Raad vir ekseem gedurende somer

(Foto: nastya_gepp/Pixabay)

Deur Suzanne Kotzé

’n Dermatoloog gee raad vir ekseem gedurende die somer indien jy of jou kinders daarmee sukkel. Jy ken die gejeuk na swem of nagte se wakker lê en krap en min slaap.

Hier is Kaapse dermatoloog dr. Suretha Kannenberg se raad vir ekseem gedurende die somer.

Hoekom vererger swem en son ekseem?

Water is sleg vir ekseem. Iemand met ekseem behoort dus nie te lank in die water te wees nie. Swem gaan natuurlik gepaard met oormatige hoeveelheid tyd in die water. Die son is ook bekend daarvoor dat dit sommige ekseemgevalle vererger; meestal as gevolg van hitte en sweet.

Wat kan ’n mens doen om dit te verhoed of die uitwerking te verminder?

Smeer dadelik enige standaard room aan sodra jy uit die water kom. Probeer ook om oorverhitting te vermy deur uit die son te bly.

Is daar enige sonskerm wat mense met ekseem eerder nie moet gebruik?

Dr. Suretha Kannenberg se gunstelingmineraalblok vir erg sensitiewe gevalle is Heliocare 360 Paediatric (R340). (Foto: Verskaf)

Dit is verkieslik dat sonskerms in hierdie gevalle nie enige parfuums of kleurstowwe bevat nie.

My gunstelingmineraalblok vir erg sensitiewe gevalle is Heliocare 360 Paediatric (R340). Dit bied uitstekende beskerming, is nie taai nie, bevat geen parfuum nie en gaan ’n mens nie ’n wit skynsel gee soos die outydse sink-en-titanium-sonblok nie.

Wat kan mens doen nadat jy geswem het?

Spoel jouself dadelik met kraanwater af. Onthou net vinnig in en uit die stort, want lank in die water is nie goed vir ekseem nie. Druk jou of jou kind se vel liggies droog.

Terwyl die vel nog klam is, smeer baie vogroom orals oor die hele lyfie. Vermy akwaroom. Hier is van ons gunstelingprodukte om te gebruik:

Wat kan jy doen as die jeuk jou of jou kind wakker hou?

  • Maak seker jy of jou kind is nie te warm nie. Hitte vererger die jeuk.
  • Muskiete kan die situasie vererger. ’n Muskietnet of ’n waaier kan hiervoor help.
  • Wend nog vogroom aan.
  • As dit ʼn geïsoleerde deel is wat jeuk, kan jy ’n koue kompres daarop aanwend.
  • Sorg dat jy ’n plan het om angstigheid te verminder. As almal so angstig raak gedurende so ’n episode is dit ʼn goeie idee om ʼn plan te hê. Fokus dalk daarop om diep asem te haal, oogkontak met jou kind te maak en ’n spesifieke liedjie te sing. Dit is ’n vorm van bewustheid wat goeie resultate in die behandeling van onder andere ekseem lewer.
  • Maak oogkontak met jou kind en probeer rustig bly gedurende ’n ekseem “episode”.
  • Jy kan ook ’n sederende antihistamien probeer as dit nodig is.
  • Wet wraps is iets om te oorweeg (veral vir kinders met ekseem, maar kan ook baie verligting vir volwassenes bring).

So werk Wet wraps:

  1. Dit verbeter hidrasie deur water wat die vel afkoel.
  2. Die room onder die nat lap penetreer die vel beter.
  3. Dit help steroïde om beter te werk.
  4. Help dat die kind of jy nie krap nie.
  5. Verbeter slaap.
  6. Verminder die langtermyngebruik van steroïde.

So gebruik jy Wet Wraps by kinders:

  1. Smeer steroïde aan waar nodig (indien jy steroïede gebruik) en smeer jou kind met ’n vogroom (sien aanbevelings bo).
  2. Week ’n stel (of net broekie of bostuk na gelang van waar die ekseem is) sagte klere (soos sagte termiese nagklere) of ’n stokkinet (beskikbaar by die meeste apteke) in ʼn bietjie louwarm water.
  3. Druk oortollige water liggies uit en trek dit aan. Jy kan dit ook net gebruik waar die ekseem voorkom. Jy kry ook spesiale Wet wrap-kledingstukke wat jy kan gebruik.
  4. Trek sagte, droë klere aan bo-oor die klam klere of stokkinet.
  5. Hou die klere so oornag aan.

Let wel: Jy kan dit nie doen as jy infeksie (opgehewe vel met geel kors of herpes blasies) het nie.

As jy onseker is, kan jy altyd ’n aanlyn konsultasie doen met ’n dermatoloog by ’n platform soos DrDerma.co.za.

Dit klink dalk na baie moeite, maar studies het gewys deur dit vir vier dae aaneen te doen, kan dit ekseem met tot 70% verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Grys Uil ·

Water is nie die groot probleem nie, die ewige alkohol in die saniteerders wel. Veral as mens allergies vir die alkohol is, het jy permanent hande waaruit die sig en bloed loop. Hierdie era is ‘n nagmerrie!! Die beste raad wat vir my ekseem help is die bulbinella plant se jellie in die blare. Wat ook help is om ‘n druppel of twee “Teatree” olie by ongegeude babaroom te meng om die ontsteking te onderdruk. Sterkte aan almal wat ekseem en allergie leiers is, dis nie ‘n gawe toestand nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.