Slaaploosheid, die energiesteler van ons tyd

(Foto: Alexandra Gorn/Unsplash)

Deur Heléne Richter

Alle persone slaap van tyd tot tyd ʼn nag sleg. Dit is daardie nagte wanneer jy ure lank wakker lê, desperaat probeer om aan die slaap te raak, maar nie kan ophou om jou oor môre te bekommer nie.  Dit kan ook gebeur dat jy die hele nag herhaaldelik wakker word, of nie in die vroeë oggendure kan slaap nie. Een derde van die wêreld se bevolking ervaar korttermyn slaapprobleme. Dit duur gewoonlik net ʼn paar weke. Ongelukkig vir ʼn sekere persentasie van hierdie persone, kan dit baie langer duur en lei tot ʼn diagnose van slaaploosheid. Hierdie slaapstoornis word gekenmerk deur probleme om te begin slaap, deur gereeld of te vroeg wakker te word en nie weer aan die slaap te raak nie, of deur ʼn goeie aantal ure te slaap, maar steeds moeg te voel.

Wat is slaaploosheid?

Daar bestaan twee soorte slaaploosheid:

  1. Primêre slaaploosheid

Probleme met slaap verwys nie na ander mediese of psigiatriese probleme nie.  Slaaploosheid kan egter siektes soos angs veroorsaak. Angs ontwrig die slaap verder, wat angs verder vererger.

  1. Sekondêre slaaploosheid

Hierdie persoon het slaapprobleme as gevolg van sekere probleme, byvoorbeeld siekte (depressie, asma, artritis, kanker, hartsiektes), pyn, medikasie of middels (alkohol, dwelms).  Simptome en oorsake hiervan kan die volgende wees:

  • ʼn Probleem om aan die slaap te raak.
  • Wakker word gedurende die nag as gevolg van menopousale warm gloede of rustelose beensindroom.
  • Te vroeg wakker word.
  • Om nie goed uitgerus te voel nie, selfs al het jy ʼn nagrus gehad.
  • Moegheid bedags.
  • Prikkelbaarheid en depressie (selfs te veel slaap kan slaaploosheid vererger).
  • ʼn Onvermoë om aandag te gee, te konsentreer of dinge te onthou.
  • Voorskrifmedisyne vir onder andere depressie, hipertensie, stimulante en kortikosteroïede kan slaappatrone negatief beïnvloed.
  • Meer foute word begaan of ongelukke vind plaas.
  • Spanning, kommer oor werk, gesondheid, skool of gesin kan die gedagtes snags aktief hou en veral hoofpyn veroorsaak.
  • Mediese toestande, byvoorbeeld asemhalingsprobleme, die noodsaaklikheid om gereeld te urineer, ooraktiewe skildklier, Parkinsons of Alzheimers.
  • Daaglikse angs of ernstige angsversteurings, soos posttraumatiese stresversteuring, kan slaap ontwrig. Indien jy bekommerd is oor die feit dat jy slaaploos gaan wees, kan dit die probleem vererger.
  • Verandering van omgewing of roetine, byvoorbeeld verhuising of verandering van skool.
  • Die gebruik van kafeïen, nikotien en alkohol. Koffie, tee en drank wat kafeïen bevat, is stimulante en kan met slaap inmeng as dit in die middag geneem word. Nikotien is ook ʼn stimulant wat slaaploosheid kan veroorsaak. Alkohol is ʼn kalmeermiddel, maar dit kan verhoed dat diep stadiums van slaap bereik word en kan slaapversteurings gedurende die nag veroorsaak.
  • Ouderdom speel ook ʼn belangrike rol. Ouer persone ly makliker aan slaaploosheid as jonger persone. Hul fisiese aktiwiteite neem af, gevolglik beïnvloed dit die slaappatroon.

Behandelings vir slaaploosheid

’n Kommerwekkende aantal mense sukkel sedert die eerste inperking in 2020 met slaapversteurings. (Foto: iStock)

Verskeie terapieë oor nuwe gedrag, gewoontes en maniere word gebruik om die kwaliteit van slaap te verbeter. Dit word aanbeveel as die eerste behandelingslyn en is gewoonlik net so effektief as medisyne. Hier volg ʼn paar voorbeelde daarvan:

Kognitiewe gedragsterapie (CBT)

Dit fokus op die verbreking van die kringloop van geheueverlies. Swak gehalte slaap lei tot spanning en angs, wat slaaploosheid vererger en lei tot meer spanning en angs. Swak gewoontes, soos die gebruik van slaappille en alkohol of die neem van lang ontydige slapies kan ontwikkel. CBT het ten doel om gedagtes en gevoelens oor slaap te verander. Dit lewer nie onmiddellike resultate nie en verg geduld en uithouvermoë. Op die lang duur is dit wel ʼn veiliger en effektiewer behandeling as medikasie.

Ontspanningstegnieke

Progressiewe spierverslapping en asemhalingsoefeninge kan angs teen slaaptyd verminder. Hierdie tegnieke help om asemhaling, hartklop, spierspanning en buie te beheer.

Slaapbeperking

Dit verminder die tyd wat in die kamer spandeer word, wat aanvanklik gedeeltelik ʼn slaaptekort veroorsaak en die persoon die volgende nag moeër laat voel. As die slaap verbeter, word die tyd in die bed geleidelik verhoog.

Paradoksale behandeling

Dit het ten doel om bekommernisse en angs oor die vermoë om aan die slaap te raak, te verminder.  Probeer eerder om wakker te bly as om bekommerd te wees oor die onvermoë om te slaap.

