Slaap – jou immuniteit se geheime wapen

(Foto: Gregory Pappas/Unsplash.)

“Slaap is vir die voëls” hoor ons dikwels by mense wat dink slaap is ’n mors van tyd.  Sulke mense glo hulle kan baie vermag in die ses of wat ure wat ander rus.  Nuwe navorsing oor slaap beklemtoon egter die belangrike rol wat ’n goeie slaapsessie van ses tot tien ure in ons algehele gesondheid en selfs die doeltreffendheid van ons immuunstelsel speel.  Soveel so dat mense wat nie genoeg slaap nie, waarskynlik meer vatbaar is vir die griepvirus of selfs Covid-19.

Dr. Dale Rae, slaapwetenskaplike en hoof van die eenheid vir slaapwetenskap aan die Universiteit van Kaapstad, sê ons liggaam vervaardig teenliggaampies en raak ontslae van gifstowwe hoofsaaklik wanneer ons slaap.  Dit is een van die redes hoekom mense wat nie goed of genoeg slaap nie, meer vatbaar is vir virusse.

Navorsers in Duitsland het in 2019 het ’n studie gedoen oor die invloed van slaap op ons immuniteit en hulle het bevind ’n goeie slaapsessie verbeter die vervaardiging van die proteïene bekend as sitokiene en witbloedselle bekend as T-selle.  Die T-selle veg teen patogene in ons bloedstroom en veg teen virusbesmette en kankerselle.  Die doeltreffendheid van die T-selle word aangehelp deur jou liggaam wat minder adrenalien afskei gedurende ’n goeie slaapsessie en dit maak die T-selle taaier sodat hulle beter kan kleef aan kanker- of virusbesmette selle.

In 2015 is’n studie gedoen in Engeland met 164 vrywilligers wat gewone griep gehad het. Die studie het gevind dat mense wat minder as ses ure slaap ’n aand kry, vier keer meer geneig is om griepsimptome te ontwikkel as mense wat sewe ure en meer geslaap gekry het. Dit is omdat die immuunstelsel steeds aktief is gedurende die eerste derde van ’n nag wanneer ons diep slaap.

“Wanneer jy ’n virus beveg, sal jou liggaam se immuunstelsel jou moeg en slaperig maak sodat jy die infeksie meer doeltreffend kan beveg en jy vinniger kan herstel. As jy dan besluit om nie gehoor te gee aan jou liggaam se versoek nie, kan dit heel moontlik die duur van die siekte verleng.  Koors is deel van jou liggaam se proses om die virus te beveg en dit gebeur ook hoofsaaklik wanneer jy slaap,” sê prof Jason Ellis, hoof van die Northumbria-slaapnavorsingslaboratorium in Engeland.  Kroniese slaapverlies kan selfs entstowwe soos die griepentstof se doeltreffendheid verlaag weens jou liggaam se onvermoë om te reageer op die virusstringe waaraan dit blootgestel word.

Verban eerder enige tegnologiese toestelle uit jou slaapkamer. (Foto: Eea Ikeda/Unsplash.)

Algehele gesondheid

“Slaap het talle funksies wat bydra tot ons algehele gesondheid. Daar is talle studies wat bewys dat te min slaap jou metabolisme verlaag en ook jou kans om hartkwale, diabetes en Alzheimersiekte te ontwikkel, verhoog,” sê dr Rae.  Sy sê wetenskaplikes het eers onlangs die waarde wat slaap inhou vir ons algehele gesondheid ontdek.  “Wanneer ons slaap, doen ons liggaam noodsaaklike onderhoud- en herstelwerk. ”

Volgens haar is die duur van ’n slaapsessie nie die enigste maatstaf vir goeie slaap nie, maar ook die gehalte daarvan.  “Ons liggaam is ingestel op ’n natuurlike ritme en is gesinkroniseer met die dag- en nagsiklusse.  Dit is baie beter om in die nag te slaap.  Nagskofwerkers se gesondheid word op die lange duur juis daardeur beïnvloed.”

Sy meen die gehalte van jou slaap word gereflekteer in jou energievlakke gedurende die dag en hoe vinnig jy moeg of geïrriteerd raak.  “As jy genoeg goeie slaap kry, behoort jy meer stabiele energievlakke gedurende die dag te ervaar, met ’n goeie geheue, en verhoogde produktiwiteit.”

Dr Rae sê almal ervaar op ’n tydstip ’n stresvolle periode in hul lewe wat veroorsaak dat slaappatrone daaronder ly.  “Wanneer jy langer as drie weke nie genoeg slaap kry nie, begin dit ’n negatiewe uitwerking op jou gesondheid en geestestoestand hê.”

Sy beveel aan dat mense wat sukkel om te slaap die onderliggende fisieke of emosionele probleem identifiseer en aandag daaraan gee.  “Die onvermoë om te slaap is gewoonlik ’n simptoom van ’n groter probleem wat eers opgelos moet word.  Daarvoor kan jy alternatiewe behandelinge soek, soos om medikasie te neem vir fisieke pyn of om ’n sielkundige te gaan sien om emosionele uitdagings te oorkom.”

Dr Rae meen daar is praktiese gewoontes wat ’n persoon kan aanleer om beter te kan slaap.  “Jou slaapkamer moet verkieslik net vir slaap gebruik word.  Los jou elektroniese toestelle buite jou slaapkamer en moet nie werk daar doen nie.  Skep ’n atmosfeer van rus en vrede sodat jou liggaam gewoond daaraan kan raak om af te skakel as jy bed toe gaan.  Belê in ’n goeie bed en mooi beddegoed en maak seker jou kamer is donker genoeg as jy dalk ligsensitief is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae