Steeds skokkend min orgaanskenkers in SA

(Foto: iStock)

Gestel een van jou geliefdes het dringend ʼn orgaan nodig, maar moet vir jare op ʼn oorplanting wag. Dié uurglas gaan heel waarskynlik leegloop omdat jou geliefde een van bykans 5 000 Suid-Afrikaners is wat in ʼn kommerwekkende lang ry van orgaanafwagtendes staan.

Volgens die Orgaanskenkerstigting (ODF) word dié ry boonop al langer, terwyl die aantal geregistreerde skenkers min bly. Volgens die stigting is daar net meer as een persoon uit elke een miljoen mense in die land wat as orgaanskenker geregistreer is. Dit is 0,000001% van die Suid-Afrikaanse bevolking!

Hierteenoor spog Spanje met van die hoogste skenkerskoerse ter wêreld. Altesaam 35 mense uit elke miljoen van dié land se bevolking is orgaanskenkers. Ofskoon Covid-19 die oorplantingskoers wêreldwyd laat tuimel het, was Spanje in 2020 die voorloper in Europa met 95 oorplantings per miljoen inwoners, met Oostenryk in die tweede plek met 76.

Uit die ODF se statistieke is dit duidelik dat die beskikbaarheid van organe ʼn beduidende impak op die aantal oorplantings per jaar in Suid-Afrika het. In 2009 is 724 orgaan- en kornea-oorplantings uitgevoer, terwyl dié syfer die afgelope dekade deurlopend bly afneem het tot slegs 356 volledige organe wat in 2019 oorgeplant is.

ʼn Gebrek aan bewusmaking en begrip oor orgaanskenking kan waarskynlik as redes aangevoer word hoekom só min Suid-Afrikaners bereid is om as orgaanskenkers te registreer en daarom word Orgaanskenkingsbewustheidsmaand in Augustus gevier. Dit is die ideale geleentheid om jouself in die skoene van ʼn orgaanafwagtende in te dink en as skenker te registreer.

Onwettige orgaanhandel

Hoewel orgaanskenking enersyds vrywillig is, aan tientalle wetlike en etiese standaarde moet voldoen, en die skenker geen vergoeding ontvang nie, gedy die onwettige handel in organe. Dié winsgewende misdaad genereer jaarliks tot $1,7 miljard (meer as R27 miljard). Die niere is die orgaan wat die meeste verhandel word, gevolg deur die lewer, hart, longe en pankreas.

Sowat twee dekades gelede het Suid-Afrika internasionale nuushooftrekke gehaal toe ʼn sindikaat, wat in Suid-Afrika bedrywig was, ontbloot is. Dié sindikaat was betrokke by die verkoop van niere vir honderde onwettige oorplantings by hospitale in Johannesburg, Kaapstad en Durban. Dié gebeure het baie skade aan die etiese skenkingsbedryf aangerig.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie word ʼn onwettige operasie met organe wat op ʼn duistere manier bekom is, byna elke uur êrens ter wêreld uitgevoer. Organe word vir so min soos $2 000 (R32 000) “gekoop” en vir meer as $200 000 (R3,2 miljoen) verkoop. Interpol sê op sy beurt dat orgaantoerisme ʼn bloeiende bedryf bly.

Waarom moet jy skenk?

Jy kan sewe mense se lewe red as jy instem om ʼn orgaanskenker te word. Jou hart, lewer en pankreas kan drie mense se lewe red. Jou niere en longe kan tot vier mense se lewe red. Jy kan tot 50 mense help as jy jou korneas, vel, been, tendons en hartkleppe skenk!

Terwyl jy leef, kan jy ʼn nier, ʼn deel van jou lewer, long, pankreas of dunderm skenk aan iemand wat dit nodig het.

Hoe werk ʼn oorplanting?

ʼn Oorplanting is wanneer ʼn orgaan, weefsel of selle van een persoon (die skenker) oorgeplant word in ʼn ander persoon (die ontvanger) of wanneer dit van een gedeelte van ʼn persoon se lyf na ʼn ander plek in dieselfde persoon oorgeplant word.

