Rits werksgeleenthede beskikbaar vir somatoloë

‘n Kursus in somatologie by Potchefstroom Akademie & SAAHST (Foto verskaf)

Onthou jy nog toe jy jonk was, was daar ʼn beroep bekend as ʼn “skoonheidsdeskundige”? Hulle was die vroue wat ongewensde hare met was kon verwyder en het naels en grimering gedoen.

Die prentjie lyk vandag heel anders. “Somatologie” is die nuwe benaming vir hierdie gewilde beroep. “Soma” beteken “liggaam in geheel” en is dus baie gepas vir hierdie beroep wat lankal nie meer net iemand is wat naels doen of lipstiffie aansit nie.

Om jouself ʼn somatoloog te kan noem behels die voltooiing van ʼn drie jaar voltydse kwalifikasie.

Waar kan jy dié gesogte kwalifikasie verwerf?

Die Potchefstroom Akademie het ná 43 jaar ʼn reputasie van kwaliteitonderrig en uitnemendheid opgebou. Onder leiding van Tina Schöltz handhaaf Potchefstroom Akademie hoë standaarde wat ander in die bedryf navolg.

Potchefstroom Akademie en SAAHST is goue status toegeken deur die South African Association of Health and Skincare Professionals vir hul uitmuntende standaarde en bied twee skoonheidsterapiekwalifikasies aan.

ʼn Driejaar-diploma in somatologie en ʼn eenjaar-kosmetologiesertifikaatkursus word aangebied. Kwalifikasies wat spesifiek op massering, aromaterapie en refleksologie gemik is, is ook beskikbaar. Potchefstroom Akademie is die enigste geregistreerde en geakkrediteerde instansie in Suid-Afrika wat ʼn tweejaardiploma in terapeutiese massering, refleksologie en aromaterapie kan aanbied.

Vergewis jou deur seker te maak of die instansie waar jy of jou kind wil studeer wel oor ʼn registrasienommer beskik van die departement van onderwys, soos wetgewing vereis. Dit is voorwaar ʼn groot versekering dat jou kind ʼn kwalifikasie het wat nasionaal erken word.

Potchefstroom Akademie bied ook die Cidesco- internasionale eksamen aan. Hul terapeute is baie gewild vir oorsese werk, van Dubai tot Londen. Hulle word maklik aanvaar vir werk op luukse skepe as gevolg van harde werk en hulle breë kennis van die vakgebied. Cidesco word op al die vastelande erken.

Potchefstroom Akademie bied aan studente ʼn gebalanseerde opleidingservaring met teoretiese klasse wat afgewissel word met praktiese toepassing van die werk. Ondervindingsure word opgedoen in ʼn geakkrediteerde salon en by die Wellness Center, ʼn volledige toegeruste spa geleë op die kampus, om hul gereed te maak vir die bedryf.

Die werksgeleenthede in die skoonheidsberoep is baie veelsydig. Graduandi kan hul eie salon of spa oopmaak, kan saam met ʼn mediese dokter of plastiese chirurg werk, in ʼn apteek behandelings doen, by ʼn filmspan aansluit, op luukse skepe werk, ʼn spa- of salonbestuurder of selfs ʼn dosent word. Die keuses is eindeloos.

Kom ervaar ʼn opwindende studentelewe in die pragtige studentedorp en op kampus waar jy nuwe vriende sal maak vir ʼn leeftyd se herinneringe. Die akademie het verskillende verblyfopsies op en weg van die kampus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.