Sielkundige impak van Covid-19 en wat om daaromtrent te doen

Foto ter illustrasie. (Foto: Jude Beck/Unsplash.)

Twee sielkundiges van die Noordwes-Universiteit (NWU) sê dit is duidelik dat verskillende mense verskillend op die Covid-19-krisis reageer.

Rümando Kok en prof. Pieter Kruger, albei senior kliniese sielkundiges by die Instituut vir Sielkunde en Welstand (ISW) in die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie op die NWU se Potchefstroom-kampus, meen dit is verstaanbaar dat ’n groot aantal mense se angsvlakke as gevolg van die pandemie verhoog het, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd.

“Angs word omskryf as ’n gevoel van bekommernis, senuagtigheid of ongerustheid oor iets met ’n onseker uitkoms. Hoewel die bedreiging ’n werklikheid is, en mense ongelukkig al van die virus dood is, is die sielkundige risiko in hierdie situasie dat ons denkstyle die reeds delikate situasie waarin ons ons bevind beduidend kan vererger.”

Hulle sê die internasionale navorsingsgemeenskap voorspel dat ’n geraamde 95% van mense wat die virus opdoen in werklikheid slegs geringe tot matige simptome sal hê, maar dat die sielkundige uitwerking van die pandemie trouens ’n baie erge impak op die geestesgesondheid van mense regoor die wêreld kan hê.

“Dit behels nie soseer die oorskatting van die kans dat jy die virus kan opdoen nie (met die Suid-Afrikaanse regering wat voorspel dat ongeveer tot sowat 80% van alle Suid-Afrikaners die virus sal kry), maar eerder ons onderskatting van ons vermoë om dit te hanteer.”

Volgens Kok en Kruger is angs oor die opdoen van die virus en ons onvermoë om dit te hanteer een deel van die probleem.

“’n Verdere probleem wat ons nou in die gesig staar, is die gevolge van die regering se strategieë (met reg) om die virus te beperk. Dit sluit self-isolasie, sosiale distansiëring en selfs kwarantyn in. Hierdie onnatuurlike en skielike gedwonge veranderings in gedrag skep ’n nuwe stel geestesgesondheidsuitdagings.”

Hoe hanteer ons die gebrek aan roetine, potensiële verveling, die feit dat ons geografies tot ’n beperkte gebied ingehok word en die onvermoë om van aangesig tot aangesig by sekere ondersteuningsgroepe betrokke te wees?

“Mense kan nie aan spansport deelneem soos in die verlede, gimnasium toe gaan of vryelik kroeë, flieks en restaurante besoek om verligting van hulle daaglikse stresfaktore te kry nie. Ons word ook baie naby aan ons onmiddellike gesin- en familielede of huismaats ingeperk, en dit kan beduidende stremming op verhoudings plaas, wat tot verdere uitdagings vir geestesgesondheid kan lei.

“Hoewel talle mense die vermoë het om van die huis af te werk, sal telekommunikasie frustrasie en uitdagings van sy eie veroorsaak, soos miskommunikasie, probleme met opvangs en die gesondheidsuitdagings wat veroorsaak word deur die feit dat jy heeldag voor ’n rekenaar sit.”

Hulle sê dat dit teen hierdie agtergrond dus belangrik is om maniere te kry om ons ingesteldheid by die nuwe realiteit aan te pas, ten minste vir tyd en wyl.

“Ons moet tussen beheerbare en onbeheerbare faktore kan onderskei. Individueel het ons geen beheer oor die protokolle en besluite wat deur die regering uitgereik word nie, en daar word van ons verwag om dit na te volg. Ons kan nie die virus beheer nie, en ook nie die impak wat dit op baie mense gaan hê nie. Wat ons egter wel kan beheer, is hoe ons op die huidige situasie reageer. Ons kan slagoffers wees, of ons kan die beste van die situasie maak.”

