Skerp jou kennis oor beroertes op en red lewens  

Beroerte is wêreldwyd die grootste oorsaak van gestremdheid en die tweede grootste oorsaak van sterftes. ʼn Kommerwekkende een uit elke vier volwassenes sal in hul leeftyd ʼn beroerte kry, maar met verbeterde bewustheid oor hierdie toestand kan ʼn beroerte voorkom word.

Prof. Andre Mochan, ʼn neuroloog by Netcare se rehabilitasiehospitaal in Johannesburg, sê ʼn beroerte vind plaas wanneer bloedvate wat suurstof en nutriënte na die brein vervoer, skielik geblokkeer word of bars. Dit lei daartoe dat selle in die brein beskadig word, wat lei tot simptome of tekens van ʼn beroerte.

“ʼn Beroerte is soortgelyk aan wat met die hart gebeur tydens ʼn hartaanval,” sê hy, “en daarom word daar ook dikwels na ʼn beroerte verwys as ʼn ‘breinaanval’. Wat mense egter nie weet nie, is dat die meeste vorms van beroerte voorkombaar is deur ʼn gesonde leefstyl te handhaaf en om risiko’s soos hoë bloeddruk en cholesterol betyds te bestuur.”

Dit behels eerstens die verandering van ʼn ongesonde sittende leefstyl na ʼn gesonde leefstyl wat fisieke aktiwiteit en ʼn gebalanseerde dieet insluit en sigaretrook uitsluit. Tweedens is bewustheid oor behandeling en risikofaktore belangrik.

“Soveel as 90% van beroertes kan voorkom word deur aandag te gee aan risikofaktore soos hipertensie, dieet, rook en die gebrek aan oefening. Ander risiko’s is ouderdom, geslag en familiegeskiedenis,” sê Mochan.

Mans, individue ouer as 55 en mense met ʼn geskiedenis van beroerte in hul familie loop ʼn groter risiko om die toestand op te doen.

Mochan sê die beste behandeling vir ʼn beroerte moet binne vier en ʼn half uur ná die aanvang van die beroerte gebied word. Vinnige optrede is derhalwe beslissend.

“Vinnige reaksie kan ʼn beroerte omkeer of ten minste die risiko vir gestremdheid verminder, so moenie huiwer om ʼn nooddiens te bel as jy vermoed iemand kry ʼn beroerte nie.”

Verminder so jou risiko om ʼn beroerte te kry:

  • Volg ʼn laevet, laesout en hoë veselryke dieet; eet ook baie groente en vrugte
  • Raak ontslae van oortollige gewig
  • Beheer hoë bloeddruk
  • Beheer hoë cholesterol
  • Doen 40 minute se oefening vier maal per week
  • Beheer diabetes
  • As jy rook of dwelms gebruik, word aanbeveel dat jy ophou; as jy alkohol gebruik, doen dit met matigheid

Ken die simptome van ʼn beroerte:

  • Een kant of ʼn deel van die gesig hang
  • Swakheid in die arms of bene
  • Swakheid of gevoelloosheid langs een of albei kante van die liggaam
  • Balans- en koördineringsprobleme
  • Skielike verandering in sig, of blindheid in een of albei oë
  • Abnormale spraak
  • Skielike, erge hoofpyn sonder rede

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Mad Mike die Rhodesiër

Dis nou ‘n hartaanval in die kop – en nog gevaarliker! Dis beslis nodig om jou kennis op te skerp.