Smoor sooibrand só

Sooibrand is lastig en teister ons almal die een of ander tyd. Wanneer moet ‘n mens bekommerd wees? (Foto: iStock)

Almal word die een of ander tyd deur sooibrand gestriem. Of dit nou ná ’n postinperkingspartytjie of ’n stert-skroei-speserydis is. Sooibrand het die nare gewoonte om jou met bedtyd te bekruip, soos ’n lastige luitoon net nadat jy uiteindelik ingesluimer het.

Waar kom dit vandaan, hoe slaan ’n mens sooibrand hok en ís dit sooibrand of is ek besig om ’n hartaanval te kry?

Wat is sooibrand presies?

Sooibrand, suurrefluks en slegte spysvertering is algemene terme wat gebruik word om spysverteringsprobleme te beskryf. Benewens sooibrand kan simptome van refluks en slegte spysvertering insluit slukprobleme, druk of ’n swaar gevoel ná etes, opgeblasenheid, maag- of buikpyn en krampe.

Sooibrand, wat benewens ’n brandpyn in die bors ook ’n bitter of suur smaak in die mond veroorsaak, ontstaan as gevolg van maagsappe wat ná ete of snags in die slukderm opbeweeg en tot ’n brandende ongemak lei wat erger word as jy lê of vooroor buig.

Normaalweg ontspan ’n spierband aan die onderkant van die slukderm (onderste esofageale sfinkter) as jy sluk, sodat voedsel en vloeistof in jou maag kan beland. Dan trek die spier weer styf. As dié esofageale sfinkter abnormaal ontspan of verswak, vloei maagsuur terug na die slukderm.

Wat vuur sooibrand aan?

As jy oorgewig of swanger is, sal jy heel waarskynlik meer gereeld met sooibrand sukkel. Hier is nog sooibrandsondaars:

  • kos met baie kruie of speserye;
  • rook;
  • medikasie soos bloeddrukmedikasie, antidepressante en antibiotika;
  • uie;
  • sitrusprodukte;
  • tamaties en tamatiesous;
  • vetterige of gebraaide kos;
  • peperment;
  • sjokolade;
  • alkohol, gaskoeldrank, koffie en ander kafeïendrankies; en
  • groot maaltye.

Slaan sooibrand só hok

et jy geweet dat piesangs natuurlike teensuurmiddels bevat? Eet elke dag ’n piesang om suurrefluks te voorkom. (Foto: iStock)

Ofskoon daar verskeie oor-die-toonbank-middels is om sooibrand te behandel, is daar verskeie natuurlike brandblussers:

  • Koeksoda – Los ’n teelepel koeksoda in ’n koppie water op. Die koeksoda sal help om suur te neutraliseer.
  • Aalwynsap ­– Net soos dit gebruik kan word om brandwonde te behandel, help aalwynsap om die irritasie wat deur suurrefluks veroorsaak word, te verlig. Drink ½ koppie aalwynsap voor etes om jou maag en slukderm te sus.
  • Suikervrye kougom – Speeksel help om suur te verdun, so hoe meer speeksel jy ná ’n maaltyd produseer, hoe beter. Suikervrye kougom sal die ding doen.
  • Piesangs – Het jy geweet dat piesangs natuurlike teensuurmiddels bevat? Eet elke dag ’n piesang om suurrefluks te voorkom.
  • Appelasyn – Meng drie teelepels appelasyn met ’n koppie water en drink voor elke ete of slaaptyd. Wees gewaarsku: Dit smaak nie lekker nie.

Wanneer om bekommerd te raak

Sooibrand nou en dan is nie ’n rede tot kommer nie, maar kry hulp as jy erge pyn of drukking in jou bors ervaar, veral as jy ander simptome het soos pyn in jou arm of kakebeen, of asemhalingsprobleme ondervind. Borspyn kan ’n simptoom van ’n hartaanval wees. Gaan spreek jou dokter as jy:

  • meer as twee keer per week sooibrand kry;
  • simptome bly ervaar, ongeag die gebruik van oor-die-toonbank-medisyne of natuurlike middels;
  • sukkel om te sluk;
  • aanhoudend naar voel of braak; en
  • gewig verloor omdat jy sukkel om te eet of ’n swak eetlus het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Lank terug het ‘n vriend van my die stelling gemaak, sy werk gee hom sooibrand, ek het dit ligtelik opgeneem en beskou as ‘n grap. Onlangs het ‘n lastige sooibrand ook by my kom aanklop en na verskeie tuis behandeling met Eno’s, Rennies en ander medikasie het ek armer geword en die sooibrand het gebly.
Weens maatskappy beleid moet ek my verlof dae afbring en ek neem ‘n week verlof om tuis werkies te doen, so onbewustelik klaar die sooibrand op en ek voel weer tops.
Ek is nou weer twee weke terug by die werk en sooibrand wys so nou en dan sy teenwoordigheid.
Nou sê ek ook, my werk gee my sooibrand.
Gee vir my ‘n Rennie aan!

hondbyt ·

Ek het gesukkel met erge sooibrand op ‘n daaglikse basis, een keer selfs ‘n gat in my slukderm gebrand en kon nie eers water af sluk nie van die pyn… (my eie skuld, was op vakansie in Mosambiek, baie 2M bier en hompe peri-peri oor al my kos).

So rukkie terug het ek begin koolhidrate en suiker uit my dieet uit te sny en net so na ‘n paar dae is my sooibrand weg en dit bly weg, selfs waneer ek sterk kerrie of brand souse eet, niks… nada!

Al waneer ek nou weer sooibrand kry is waneer ons op vakansie was en ek gereeld koolidrate geëet en so paar biertjies geniet het, maar selfs dan is dit nie naastenby so erg soos dit altyd was nie.

Weet nie of dit vir almal so sal werk nie, maar die “root cause” vir my was duidelik suiker en koolidrate gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.