Raad en daad vir haarverlies

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Hoewel dit skrikwekkend kan wees en jou bekommerd kan maak as jou stort of selfs jou kantoorstoel vol van jou hare is, is haarverlies eintlik heeltemal normaal.

Ons verloor daagliks sowat 80 hare, maar wanneer jy agterkom dat jou hare in bosse uitval en dat dit nie besig is om terug te groei nie, is wanneer jy ʼn oplossing moet probeer vind.

Wanneer dit by haarverlies kom, is daar soveel moontlike oorsake dat dit moeilik is om jou vinger presies op een oorsaak te lê.

Anabel Kingsley, ʼn haarverlieskenner en trigoloog van die Philip Kingsley-kliniek in Londen, Brittanje, en dr. Sharon Wong, stigter van Get Ahead of Hair Loss, het met Cosmopolitan gesels vir raad oor dié harige saak.

Om haarverlies te verstaan, moet jy eers verstaan hoe die hare groei. Elke haarfollikel ondergaan drie fases van ʼn lewenssiklus, verduidelik Wong.

“Anageen is die eerste, aktiewe groeifase wat tussen twee en sewe jaar kan duur, waartydens die hare langer en dikker raak,” sê sy.

“Die volgende fase is katageen, ʼn oorgangsfase wanneer die haarvesel ophou groei.”

Die laaste fase is telogeen. “Tydens dié fase word die ou hare gelydelik opgestoot na die vel se oppervlak, waarna dit natuurlik uitval en vervang word deur ʼn nuwe haar in die anageen-fase.”

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Op ʼn tipiese kop vol hare is elke haarfollikel in verskillende fases op verskillende tye, so jy sal dit glad nie agterkom nie.

“Die siklus herhaal onophoudelik deur jou leeftyd en elke haarfollikel is onafhanklik in ʼn ander siklus, wat beken menslike haargroei is nie gesinchroniseer nie,” sê Wong.

Dit is belangrik om kennis te neem dat haarverlies ʼn algemene probleem is onder vroue – meer as wat mense besef.

“Navorsing toon dat ten minste een uit drie vroue op een of ander stadium in hulle lewens aan haarverlies of ʼn verminderde haarvolume ly,” sê Kingsley.

Haarverlies kan ook reaktief of geneties van aard wees. Reaktiewe haarverlies beteken dat daar ʼn ander oorsaak is vir jou haarverlies, soos ʼn hormoonwanbalans, voedingstekort, stres of siekte,” sê Kingsley.

Daar is ook ʼn moontlikheid dat jy geneties meer geneig is tot haarverlies, wat beteken jy kan ʼn progressiewe, geleidelike verlies in haarvolume sien.

“In hierdie gevalle is sekere haarfollikels meer sensitief vir manlike hormone, en hierdie sensitiwiteit veroorsaak die follikels om gelydelik te krimp en om effens fyner en korter hare te produseer met elke groeisiklus wat verby gaan,” verduidelik Kingsley.

Hier is ʼn lys van moontlike oorsake van haarverlies:

  • Hormoonwanbalans

ʼn Hormoonwanbalans kan verskeie skoonheid- en gesondheidsprobleme tot gevolg hê, soos haarverlies, gewigstoename en aknee.

“Hormone speel ʼn groot rol in die regulering van die haargroeisiklus. Estrogeen (vroulike hormone) is ‘haarvriendelik’ en help om die hare in hulle groeifase te hou vir ʼn optimale tydperk. Androgeen (manlike hormone) is nie haarvriendelik nie en kan die groeisiklus stuit.”

ʼn Oormatige hoeveelheid androgeen, wat deur endokriene siektes soos polisistiese eierstoksindroom veroorsaak kan word, kan haarverlies tot gevolg hê. “Die omvang hiervan kom gewoonlik op jou gene neer – as jy ʼn genetiese geneigdheid tot follikelsensitiwiteit het, kan ʼn hormoonwanbalans jou hare meer beïnvloed as iemand wat nie die geneigdheid het nie.”

  • Stres

Dit is nie ʼn mite dat uitermatige stres letterlik jou hare kan laat uitval nie. Hoekom gebeur dit? Stres verhoog die androgeenvlakke wat haarverlies veroorsaak.

“Stres kan ook kopvelprobleme, soos skilfers, veroorsaak en kan eetpatrone ontwrig en met die spysverteringstelsel lol, wat alles ʼn negatiewe invloed op die hare kan hê,” sê Kingsley.

  • Ystertekort of anemie

Een van die grootste oorsake van haarverlies by vroue is ʼn ystertekort. Yster is noodsaaklik vir die produsering van haarselproteïen en daarsonder sal jou haarlokke ly.

“Die beste ding om te doen is om met jou algemene praktisyn te gesels vir raad oor ystertekort, aangesien hulle ʼn bloedtoets sal aanbeveel om die regte behandeling te kan voorskryf.”

  • Ooraktiewe of onderaktiewe skildklier

Die skildklier help om die liggaam se metabolisme te reguleer deur die produksie van proteïen en weefselgebruik van suurstof te beheer. Enige skildklierwanbalans kan die haarfollikels beïnvloed.

“’n Ooraktiewe skildklier kan ook lei tot anemie, wat ook ʼn invloed op die hare kan hê,” sê Kingsley.

  • Tekort aan vitamiene B12

ʼn Tekort aan vitamiene B12 kan jou moeg laat voel, maar kan ook ʼn invloed op jou hare hê.

“’n Tekort aan vitamiene B12 het ʼn invloed op die gesondheid van rooibloedselle wat suurstof na jou weefsel vervoer. Dié tekort is algemeen by veganiste, aangesien jy B12 hoofsaaklik deur diereproteïen inneem,” sê Kingsley.

  • Drastiese gewigsverlies

ʼn Stewige afname in gewig kan ʼn invloed op jou lokke hê, sê Kingsley. “Ses tot 12 weke ná drastiese gewigsverlies, of dit intensioneel of onintensioneel was, kan tot gevolg hê dat jou hare in bosse uitval. Terwyl hare psigologies vir ons uiters belangrik is, is dit fisiologies glad nie noodsaaklik nie – ons kan daarsonder oorleef sonder enige nagevolge vir ons fisieke gesondheid. Dit beteken dat enige voedingstekort in jou hare opduik.”

  • Ouderdom

As jy op die punt is om deur menopouse te gaan, kan veranderinge in jou liggaam ook haarverlies tot gevolg hê.

“Dit is belangrik om te besef dat ons hare ouer word soos wat ons verouder en dat hare natuurlik fyner word. Dit is ʼn normale deel van die verouderingsproses.”

Bron: Cosmopolitan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.