SA mans moet begin oefen

(Foto: Pixabay)

Sowat twee derdes van Suid-Afrikaanse mans maak steeds nie oefening deel van hul alledaagse lewe nie, en dit kan verwoestende gevolge op hul gesondheid hê.

Dit kan siektetoestande soos beroerte, diabetes, kardiovaskulêre siekte en selfs kanker tot gevolg hê.

ʼn Studie oor kardiovaskulêre gesondheid deur Cleveland Clinic in die VSA het bevind dat die risiko vir sterfte wesenlik toeneem onder mense wat ʼn sittende leefstyl het, teenoor diegene wat aktiewe leefstyle het – in watter geval die dodetal met 80% afneem.

Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics, sê daar is wel mans in Suid-Afrika wat ʼn stap in die regte rigting geneem het, maar dat gans te veel mans steeds onaktief is.

“Die tipiese moderne lewe wat baie mans het bevat sowat agt uur se sit voor die rekenaar, twee tot drie uur in verkeer en nog ʼn paar uur voor die televisie. Dié leefstyl kan noodlottig wees.

“Lewensverwagting neem aansienlik af as gevolg van onaktiwiteit en sommige navorsers het selfs so ver gegaan as om te sê dat ʼn onaktiewe leefstyl selfs slegter vir jou gesondheid is as om te rook en ander risiko-faktore gekombineer,” sê sy.

Jennings sê mans wat dink hulle is te oud om enige nut uit oefening uit te put, moet weer dink.

Talle navorsingstudies het getoon dat oefening die spiere, balans, kardiovaskulêre fiksheid, glukose toleransie en sielkundige gesondheid van selfs bejaardes in hul 80’s verbeter.

Mans wat meer aktief is, het ʼn laer kans om prostaatkanker, tipe-2 diabetes, vetsug, beroerte en hartsiektes te ontwikkel en hulle is ook minder geneig om hoë bloeddruk, depressie en rektale probleme te ontwikkel. Oefening verlaag ook die kans op demensie.

“In onlangse jare het ons baie effektief oefening uit ons moderne lewe gesny, maar die moeilikheid is dat ons liggame gemaak is om fisiek aktief te wees en dit kan nie optimaal daarsonder funksioneer nie,” sê Jennings.

“Navorsing het ook getoon dat 60 minute se matige oefening daagliks die negatiewe impak van ʼn sittende leefstyl kan uitwis. En dit kan maklik bereik word met ʼn paar leefstylaanpassings.”

Hier is ʼn paar maklike aanpassings vir jou alledaagse lewe om meer aktief te wees:

  • As jy openbare vervoer gebruik, staan eerder as om te sit.
  • Stap werk toe of winkel toe vir ʼn paar inkopies.
  • Gaan stap ʼn ent tydens jou middagete by die werk.
  • Staan elke halfuur op as jy by ʼn lessenaar werk.
  • Gebruik meer van jou tyd om goed rondom die huis te doen as om televisie te kyk.
  • Gebruik die trappe eerder as die hysbak of roltrappe.
  • Stap rond terwyl jy op jou selfoon praat.

Dit is die beste om ʼn verskeidenheid van kardiovaskulêre oefeninge soos stap, draf of fietsry met spieroefeninge, met of sonder gewigte, te kombineer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.