Sê nee vir energiedrankies dié eksamen

Energiedrankies beloof dikwels verhoogde energievlakke, verstandelike opskerping, verbeterde fisieke prestasie en selfs gewigsverlies. (Foto: iStock)

Of jy nou die langpad vat of laataand vir die eksamen voorberei, dink twee keer voordat jy die een ná die ander energiedrankie opslurp, waarsku kenners waarmee Maroela Media gesels het. Dié korttermyn-energiehupstoot kan jou gesondheid se vlerke vinnig knip.

Energiedrankies beloof dikwels verhoogde energievlakke, verstandelike opskerping, verbeterde fisieke prestasie en selfs gewigsverlies. Nagenoeg $57,4 miljard (sowat R780 miljard) van dié dikwels verslawende modedrankies is in 2020 wêreldwyd verkoop en daar word geraam dat Suid-Afrikaners meer as 168 miljoen liter hiervan per jaar drink.

Al die blink beloftes op die blikkies ten spyt, sê dr. Dirk Lombard, mediese praktisyn van Kempton Park, is daar talle bewyse dat energiedrankies ernstige gesondheidsgevare, veral vir kinders, tieners en jong volwassenes, inhou.

“Ofskoon kafeïen een van die hoofbestanddele is, bevat die meeste energiedrankies ook guarana, ’n stimulant; taurine, ’n aminosuur; ginseng, ’n kruie-aanvulling; asook toegevoegde suikers.”

Volgens Lombard is veral die hoë kafeïen- en suikerinhoud kommerwekkend.

“Tieners tussen 12 en 18 jaar behoort nie meer as een koppie koffie per dag te drink nie, maar die kafeïeninhoud van talle energiedrankies oorskry dié beperking.”

Sommige energiedrankies bevat tot 170 mg kafeïen (teenoor 57 mg per koppie kitskoffie) en tot 58 g suiker (teenoor die Wêreldgesondheidsorganisasie se aanbevole perk van 30 g suiker per dag).

“Hoë konsentrasies kafeïen kan, onder meer, ernstige kardiovaskulêre probleme veroorsaak. Dit sluit in hartritmeversteurings, verhoogde polsslag, hartkloppings en verhoogde bloeddruk. Angstigheid, spysverteringsprobleme soos naarheid en braking, dehidrasie, hoofpyne en kafeïenonttrekkingsimptome kom ook algemeen voor,” sê Lombard.

Energiedrankies is gelaai met kafeïen en toegevoegde suikers. (Foto: iStock)

Sunette Kotze, ’n geregistreerde dieetkundige van Pretoria, stem saam en sê voedsame kos, nié energiedrankies nie, moet ons liggaam van volhoubare energie voorsien.

“Die meeste energiedrankies het ’n hoë glukemiese indeks (GI), wat beteken dat ’n klomp glukose baie vinnig in die bloedstroom beland. Die pankreas moet dan dié swak vervaardigde insulien afskei om die glukose te verwyder. Dit kan tot insulienweerstandigheid lei, wat weer oorgewig en tipe 2-diabetes tot gevolg het. En moenie van tandbederf vergeet nie!

“In ons gejaagde lewe eet ons boonop al hoe meer verwerkte en kitskos, en dié kossoorte laat nie ’n groeiende kind versadig voel nie. Daarom is hulle gedurig honger en moeg. Energiedrankies word dikwels ingespan om eetlus te onderdruk en jou ’n korttermyn-energie-inspuiting te gee.

“Swak eetgewoontes in kombinasie met energiedrankies kan voorts bydra tot allergieë, hiperaktiwiteit en aandagtekort by kinders,” sê Kotze.

Volgens Lombard kan die oormatige verbruik van energiedrankies ook tot slaap- en slaappatroonversteurings lei.

“Daar is voorts bevind dat daar ’n verband tussen energiedrankies en ’n verhoogde voorkoms van hoërisikogedrag is.

“Die meng van energiedrankies met alkohol is ’n toenemend onrusbarende verskynsel, veral by jong volwassenes. Mense ‘voel’ minder onder die invloed, terwyl hul koördinasie- en reaksievermoë inteendeel nét so beperk word.

“Dit is heeltemal moontlik om optimaal te presteer sonder om op kunsmatige hulpbronne staat te maak. Jou welgeskape brein en gesondheid is immers jou grootste bates,” sê Lombard.

Vyf gesonde(r) wenke

Volgens die kenners is dit in eksamentyd nodig om die boeke én breinkos nader te trek. Hulle beveel die volgende aan:

  • Leer kinders om genoeg water te drink – minstens ses tot agt glase per dag. Dit bly die beste medisyne vir sellulêre energie. Sit appelskywe, suurlemoenskywe of mentblare in die water of maak jou eie ystee.
  • Eet kos wat deur navorsing bewys is om jou geheue aan te wakker. Dit sluit in eiers, bessies, groen groentes, vrugte, neute en sade, avokado, en vis soos salm. Vermy kossoorte wat hoog in suiker en vet is.
  • Eet meer gereeld en kleiner etes om ’n bestendige vrystelling van energie te verseker en om die daling in energievlakke, wat met groot etes gepaard gaan, te voorkom.
  • Slaap genoeg. Om gunstige breinfunksionering te verseker, is dit belangrik om ten minste 6 tot 8 ure te slaap.
  • Roer jou litte! Oefening soos stap, draf en fietsry is voordelig vir breinaktiwiteit omdat dit bloedvloei deur die liggaam en na die brein bevorder. Die endorfiene wat deur oefening vrygestel word, gee jou breinfunksionering ’n hupstoot, veral as jy sukkel om te konsentreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Emile

Ek stem saam met die artikel maar wil graag weet hoe suiker vrye energie drankies vergelyk met die enes wat suiker in het.Meeste artikels oor die onderwerp handel slegs oor energie drankies vol suiker