SA’ners eet steeds te veel sout

(Argieffoto)

Suid-Afrikaners word gewaarsku om minder sout te eet, juis omdat sout ʼn vernietigende impak op hul kardiovaskulêre stelsel kan hê.

Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics, sê Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van gevalle van hoëbloeddruk in Suidelike Afrika, met ʼn geskatte 35%.

“Sowat 90% van hoëbloeddruk-gevalle word nie voldoende behandel nie. Dit sluit pasiënte in wat nog nie gediagnoseer is nie, pasiënte wat reeds gediagnoseer is, maar nie behandel word nie en pasiënte wat gediagnoseer is en behandel word, maar nie voldoende nie,” sê Jennings.

Prof. Pamela Naidoo, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Hartstigting, sê onbeheerde hipertensie verhoog pasiënte se risiko op hartaanval, beroerte, hartversaking, niersiekte en pulmonale hipertensie, en dit plaas enorme spanning op Suid-Afrika se gesondheidsentrum.

“Daar is ʼn sterk skakel tussen hoë soutinname en verhoogte bloeddruk. Suid-Afrikaanse en internasionale hipertensieriglyne stel voor dat mense minder sout inneem om hipertensie te beheer.”

“Die Wêreldgesondheidsorganisasie stel voor dat mense nie meer as 5 g sout per dag eet nie, hoewel die meeste mense eintlik dubbel soveel sout eet, wat kommerwekkend is,” sê Naidoo.

Volgens Jennings kan honderde lewens jaarliks gespaar word as soutinname beter beheer word, aangesien hoëbloeddruk ʼn groot risiko is vir hartsiektes en beroertes.

“Geprosesseerde en verpakte kos is verantwoordelik vir die grootste hoeveelheid sout in ons dieet. Omdat mense nie self sout by hierdie kosse voeg nie, besef hulle nie hoeveel sout daar reeds in is wat skade veroorsaak nie.”

Naidoo sê mense word aangemoedig om kosetikette te lees om natrium-inname dop te hou, maar dat mense in ʼn gejaagde samelewing selde aandag daaraan gee of dat die etikette moeilik is om te verstaan.

Daarom bied Pharma Dynamics en die Suid-Afrikaanse Hartstigting ʼn aflaaibare dokument om op ʼn eenvoudige manier vir jou te wys watter kos te veel sout in het. Die dokument is hier beskikbaar.

Die hoësoutinname kos sluit in:

  • Kaas, gegeurde roomkaas en maaskaas
  • Geblikte kos, veral kos in pekelwater
  • Aftrekselblokkies, soppoeier en geblikte sop
  • Marinades en marinade-poeier
  • Olywe en agurkies
  • Geprosesseerde vleis soos polonie, ham, salami en worsies
  • Wegneemetes soos burgers, vis en skyfies, gekrummelde hoender en pizza
  • Gemengde speserye soos hoenderspeserye of BBQ-speserye
  • Smeermiddels soos margarien, botter en vleissmere
  • Worcestershire sous en sojasous
  • Aartappelskyfies, koekies en beskuitjies, en gekoopte springmielies

Jennings sê dit is belangrik vir almal om hul soutinname te bestuur aangesien navorsing toon dat selfs ʼn kleinafname soutinname kan lei tot die verminderde persentasie risiko vir kardiovaskulêre siekte (20%), ʼn hartaanval (20%), beroerte (35%) en hartversaking (40%).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anne-Marie ·

…gaan ons nou sout belasting ook moet betaal …..??

capie ·

Ja en na die soutbelasting seker asemhaal belasting. Die top sal wees ekstra belasting op toilet papier omdat bome afgekap word

Persheks Adri ·

Dankie vir die berig dis baie insiggewend. Nou net ‘n vraag: ek het lae bloeddruk 50 oor 80 so ek MOET kronies sout in kry anders kry ek blackouts soos in lelik. Ek eet lepels vol bovril juis oor dit so laag is. Ek kan nie op medikasie gaan nie, want dis dieet pille en weeg maar 45kg so hoe nou? Plus ek het lae suiker…

tweeling ·

Weereens ‘n algemene stelling. Dit is sommige Suid Afrikaners wat te veel sout eet, en hoë bloeddruk het nie noodwendig met meer sout inname te doen nie. Doen meer navorsing voordat julle ‘n artikel skryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.