Servikale kanker: Daar is hoop

(Foto: Verskaf/Kansa)

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) begin vandag sy servikale kankerbewustheid‑ en ondersteuningsveldtog op Internasionale Menslike Papillomavirus (HPV)-dag.

Servikale kanker is die hoofoorsaak van kanker-verwante sterftes en die tweede mees algemeen gediagnoseerde kanker (basale selkarsinoom uitgesluit) by Suid-Afrikaanse vroue.

HPV is die primêre oorsaak van servikale kanker by vroue. Dit veroorsaak 300 000 sterftes by vroue met servikale kanker wêreldwyd.

Kansa beoog om gedurende die volgende jaar bewustheid van servikale kanker en die verband met HPV te skep en om vroue bewus te maak van die risikofaktore en simptome daarvan, en om aandag te gee aan die belangrikheid van vroeë opsporing deur middel van siftingstoetse.

Nog ’n doel is om pasiënte en hul families in te lig en om hulle te laat verstaan wat hul regte is in die openbare gesondheidversorgingsektor en vir palliatiewe ondersteuning tydens hulle behandeling.

Hoekom servikale kanker?

Kansa is toegewyd aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se strategie en doel om servikale kanker die stryd aan te sê en te elimineer. Na ’n beroep deur die WGO in Mei 2018 om tot optrede oor te gaan, het 194 lande gesamentlik begin werk om onnodige lyding te verhoed van ’n kanker wat meestal voorkombaar en geneesbaar is.

Volgens die WGO het die wêreld reeds die nodige kennis en toerusting – dit moet net meer beskikbaar gestel word.

Elize Joubert, hoof‑ uitvoerende beampte van Kansa, sê hulle is toegewyd om vroue in te lig en op te voed oor een van die mees voorkombare kankers.

“In Afrika is servikale kanker die kanker waaraan die meeste vroue sterf. Dit behoort nie te gebeur indien inenting teen HPV en sifting van kanker korrek geïmplementeer word nie.”

Joubert sê Kansa gaan as deel van hul 90ste gedenkjaar, 9 000 papsmere aan die publiek beskikbaar stel om hierdie kanker te beveg.

“In samewerking met ons vennote in die gesondheidsektor, ouers, skole, tradisionele leiers en gesondheidswerkers sowel as gesondheidspraktisyns gaan Kansa vroue inlig en opvoed oor maniere om die risiko vir servikale kanker te verminder en vroue wat daarmee gediagnoseer is, te ondersteun.”

Vroue wat met HIV lewe, het ’n verhoogde risiko vir HPV-infeksie op ’n vroeë ouderdom (13 tot 18 jaar) en word gediagnoseer met servikale kanker op ’n vroeër ouderdom (tussen 15 en 49 jaar).

Die nasionale departement van gesondheid gee ’n vrou van 30 jaar en ouer drie papsmere by openbare gesondheidklinieke kosteloos in hul leeftyd. Vroue wat HIV-positief is, kry ’n gratis papsmeer by diagnose en daarna elke drie jaar as sy negatief getoets het vir servikale kanker.

Siftingstoetse om risiko te verminder

“As deel van ons siftingsprogramme maak Kansa gebruik van die betroubaarste klinies-beproefde vloeistof-gebaseerde sitologie-metode wanneer ’n monster tydens ’n papsmeer geneem word,” verduidelik Joubert.

’n Papsmeer help om abnormale selle, wat tot kanker kan lei, in die baarmoeder te identifiseer. As die resultaat enige abnormaliteit toon, kan Kansa help met ’n verwysing na ’n openbare gesondheidsinstansie of mediese praktisyn.”

Vroue tussen die ouderdomme van 18 tot 69 jaar word aangemoedig om hulle naaste Kansa-sorgsentrum te kontak vir ’n papsmeer-afspraak en om die jaarlikse datum op hul kalenders aan te teken.  Dit is baie belangrik dat vroue nie wegbly as hulle abnormale resultate ontvang nie. Servikale kanker kan suksesvol behandel word as dit in ’n vroeë stadium opgespoor word.

Ondersteuning

Joubert sê vroue wat met servikale kanker gediagnoseer is, moet weet dat hulle nie alleen is nie en dat daar hoop is om so ʼn diagnose te behandel.

“Ons verbind ons daartoe om vroue te help wat van ons papsmeerdienste gebruik maak, sowel as ander wat gediagnoseer is. Ons wil pasiënte help verstaan deur leiding te gee oor die proses van verdere ondersoeke en, waar nodig, kan die pasiënt na ’n mediese praktisyn verwys word.”

Kansa is daar om ondersteuning te bied, om voorspraak te maak om pasiënte in te lig om meer te leer oor servikale kanker en om die diagnose beter te hanteer.

“Ons begelei hulle ook om noodsaaklike dienste te bekom wat sal sorg vir beter behandeling en uitkomste. Ons sal ook help om seker te maak dat die pasiënt berading en pynmedikasie gedurende behandeling kan bekom.”

Verdryf van mites en stigma

As deel van die veldtog wil Kansa werk daarvan maak om die mites en stigma om servikale kanker te verdryf.

“Mites, wanopvattings en verkeerde inligting oor servikale kanker kan groot skade aanrig. As ’n pasiënt aan stigma blootgestel word, kan dit die persoon negatief beïnvloed – en ook die besluite wat geneem word. Dit kan selfs ’n negatiewe invloed hê op voorkoming, om hulp te soek en om intensiewe behandeling te oorweeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eend Bessinger ·

Laat jou vroeg diagnoseer. Ek het endometriale kanker gehad wat baie vroeg verwyder is – terwyl dit nog besig was om te groei voor dit sou begin versprei. Vandag, meer as 20 jaar later, het ek steeds geen teken van verspreide kanker nie. Endometriale kanker kan baie vinnig versprei as dit nie vroeg opgespoor word nie en verskeie sekondêre kankers enige plek in jou lyf veroorsaak. Ek het ‘n histerektomie op 30-jarige leeftyd gehad en vandag is ek dankbaar dat ek verdere pyn en lyding gespaar is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.