external beam radio therapy) of brachytherapy (die inplanting van radioaktiewe saadjies in die prostaat – interne radioterapie).
  • Hormoonbehandeling: Omdat prostaatkanker aangevuur word deur die hormoon testosteroon, reageer 80% van pasiënte baie goed op hormoonbehandeling waardeur die produksie van testosteroon onderdruk word. Dit word gedoen deur die verwydering van die testikels of deur middel van inspuitings (IAD of intermittent androgen deprivation).
  • Chemoterapie: Dié behandeling vernietig kankerselle regdeur die liggaam, maar word hoofsaaklik gebruik vir aggressiewe kanker wat na elders in die liggaam versprei het en nie op hormoonbehandeling gereageer het nie.
  • Wag-en-sien: Dit behels die gereelde toetsing van die PSA-vlakke, maar geen aktiewe behandeling nie. Omdat prostaatkanker baie stadig ontwikkel, word dié benadering gewoonlik gevolg in gevalle waar die pasiënt ’n lewensverwagting van minder as tien jaar het of ’n vroeë, baie laerisikokanker het.

Pas jou leefstyl aan

Studies het gevind dat tot 90% van kanker deur omgewings- of leefstylfaktore veroorsaak word.

  • Oefen gereeld – minstens 30 minute per dag.
  • Eet gesonder – Eet minstens 5 porsies groente en vrugte per dag. Hoe meer kleur, hoe groter is die voedingswaarde. Knoffel, aspersies, rooi druiwe, broccoli, tamaties, aarbeie, bloubessies, wortels en spinasie hoort boaan jou spyskaart. Beperk jou inname van hoëvetvleis, vermy verwerkte vleis soos koue vleise, beperk jou alkoholinname en drink meer water. Stoom jou kos, eet meer vis en wees versigtig vir vitamienaanvullings.

Kry ondersteuning

Sluit by ’n ondersteunersgroep aan wat reeds deur die proses gegaan het en eerstehandse inligting en hulp kan bied. Skakel die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) by 0800 22 66 22, stuur ’n e-pos na [email protected] vir ’n steungroep of terapeut in jou omgewing, of besoek www.cansa.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

manne moet nie uitstel nie, doen die toetse, dis die beste raad wat ek kan gee

Tubac ·

Beslis. Wie wag gaan later spyt wees. Die DRO glad nie onaardig nie en word deur n professionele persoon gedoen.Ons mans het maar n ding teenoor sulke toetse.

SomeOne ·

vergeet van jou selfbeeld, doen die toets, ten minste een keer ‘n jaar, indien uriering jou nog nie pla nie, jy sal nooit spyt wees nie

Naomi ·

Manne laat toets julle….gister my pappie ter ruste gelê..harde kwas gewees….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.