Rooibos kan hooikoors nekslag toedien

Argieffoto (Foto: sayuriiii, Pixabay)

Rooibos is ʼn welkome geneesmiddel vir talle Suid-Afrikaners wat aan allergieë ly, maar tot dusver was daar karige bewyse om dit te staaf.

Gegewe die hoë koste van allergie- en asmamedikasie, ondersoek plaaslike navorsers van die Universiteit van Kaapstad (UK) tans die omvang van die verligting wat rooibostee kan bring vir diegene wat sukkel met lopende, verstopte neuse en jeukerige oë.

Prof. Jonny Peter, hoof van allergologie en immunologie by die UK Longinstituut sê allergieë raak wêreldwyd meer algemeen en kom toenemend in lae-inkomste- en middelinkomstelande voor en sowat 30% van Suid-Afrikaanse volwassenes word daardeur geraak.

“Verskillende soorte allergieë, waaronder lewensbedreigende anafilaksis, hooikoors (rinitis), asma, kosallergieë, bindvliesontsteking en velallergieë soos angio-oedeem, netelroos en ekseem. Hooikoors is die algemeenste een, wat gewoonlik veroorsaak word deur huismiete en fyn, poeierige stuifmeel van bome, onkruid en grasse wat vir tot nege maande uit die jaar kan blom.”

Peter merk op dat die koste om hooikoors te behandel wesenlik gestyg het en dat dit geldelike druk op talle pasiënte plaas.

“Dit is waarom daar hernude belangstelling in kruie- en alternatiewe medisyne soos rooibos is, wat toegankliker en meer bekostigbaar is.”

Allergiestudies wat voorheen in ʼn laboratorium in vitro (buite ʼn lewende organisme) die uitwerking van rooibos op verskillende seltipes getoets het, lyk glo belowend.

Rooibos bevat bioflavonoïde soos rutien en kwersitien wat jeukerige oë en loperige neuse kan verlig. Kwersetien kan die vrystelling van histamien in mas-selle blokkeer en sodoende simptome verminder.

Peter en dr. Sarah Pedretti, ʼn senior navorser, het ook hulle eie selstudie gedoen en bevind dat rooibos die aktivering van basofiele onderdruk.

“Basofiele is witbloedselle wat betrokke is by vele soorte inflammatoriese reaksies, veral dié wat allergiese simptome veroorsaak. Dit beteken dat rooibos tot ʼn mate allergiese reaksies kan beheer of beperk, maar talle kruiemedisyne het nog nie ʼn belowende kliniese uitwerking tot gevolg gehad nie.”

Hy verduidelik dat hulle binnekort twee kliniese proewe gaan uitvoer wat op vorige bevindings sal uitbou.

“Die eerste sal die doeltreffendheid toets van die orale inname van gefermenteerde en ongefermenteerde rooibos (Aspalathus linearis) vir die behandeling van hooikoors as gevolg van stof en huismiete. Sowat 80 mense sal aan die eerste proewe deelneem,” verduidelik Peter.

(Argieffoto)

“Die tweede sal die doeltreffendheid toets van neussproei met gefermenteerde en ongefermenteerde rooibosaftreksel, ook vir die behandeling van hooikoors as gevolg van stof en huismiete.

“Die doel van die studie is om die uitwerking van neussproei met rooibostee teenoor soutwater te toets, en of dit die allergiese reaksie op huismiete en stof in sensitiewe pasiënte kan verlig. Sowat 130 mense sal aan dié proewe deelneem.”

Hy voeg by dat hulle glo rooibos het goeie allergeniese eienskappe. “Die proewe sal vir ons ʼn duideliker prentjie skets en sal ʼn verdere aanduiding gee in terme van die konsentrasies wat benodig word om die verlangde uitkoms te bewerkstellig.”

Hy raai allergielyers aan om nie onmiddellik antihistamiene met rooibos te vervang nie, maar sê dat meer natuurlike behandelings wat rooibos bevat in die toekoms voordeliger kan wees.

Sou jy aan hooikoors ly en aan die proewe wou deelneem, kontak Noejfah Jardien by 021 406 6889 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eend Bessinger ·

Rooibos is van die gesondste tee wat daar is – en my gunsteling! Dis baie gesonder as swart tee en net so ‘n kortkop voor groen tee. Die groot verskil tussen groen tee en rooibos is die smaak. Volpunte met hierdie natuurlike wenproduk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.