Selftoetsing kan servikskanker stuit

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Servikskanker lei elke twee minute tot ’n vrou se dood êrens ter wêreld. In Afrika is die sterftesyfer ’n skrikwekkende 18 keer hoër as in die res van die wêreld. Volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika het 22,2 miljoen vroue ouer as 15 jaar die risiko om servikskanker te kry.

Altesaam 10 702 vroue word jaarliks hierdeur geraak, wat gelykstaande is aan tussen 23 en 27 vroue per 100 000, vergeleke met die wêreldgemiddeld van 16. Vroue wat met MIV leef, het boonop ’n ses keer hoër risiko om servikskanker te ontwikkel.

Die menslike papilloomvirus (MPV) is die primêre oorsaak van servikskanker. Die meerderheid vroue wat dié virus opdoen, sal geen simptome toon nie en sonder enige ernstige komplikasies herstel. In sommige gevalle kan die MPV-infeksie egter veranderings in die serviksselle teweegbring. Indien dit nie betyds opgespoor en behandel word nie, kan hierdie selle aggressiewe servikskanker oor ’n tydperk van vyf tot twintig jaar tot gevolg hê.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in 2020 ’n wêreldwye strategie van stapel gestuur om servikskanker as ’n openbare gesondheidsprobleem uit te skakel. Die potensiële impak van die WGO-strategie is enorm. Indien 90% van meisies teen 15-jarige ouderdom die volle MPV-inenting ontvang, 70% van vroue twee keer in hul leeftyd siftingstoetse ondergaan, en 90% van geïdentifiseerde gevalle behandeling ontvang, kan 15 miljoen lewens teen 2030 gered word en 62 miljoen sterftes as gevolg van servikskanker teen 2120 voorkom word.

Die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid het reeds in 2014 ’n veldtog uitgerol om skoolmeisies teen dié virus in te ent en vanjaar se MPV-inentingsrondte is vir 6 tot 20 Maart geskeduleer.

Volgens dr. Ntombi Sigwebela, streeksdirekteur van die internasionale organisasie sonder winsmotief Find, is die sterftesyfers skokkend omdat servikskanker voorkombaar én geneesbaar is as dit vroegtydig opgespoor word. Find beywer hom onder meer vir toegang tot betroubare diagnoses en die oorbrugging van kritieke gesondheidstoetsgapings.

“Die MPV-entstof is ’n deurslaggewende hulpmiddel in die langtermynuitwissing van die siekte. Een dosis van die MPV-entstof is genoeg om meisies teen servikskanker te beskerm. Teen 2022 het 61% van Suid-Afrikaanse tienermeisies tussen 9 en 14 jaar reeds die aanbevole tweedosis-inenting ontvang,” sê Sigwebela.

Die MPV-entstof het egter te laat gekom vir die huidige generasie volwasse vroue, sê sy. “Vir dié geslag is siftingstoetse deurslaggewend. Distriksgesondheidsdata skat dat ongeveer 50% van vroue ouer as 30 jaar die afgelope vyf jaar met konvensionele en vloeistofgebaseerde sitologie in die nege provinsies van Suid-Afrika getoets is.

“Die implementering van selftoetsing vir MIV en die ontploffing in diagnostiese tegnologie wat die Covid-19-pandemie meegebring het, is ’n groot tree nader om nuwe benaderings vir die vroeë opsporing van en sifting vir servikskanker uit te rol,” sê sy.

Selftoetsing bied hoop

Dr Ntombi Sigwebela (Foto verskaf)

Volgens Sigwebela versnel beleidmakers en diensverskaffers selftoetsing, wat dit moontlik sal maak om sifting vir servikskanker op ’n veel groter skaal uit te rol.

“Plaaslike studies het getoon dat selfsifting of -toetsing nie net aanvaarbaar is nie, maar bo bekkenondersoeke verkies word. Die feit dat vroue hulself doeltreffend vir servikskanker kan toets, ontsluit kultureel aanvaarbare sifting vir soveel meer vroue.”

Find is tans betrokke by ’n kliniese studie in die Oos-Kaap om die lewensvatbaarheid van selftoetse te evalueer wat in ’n droë toestand vervoer kan word, wat die toegang tot siftingsdienste na landelike en afgeleë gemeenskappe kan uitbrei deur die lewensduur van ’n “geldige” monster te verleng.

Volgens dr. Nono Simelela, voormalige assistent-direkteur-generaal vir families, vroue, kinders en adolessente by die WGO, verander selfsiftingstoetse die siftingsproses deur dit na die primêre gesondheidsorgvlak te bring. “Hierdie innoverende benadering bemagtig nie net vroue om beheer oor hul eie gesondheid te neem nie, maar skakel die behoefte aan indringende bekkenondersoeke uit.

“Boonop pak dit kapasiteitskwessies, aangesien molekulêre toetse maklik uitgebrei kan word en minder afhanklik is van die skaars beskikbaarheid van hoogs geskoolde patoloë. Die WGO glo selftoetsing demokratiseer sifting sonder om ander siftingsmetodes te laat vaar.

“Deur MPV-selftoetse wyer te implementeer, kan ons vroue se gesondheidsorg transformeer en die las van servikskanker op ’n wêreldwye skaal verminder,” sê Simelela.

Volgens Sigwebela moet die implementering van vroue-gesentreerde tegnologie geprioritiseer en bespoedig word, veral dié wat selftoetsing moontlik maak. “Vir Suid-Afrika om kanker te klop, moet ons toegang tot kostedoeltreffende, plaaslik vervaardigde diagnostiek verhoog sodat almal wat sifting vir servikskanker benodig, toegang daartoe kan kry. Dit is nie ’n uitgawe nie, maar ’n belegging in ons land se toekoms.”

  • Klik hier om ’n laboratorium in jou omgewing te vind wat MPV-selftoetsingstelle het. Lees ook meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karoo ·

Baie posetiewe nuus vir jong dames en vrouens. Ek glo hulle sal gebruik maak hiervan.

Anel ·

Wel as meisies op 9 al seksueel aktief is, is dit te verstane dat hulle hier vinniger kanker kry. Hoekom het dit nie vroëer jare gebeur nie? As my dogter nou daardie ouder was sou ek geweier het. Met die inspuiting stel dit die vrouens of meisies gerus dat hulle maar seksueel aktief kan wees want hulle is beskerm!!! Hoe onverantwoordelik!!!! Vir my is daar nog baie ander redes hoekom dit verkeerd is, maar sal maar eerder niks verder sê nie!!!

Diepoppie ·

Ek wens die ent was beskikbaar toe ek op skool was. Eks nou in my 30tigs. My ouma het serviese kanker gehad, dit was baie erg om te sien waardeur sy moes gaan. Die “binne” radiation was die ergste. Sy kon vir n paar dae nie loop na dit nie. En nou wag ons op die resultate om te hoor of my ma dit ook het. En as dit positief sou terug kom beteken dit dat ek meer gereeld my ginekoloog moet gaan sien. Mense wat nie al gesien het wat doen dit aan n vrou nie moet eerder stil bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.