Organe (hart, nier, lewer, long, pankreas, maag en derms), weefsel (kornea, been, tendon, vel, hartkleppe, senuwee en are), selle (beenmurg en stamselle) en ledemate (hande, arms, voete) kan oorgeplant word.

Word ʼn skenker

(Foto: iStock)

Enigiemand met goeie gesondheid wat nie aan spesifieke chroniese siektes ly nie, kan by die Orgaanskenkerstigting as ʼn voornemende skenker registreer. Jy kan aanlyn registreer of die stigting by 0800 22 66 11 skakel.

Dit is belangrik om jou familie in kennis te stel dat jy ʼn orgaanskenker is. Geen mediese toetse is vooraf nodig om ʼn orgaanskenker te word nie en registrasie om ʼn skenker te word, kan binne ʼn minuut gedoen word.

Het jy geweet?

  • Die heel eerste oorplanting het in 1823 plaasgevind toe die Duitse chirurg, Carl Bunger, vel van ʼn vrou se bobeen na haar neus oorgeplant het.
  • Buiten die eerste hartoorplanting in Desember 1967, was prof. Christiaan Barnard die eerste persoon om iemand wat ná ʼn ongeluk breindood verklaar is as ʼn hartskenker te kies. Die Wet op die Eenvormige Bepaling van die Dood is eers in 1978 bekragtig, wat die definisie van dood uitgebrei het. Barnard het ook Suid-Afrika se tweede nieroorplanting in Oktober 1967 uitgevoer.
  • Daar was nie enige fotograwe teenwoordig tydens prof. Christiaan Barnard se geskiedkundige eerste hartoorplanting nie, omdat die span nie die impak van die operasie besef het nie. Die Groote Schuur-hospitaal het ʼn aanbod van $1 miljoen (byna $8,75 miljoen of R140 miljoen in 2022 se geldwaarde) ontvang vir ʼn foto van die skenkerhart wat in die bors van Louis Washkansky geplaas word. Daar was egter geen foto’s beskikbaar nie. ʼn Koerant het ʼn paar dae later $25 000 (byna $220 0000 of R3,5 miljoen vandag) aangebied vir Barnard se handskoene, wat hy soos gewoonlik ná die operasie in die asblik gegooi het.
  • Op 8 November 1996 het die eenjarige Cheyenne Pyle die jongste pasiënt ooit geword wat ʼn hartoorplanting ondergaan het. Die operasie is by die Jackson-kinderhospitaal in Miami, Florida, in die VSA uitgevoer.
  • In 2008 het Amerikaanse dokters ʼn baie groot kankergewas in die vyfjarige Alannah Shevenell van Maine in die VSA se maag ontdek, wat van orgaan tot orgaan gestrek het. Hulle het besef dat hulle die gewas en al die organe tegelykertyd sal moet verwyder as hulle haar lewe wil red. ʼn Paar jaar later het hulle uiteindelik ʼn geskikte skenker gekry, en Shevenell het ʼn nuwe maag, lewer, milt, dunderm, pankreas en deel van ʼn slukderm gekry. Dit word beskou as die eerste slukdermoorplanting en die meeste organe wat tegelykertyd in een kind oorgeplant is. Ná drie maande in die hospitaal is die negejarige Shevenell ontslaan. Sy sterk steeds aan en moet teenverwerpingsmedikasie gebruik en ʼn spesiale dieet volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Porseleintjie ·

My vraag is in hierdie korrupte land. Hoe lank sal ek bly leef as ek op n orgaanskenkerslys gelys word??

Miskruier ·

Na my man breindood verklaar is, het ek ook daaraan gedink, Ek glo God het hom kom haal, en het sy liggaam geskenk vir orgaanoorplanting, deur my verdriet het iemand geluk ervaar.

Porseleintjie ·

Jou keuse verstaan en respekteer ek. Wat van as die orgaanskenkerlys n ‘hitlist’ word? Korrupsie is n nasionale sport hier. Iemand se iemand het n hart of nier nodig en al my besonderhede is byderhand. In China gebeur dit reeds.

Alma ·

Verstaan ek reg? Daar is amper 60 miljoen mense in SA, en een uit elke miljoen is n skenker, so m.a.w daar is slegs 60 orgaanskenkers indie land? Sjoe, daar kort bitter baie bewusmaking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.