Speel klaar met wingerdgriep

Foto ter illustrasie. (Foto: Carolina Heza/Unsplash)

Wingerdgriep. Roes. ’n Babelaas. ’n Hangoortjie. Jou hare is seer. Noem dit wat jy wil, daardie olikheid-na-die-vrolikheid-gevoel is nie grappies nie. Oor die feestyd is die kans groter dat sommige mense ’n bietjie te diep in die bottel kyk, en die volgende oggend met die pynlike na(ar)gevolge sit – hoofpyn, naarheid, moegheid, bewerigheid en ’n droë mond.

Die wagwoord is natuurlik altyd matigheid voor oë en om glad nie naby ’n stuurwiel te kom nie, selfs nie al het jy nét een drankie gedrink nie. As jy egter by die gesellige jaareindfunksie, kantoorpartytjie of Nuwejaarsfeesviering (per ongeluk) onder die prop beland, is daar ’n paar wenke wat moontlik kan help.

Voorkoming: Om matig te drink of op die waterkar te bly, is die enigste manier om ’n babelaas te vermy. As jy egter weet jy gaan meer as een of twee sopies drink, sorg dat jy voor die tyd ’n behoorlike maaltyd eet. As jou maag vol is, neem dit langer vir alkohol om in jou bloedstroom opgeneem te word. Probeer ook wegbly van drank waarmee jy al voorheen ’n volgende-oggend-bloutjie geloop het, en moet verkieslik nie verskillende soorte drank meng nie. Volgens sommige studies steek daar waarheid in die storie dat donkerder drank soos whiskey, rooiwyn, rum en brandewyn ’n erger babelaas veroorsaak – as jy dus vodka of jenewer drink, is jou kans op ’n kopseer dalk ietwat skraler.

Vloeistof: Alkohol stimuleer jou niere om meer urine af te skei, wat jou laat ontwater. Dit veroorsaak daardie kenmerkende kloppende hoofpyn en droë mond. Drink water voor jy die aand in die bed klim, of die volgende oggend wanneer jy wakker word. As jy naar was of diarree ontwikkel het, het jou liggaam waarskynlik baie elektroliete verloor. ’n Energiedrankie kan help om dit te vervang.

Eet: Terwyl jy teen die naarheid baklei, is kos waarskynlik die laaste ding waaraan jy wil dink, maar alkohol laat jou bloedsuikervlakke daal, wat bewerigheid en duiseligheid kan veroorsaak. Probeer ’n snytjie roosterbrood, vrugte of ’n paar beskuitjies eet om jou bloedsuiker ’n hupstoot te gee. En wat van die vetterige ontbyt waarby party mense sweer? Volgens ClevelandClinic.org kan ’n swaar, vetterige ontbyt jou reeds swaar beleërde maag nog meer irriteer.

Pynpille: Pynmedikasie soos aspirien en ibuprofen kan help met die verligting van wingerdgriepsimptome. Moet dit egter nie oordoen nie – jou maag is reeds geïrriteerd weens al die alkohol, en medikasie kan dit vererger.

Koffie of tee? Kafeïen kan jou dalk help om van daardie ergste dikkopgevoel ontslae te raak, maar hou matigheid voor oë, anders gaan jy nog verder ontwater.

Nog ’n sopie? Baie mense glo die beste raad vir ’n babelaas is om nog te drink. Hoewel navorsing bevind het dat nog alkohol wel tydelik kan help, stel jy eintlik net die onvermydelike uit. Boonop kan dit in ’n bose kringloop omsit waar jy later al hoe meer afhanklik raak.

Slaap: Die enigste werklike kuur vir ’n babelaas is: Slaap jou roes af. Geen vitamienaanvulling of babelaasmiddel wat jy oor die toonbank koop, gaan regtig jou wingerdgriep in ’n kits genees nie.

Bykomende bronne: webmd.com; clevelandclinic.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.