Staal jouself teen seisoensoorgangsiektes

Eet gesond. Te veel suiker belemmer immuunstelselselle wat bakterieë beveg. (Foto: iStock)

Winter is voor die deur en swembroeke en sandale begin plek maak vir jasse en japonne. Ofskoon die koronaviruspandemie verskeie goeie gewoontes kom vestig het soos om gereeld hande te was en oppervlakke te ontsmet, moet ons deurgaans, maar veral met die oorgang van seisoene, ons liggame se immuunvesting versterk om ons teen verkoue, griep en ander infeksies te vrywaar.

Die maskerlose vryheid en hernieude vermaakgeleenthede is voorwaar ’n welkome verligting, maar ’n dreigende vyfde Covid-19-vlaag vereis ’n selfs groter verantwoordelikheid om op verskeie vlakke na oud en jonk se gesondheid om te sien.

Kry genoeg slaap. (Foto: iStock)

Doen dít om jou immuniteit ’n hupstoot te gee

  1. Kry genoeg slaap. Navorsing het getoon dat ’n mens meer vatbaar vir siektes is as jy nie genoeg slaap nie. Wanneer jy slaap, produseer die liggaam ’n proteïen genaamd sitokiene wat infeksie en inflammasie beveg. ʼn Mens se liggaam produseer ook T-selle tydens slaap, wat witbloedselle is wat ’n kardinale rol in die liggaam se immuunrespons speel. Volwassenes moet probeer om tussen sewe en nege uur per nag te slaap en ’n vaste slaaproetine vestig en volg, selfs oor naweke. Kinders behoort tussen tien en 14 uur te slaap.
  2. Koester verhoudings. Ons almal ken die gesegde dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves, maar die teenoorgestelde is ewe waar en belangrik. Om sterk verhoudings en ’n goeie sosiale netwerk te hê, is goed vir ons gees én gesondheid, en iets wat met Covid-19 grootliks skipbreuk gely het. Mense wat aan vriende verbind voel, of dit nou ’n handjievol goeie vriende of ’n groot groep is, het ’n sterker immuniteit as diegene wat alleen voel, het navorsing bevind. Ook vir kinders, wat vir lank van interaksie met maats ontneem is, is kuier, speel en lag belangrik.
  3. Beweeg ’n bietjie! Probeer om gereeld matige oefening te doen, soos ’n daaglikse stappie van 30 minute. Oefening help nie net om jou gewig in toom te hou nie (veral in wintertye wanneer warm trooskos soos ’n wolkombers om die heupe wil vou), maar ook om infeksie te beveg en die liggaam aan te vuur om goedvoelhormone af te skei. ’n Aktiewe leefstyl, al is dit net om trappe te klim pleks van die hysbak te gebruik, sorg weer vir ’n goeie nagrus. Oefening hoef nie ’n straf te wees nie, maar kan ’n gesellige gesinsaktiwiteit wees waar almal ʼn bietjie litte losmaak.
  4. Beperk spanning. Almal ervaar spanning by die werk, huis of skool, maar as dit vir ’n lang tyd voortduur, maak dit jou meer kwesbaar vir van verkoues tot ernstige siektes. Chroniese stres stel die liggaam bloot aan ’n deurlopende stroom streshormone wat die immuunstelsel onderdruk. Probeer spanning bestuur deur te mediteer, na rustige musiek te luister of iets te doen waarvoor jy baie lief is. Moedig die kleinspan aan om meer (buite) te speel en minder tyd voor die skerm deur te bring.
  5. Eet gesond. Te veel suiker belemmer immuunstelselselle wat bakterieë beveg. Eet veral meer vrugte en groente wat ryk is aan voedingstowwe soos vitamien C en E, plus betakaroteen en sink. Kinders het veral sink (bone, neute, rooivleis, vis en hoender) nodig om hul immuunstelsel ’n hupstoot te gee. Die meeste kinders hou van jogurt, wat help om goeie bakterieë in ons ingewande te bevorder. Navorsing het ook getoon dat daar wel waarheid daarin steek dat hoendersop herstel in die hand werk.

Vrugte soos lemoene en pomelo’s is propvol vitamien C. (Foto: iStock)

Lê weg aan dié tien immuunversterkers

  • Sitrusvrugte – Omdat die liggaam nie vitamien C stoor nie, moet ons elke dag genoeg hiervan inneem (sowat 75 tot 90 mg). Vrugte soos lemoene en pomelo’s is propvol vitamien C.
  • Rooi soetrissies bevat bykans drie keer meer vitamien C as lemoene. Behalwe om jou immuunstelsel te versterk, hou vitamien C jou vel gesond. Betakaroteen, wat jou liggaam in vitamien A omskakel, help om jou oë en vel gesond te hou.
  • Broccoli is gelaai met vitamiene A, C en E, asook vesel en ander antioksidante, wat broccoli een van die gesondste groentesoorte maak waaraan jy kan smul.
  • Knoffel se immuunversterkende eienskappe is afkomstig van die hoë konsentrasie swaelbevattende verbindings, soos allisien, wat daarin voorkom. Knoffel beveg nie net infeksie nie, maar navorsing het getoon dat dit bloeddruk kan verlaag en die verharding van are hokslaan.
  • Gemmer kan help om inflammasie te verminder, wat help om ’n seer keel en inflammatoriese siektes te verminder. Gemmer help voorts met naarheid, kan chroniese pyn verminder en selfs cholesterol verlaag.
  • Spinasie is nie net ryk aan vitamien C nie, maar ook propvol antioksidante en betakaroteen, wat ons immuunstelsels se vermoë om infeksies te bestry, verbeter.
  • Neute soos amandels is propvol vitamien E en gesonde vette. Sonneblomsaad bevat benewens vitamien E ook fosfor, magnesium en vitamien B6. Vitamien E is belangrik vir die regulering en instandhouding van ons immuunstelsel. Ander kos met hoë hoeveelhede vitamien E sluit in avokado’s en donker blaargroentes.
  • Borrie word reeds vir jare as ’n anti-inflammatoriese middel in die behandeling van osteoartritis en rumatoïede artritis gebruik. En natuurlik is dit die ideale bestanddeel vir ’n warm winterbredie of bobotie.
  • Papaja is nog ’n vrug wat propvol vitamien C is. ’n Mediumgrootte papaja bevat nie net dubbel die daaglikse aanbevole hoeveelheid vitamien C nie, maar ook kalium, magnesium en folaat. Dié vrug het ook ’n verteringsensiem genaamd papaïen wat anti-inflammatoriese eienskappe het.
  • Skulpvis soos oesters, krap, kreef en mossels bevat baie sink wat die immuunstelsel versterk. Pasop egter om nie meer as die aanbevole daaglikse dosis van 8 tot 11 mg sink in te neem nie, want dan onderdruk dit die immuunstelsel.

 Bykomende bronne: parents.com; webmd.com; healthline.com; health.clevelandclinic.org; superhealthykids.com; bbcgoodfood.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Miskruier

Ai, ons mense glo net nie meer aan natuurlike kos nie en probeer dan die kwale en skete met medikasie beheer.