Steek uitbranding kop uit? Lees hier

(Foto: Christian Erfurt/Unsplash)

Baie mense werk tans van die huis af, en omdat ons nie ons familie wat ver woon nou kan besoek of ver kan reis nie, wil ons eerder ons verlof spaar om later, wanneer oorsese en oorgrensreise weer toegelaat word, te gebruik.

ʼn Onlangse studie in die Journal of Happiness het wel bevind dat ʼn klomp mini-verlofbreuke deur die jaar meer voordele kan inhou as een lang vakansie eenmaal per jaar. Daarom is dit dalk wys om jou verlof te gebruik, al is dit net vir ʼn langnaweek hier en daar.

Dié studie het bevind dat slegs twee dae op vakansie ʼn individu fisiek, emosioneel en verstandelik verfris sal laat voel. Nog ’n studie het bevind dat 65% van Suid-Afrikaners aangeteken het dat hulle gespanne of baie gespanne is tydens isolasie.

“Dit is nie ʼn geheim dat die meeste van ons nou meer as ooit ʼn blaaskans nodig het nie,” sê Shaun Lamont, bestuurshoof van First Group Hotel & Resorts.

Shaun Lamont, bestuurshoof van First Group Hotel & Resort (Foto: Verskaf)

Lamont sê die rede hoekom die meeste mense nie nou tyd af vat by die werk nie, is omdat hulle te besig is, omdat hulle te sleg voel om hul werksverpligtinge vir ʼn tyd te laat staan, of selfs omdat hulle bang is hulle sal hul werk verloor.

“Maar of jy nou besluit om ʼn week of ʼn naweek af te vat, die voordele bly dieselfde.”

Lamont sê die geheim van ʼn goeie mini-verlofbreuk is om letterlik af te skakel.

“Wees streng met sosiale media, nuus en televisie. Gebruik eerder jou tyd om speletjies te speel, te slaap, in die son te sit of ʼn glas wyn te drink.”

“Aan die einde van die dag sal ʼn mini-breuk jou nie net ʼn welverdiende ruskans bied nie, maar dit sal jou ook gelukkiger en meer produktief maak.”

Hier is drie voordele van mini-breuke reg deur die jaar:

  1. Verbeterde gemoed en beter produktiwiteit

Die grootste hupstoot in jou gemoed kom eintlik reeds vóór die wegbreek. ʼn Studie het bevind dat hoe gelukkig jy is reeds agt weke voor jou beplande wegbreek begin registreer, juis omdat jy uitsien na die ontspanning en rustigheid.

Dit het ook bevind dat gelukkige mense 12% meer produktief is. Voor én ná jou verlofbreuk sal jy dus eintlik meer produktief wees. Jou bekommernis dat jy te veel werk het, is verniet aangesien jou produktiwiteit sal optel.

  1. Minder werk wat vir jou wag

As jy ʼn dag of twee by die werk af vat, is die kans dat jy terugkom na ʼn lessenaar vol werk skraler as ná ʼn vakansie van twee weke.

Wanneer jou vakansie tot ʼn einde kom, sal jou angstigheid oor die werk wat vir jou wag dus ook minder wees, want daar is nie so baie wat jy gemis het nie.

  1. Versprei jou verlof

Die meeste mense kan slegs 15 dae verlof per jaar neem. So dit maak sin om een of twee dae op ʼn slag af te neem, eerder as ʼn week aan mekaar. Jou gemoed sal ook ligter voel omdat jy meer keer per jaar kan ontspan, al is dit vir korter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.