Prof. Pieter Kruger (links) en Rümando Kok is albei senior kliniese sielkundiges by die Instituut vir Sielkunde en Welstand (ISW) in die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie op die NWU se Potchefstroom-kampus. (Foto: NWU/Verskaf.)

Kok en Kruger verduidelik dat indien ons op die faktore fokus wat beheer kan word, soos gedrag en denkprosesse, ons nie net aan mense ’n potensieel nuwe roetine en duidelike fokus gee nie, maar dat dit hulle sal keer om voortdurend aan die slegste scenario te dink en beslis die vlakke van onsekerheid – en dus ook hulle angs – sal verlaag.

“Al is die gevolge van Covid-19 verreikend en reeds tasbaar, beteken dit nie ons is sonder hoop en mag nie. Vir diegene wat noodsaaklike dienste lewer en van inperking uitgesluit is en dus steeds werk toe moet gaan, moet streng voorsorgmaatreëls geld ten einde die werkomgewing veilig te hou vir almal wat betrokke is. Vir diegene wat die beginsels van sosiale distansiëring toepas en van die huis af werk, word dit as belangrik beskou om betekenisvolle interpersoonlike bande in hierdie tyd te handhaaf en om te verseker dat die daaglikse lewe deur doelgerigte en betekenisvolle aktiwiteite gekenmerk word. As ons op ’n innoverende manier hierna kyk, skep dit tyd vir betekenisvolle gesinsinteraksie en ‑bande (iets wat in die moderne tyd skaars is).

“As ons die kwessie van Covid-19 wil pak, is dit onvermydelik dat ons ’n gesamentlike poging moet aanwend om dinge anders te doen, nie net op individuele vlak nie, maar ook op ’n sistemiese vlak. Dit is nodig om as gemeenskap te verenig en konsensus te bereik in ons benadering ten einde uit ’n ooreenstemmende standpunt te funksioneer. Dit is nie ’n tyd om paniekerig te raak of onnodige vrees te skep nie, maar ons moet ook nie onbewus bly van of hierdie wêreldwye bedreiging ontken nie. Dit is ’n tyd om saam te staan, versigtig te wees en na onsself en ander om te sien.”

Praktiese voorstelle om die angs te hanteer, sluit in:

  1. Hou ’n plan gereed: As jy jou die heeltyd bekommer dat jy die virus gaan opdoen, is dit soos om in ’n wipstoel te sit – dit gee jou iets om te doen, maar dit neem jou nêrens heen nie. Wees dus meer proaktief: beoefen duidelike gesondheidsgedrag, was jou hande, vermy plekke met baie mense en volg die regering se inperkingsinstruksies – maar moenie heeldag in die spreekwoordelike wipstoel sit nie. Hou ’n plan gereed om die situasie te hanteer!
  2. Fokus op dinge wat saak maak: Bestee tyd aan ’n paar goed wat saak maak, of stokperdjies waarvoor jy selde tyd het (binne perke), bou verhoudings, lees meer en kry genoeg rus. Daar is talle belangrike dinge wat ons nog in hierdie tyd kan doen. Fokus op die dinge wat die meeste in jou lewe saak maak!
  3. Behou perspektief: Hoewel die bedreiging ’n werklikheid is, moet ʼn mens nie die menslike liggaam se vermoë om ’n virus te beveg, onderskat nie – veral as jy gesond is en geen onderliggende gesondheidsprobleme het nie. Dit is waarskynlik dat 95% van alle mense wat die virus opdoen, slegs geringe of matige simptome sal hê en binne ’n kort tydjie sal herstel. Die situasie sal wel op die een of ander stadium verander. Ons moet deur die vroeë maande sterk staan, aangesien mense mettertyd hulle natuurlike immuniteit (bekend as tropimmuniteit) sal begin opbou. Wees intussen verstandig, maar moenie ophou leef nie. Fokus op die dinge waaroor jy beheer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.