Sit jy heeldag? Sóveel moet jy dan oefen

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Jonathan Borba)

Ons weet dat om uur na uur stil te sit nie goed is vir ons nie, maar hoeveel oefening moet ons doen om die negatiewe uitwerking wat ʼn dag agter die lessenaar op ons gesondheid het teen te werk?

Navorsing wat reeds in 2020 gedoen is, het bevind dat ʼn sweetsessie van sowat 30 tot 40 minute per dag voldoende sal wees.

Volgens dié navorsing sal sowat 40 minute se matige tot strawwe, intense fisieke aktiwiteit per dag die tien ure se sit uitbalanseer, hoewel enige hoeveelheid oefening, en selfs net regop staan, tot ʼn mate sal help.

Dit is geskoei op ʼn meta-analise uit nege vorige navorsingsondersoeke wat 44 370 mense uit vier verskillende lande wat ʼn vorm van ʼn fiksheidsmetingstoestel dra ingesluit het.

Die analise het bevind dat die risiko van sterftes onder diegene wat ʼn meer sittende leefstyl handhaaf, toeneem namate deelname in fisieke aktiwiteit afneem.

“In aktiewe individue wat sowat 30 tot 40 minute se matige tot strawwe fisieke aktiwiteite doen, is die ooreenkoms tussen hoë sedentêre tyd en die risiko van sterftes nie beduidend verskillend in diegene wat lae hoeveelhede tyd sittend deurbring nie,” het navorsers verlede jaar in die British Journal of Sports Medicine (BJSM) geskryf.

Met ander woorde, deelname aan redelike intensiewe aktiwiteite soos fietsry, stap en tuinmaak kan die risiko van ʼn vroeë dood laat afneem.

Deur die trappe in plaas van die hysbak te neem is ‘n manier om meer aktief te wees. (Foto: Unsplash/Lindsay Henwood)

Terwyl meta-analises soos dié altyd uitgebreide ooreenkomste tussen verskillende navorsingsondersoeke deur verskeie vrywilligers, tydskale en toestande vereis, is die voordeel van hierdie spesifieke navorsing dat dit totaal berus op relatief objektiewe data deur fiksheidsmetingstoestelle en nie op data wat self deur deelnemers weergegee is nie.

Die navorsing is saam met die Wêreldgesondheidsorganisasie se 2020 Global Guidelines on Physical Health and Sedentary Behaviour-verslag uitgereik en is saamgestel deur 40 wetenskaplikes van ses vastelande.

“Hierdie riglyne is baie tydig, gegewe dat ons te midde van ʼn wêreldwye pandemie is wat mense vir langer tydperke binnenshuis ingeperk het en die toename in sittende gedrag bevorder het,” het Emmanuel Stamatakis, ʼn fisieke aktiwiteit- en bevolkingsgesondheidsnavorser van die Universiteit van Sydney in Australië gesê.

“Mense kan steeds hul gesondheid beskerm en die nadelige invloed van fisieke onaktiwiteit afwend,” sê Stamatakis, wat nie deel was van die meta-analise nie, maar die mede-redakteur van die BJSM is.

“Soos wat hierdie riglyne stipuleer, tel alle fisieke oefening in enige hoeveelheid en is dit beter as niks.”

Deur die trappe in plaas van die hysbak te neem, met kinders en troeteldiere te speel, aan joga of dans deel te neem, huishoudelike take te verrig, stap of fiets te ry word alles as maniere weergegee waarop mense meer aktief kan wees. En, sê navorsers, as jy nie dadelik 30 tot 40 minute kan handhaaf nie, oorweeg korter periodes.

“Ons is byvoorbeeld steeds nie seker presies wat die barometer vir ‘te veel sit’ is nie. Maar in ʼn vinnige navorsingsomgewing is ons hoopvol dat ons binne die bestek van die volgende paar jaar die antwoorde sal hê.”

Die navorsingsverslag is hier gepubliseer en die WGO-riglyne is hier gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.