Ligterapie

Wanneer ʼn persoon te vroeg aan die slaap raak en dan weer te vroeg wakker word, kan ligterapie gebruik word om die “interne horlosie” te korrigeer.

Medisyne

Voorgeskrewe geneesmiddels soos zolpidem, eszopiclon, zalepton of ramelteon kan hulpmiddels wees om aan die slaap te raak. Die gebruik van slaappille vir meer as ʼn paar weke word nie aanbeveel nie, alhoewel sommige middels goedgekeur is vir langtermyngebruik.

Volgens die Amerikaanse vereniging van afgetrede persone kan die volgende middels egter slaaploosheid veroorsaak:

  • Kortikosteroïede – Dit word gebruik by pasiënte met allergiese reaksies, lupus, rumatoïede artritis en vir spierontsteking.
  • Statiene – Dit word gebruik vir die behandeling van hoë cholesterolvlakke.
  • Alfa-blokkers – Dit word gebruik vir die behandeling van hipertensie en goedaardige prostaathiperplastie.
  • Selektiewe remmers vir heropname van serotonien – Dit word gebruik vir pasiënte met depressie.
  • Cholinesterase-inhibeerders – Dit word gebruik om geheueverlies en ander simptome by pasiënte met demensie te behandel.
  • Glukosamien – Dit is voedingsaanvullings wat gebruik word om simptome van gewrigspyn en inflammasie te verminder.

Maak ‘n plan om genoeg te slaap. (Foto: iStock)

Alternatiewe medisyne

Heelwat persone besoek nie ʼn professionele persoon nie en slaag daarin om slaaploosheid alleen te oorkom. Alternatiewe medisyne, waarvan daar in sommige gevalle geen navorsing oor veiligheid en doeltreffendheid is nie, is die volgende:

  • Melatonien – Die liggaam produseer natuurlik melatonien wat in die bloedstroom vrygestel word. Die vrystelling neem gedurende die aand toe en neem gedurende die oggend af. Dit lyk asof ouer mense meer voordele het as gevolg van melatonien, hoewel daar geen bewyse is dat dit effektief is nie. Dit word oor die algemeen vir ʼn paar weke as veilig beskou, maar die langtermynveiligheid daarvan is onbekend.
  • Valeriaan – Dit is ʼn aanvulling wat verkoop word as hulpmiddel om beter te slaap. Dit het ʼn matige kalmerende effek.
  • Akupunktuur – Dit is die plasing van klein naalde op spesifieke punte op jou liggaam. Daar is reeds bewyse dat hierdie metode sommige mense met slaaploosheid bevoordeel.
  • Joga – Sommige studies dui daarop dat dit slaapkwaliteit kan verbeter.
  • Oordenking – Meditasie tesame met konvensionele behandeling kan die kwaliteit van slaap verbeter. Dit het ook ander voordele, soos die vermindering van spanning of beheer van bloeddruk.

Wanneer is dit tyd om professionele hulp in te win?

Wanneer enige van die genoemde behandelings toegepas is en die slaap jou nog steeds ontwyk, kan ʼn spesialis se hulp ingeroep word, veral as slaaploosheid die volgende veroorsaak:

  • Geen genoemde strategie ʼn oplossing lewer nie.
  • Dit groot probleme tuis, op skool of by die werk veroorsaak.
  • Die pasiënt simptome soos borskaspyn of kortasem ervaar.
  • Dit elke aand voorkom en vererger.

Komplikasies

Slaap is net so belangrik vir ʼn mens se gesondheid as om ʼn behoorlike dieet te hê en te oefen. Wat ook al die oorsaak is, slaaploosheid kan negatiewe gevolge hê op alle lewensterreine, sowel as op geestelike en fisiese gesondheid.

Komplikasies kan wees:

  • Laer produktiwiteit by die werk of skool.
  • Minder reaksietyd tydens bestuur.
  • Psigiatriese probleme, soos angs of depressie.
  • Prikkelbaarheid
  • Groter kanse om siektes of toestande soos hipertensie, diabetes of hartsiektes op te doen.
  • Middelmisbruik

Slaaploosheid en Covid-19

Covid-19 het ʼn direkte en indirekte impak op ʼn persoon se slaapgehalte en het veral ʼn groot neurologiese en psigiatriese impak gehad op soveel as ʼn derde van die mense wat siek was. Die pandemie is ook besig om mense meer angstig en depressief te maak. Die liggaam funksioneer op ʼn 24 uur-siklus, wat die Circadian Rhythm genoem word. Dit kom daarop neer dat daar oor ʼn tydperk van 24 uur sekere dinge moet plaasvind vir optimale gesondheid en funksionering. Sekere funksies vind hoofsaaklik plaas in die dag en ander snags tydens slaap. Elke slaapfase het dan ook sy eie funksies. Die noodsaaklike REM-slaap (rapid eye movement) het ʼn meer kognitiewe funksie. Tydens hierdie slaap is die brein besig om te prosesseer, organiseer en te stoor.  ʼn Tekort aan REM-slaap lei tot geheue- en konsentrasieprobleme.

Twee jaar sedert die begin van die pandemie het mense begin gewoond raak aan die “nuwe normaal”. Normaal beteken egter ook om genoeg gehalteslaap te kry en as daar nog steeds elke aand tevergeefs gewag word vir Klaasvakie, is dit tyd om hulp te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AmY

Baie interessant.
Baie dankie.