Stil sluipmoordenaar in jou are

(Foto: iStock)

Wanneer laas het jy jou bloeddruk laat toets? As ’n mens na die hoë voorkomssyfer van hipertensie, oftewel hoë bloeddruk, onder Suid-Afrikaners kyk, is dit duidelik dat ons nie naastenby gereeld genoeg vir dié eenvoudige en vinnige toets by die plaaslike kliniek of apteek indraf nie.

Luidens ’n studie wat onlangs in die mediese joernaal Global Epidemiology gepubliseer is, ly sowat 45% van mans en 48% van vroue ouer as 15 jaar in Suid-Afrika aan hipertensie. Die skrikwekkendste bevinding van dié studie is dat slegs sowat 19% van mans en 29% van vroue wat hipertensie het, bewus is dat hulle dié toestand het.

Hoë bloeddruk is een van die hoofoorsake van sterftes wêreldwyd – meer as 13% van alle sterftes kan hieraan toegeskryf word. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sterf byna 18 miljoen mense jaarliks aan harttoestande, met hipertensie wat die grootste sondaar is.

Wêreldhipertensiedag word op 17 Mei gevier en met een uit elke vyf Suid-Afrikaanse sterftes wat deur toestande verwant aan hipertensie veroorsaak word, is daar geen beter tyd as nou nie om jou bloeddruk te laat nagaan.

Hoe word bloeddruk gemeet?

“Bloeddruk word bepaal deur die hoeveelheid bloed wat deur die hart gepomp word, asook die hoeveelheid weerstand tot hierdie vloei wat deur die bloedvate uitgeoefen word. Hoe meer bloed die hart pomp en hoe nouer die bloedvate is, hoe hoër is die bloeddruk,” sê dr. Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park.

Bloeddruklesings word gewoonlik as deel van ’n roetine- mediese konsultasie geneem. Dit word dan as normaal, verhoog, graad 1-hipertensie, graad 2-hipertensie of ’n hipertensiewe krisis geklassifiseer. “Na gelang van die simptome en die kategorie kan bykomende toetse, wat urientoetse, bloedtoetse, ’n EKG en X-straal van die borskas insluit, gedoen word.

’n Bloeddruklesing word geneem in millimeter kwik (mmHg) en bestaan uit twee lesings:

  • Boonste lesing of sistoliese druk: Dit is die druk in die bloedvate wanneer die hart pomp.
  • Onderste lesing of diastoliese druk: Dit is die druk in die bloedvate tussen polsslae.

’n Normale bloeddruklesing vir ’n gesonde volwassene is gewoonlik tussen 120-130/80-90 mmHg. Bloeddruk verhoog as jy oefening doen of stres ervaar, en verlaag wanneer jy rustig is of slaap. Daarom moet dit oor ’n paar maande gereeld gemeet word om te bepaal of jy inderdaad hoë (óf lae) bloeddruk het, sê Lombard.

Simptome

Volgens Lombard het hipertensie in baie gevalle geen aanvanklike simptome nie. Sou dit oor tyd ontwikkel en vererger, kan dit tot ernstige gesondheidsprobleme soos beroerte en hartaanvalle lei.

“Simptome sluit onder meer in vroegoggendhoofpyne, neusbloeding, hartkloppings, kortasemheid, veranderinge in visie en ’n gesuis in die ore. Ongekontroleerde bloeddruk kan ook moegheid, naarheid en braking, angstigheid, borskaspyn en ereksieprobleme tot gevolg hê.”

Oorsake

  • Familiegeskiedenis
  • Vetsug
  • Hoë bloedcholesterolvlakke
  • Te veel alkohol
  • Rook – elke keer dat jy ’n sigaret aansteek, styg jou bloeddruk en bly vir tot ’n uur daarna hoog
  • Voorbehoedmiddels, steroïede soos kortisoon en anti-inflammatoriese middels
  • Te veel sout
  • Diabetes
  • Chroniese niersiekte
  • Te min oefening
  • Hoë stresvlakke oor ’n lang tydperk
  • Slegte slaapgewoontes

Gevolge

  • Indien hipertensie nie behandel word nie, verswak die hart, wat tot moegheid, kortasem en geswelde enkels kan lei.
  • Die bloedvate na die hart, brein, oë, niere en bene vernou gouer.
  • Vernoude vate kan hartaanvalle, beroerte, blindheid, nierskade en ander lewensgevaarlike gevolge inhou.

Behandeling en voorkoming

Sowat 80% van sterftes wat deur toestande verwant aan hipertensie veroorsaak word, kon deur gesonde eetgewoontes en 30 minute lange oefening per dag voorkom word. Daarom, sê Lombard, is die vertrekpunt van hipertensiebehandeling altyd leefstylaanpassings.

“’n Gesonde dieet met minder sout, gereelde fisieke aktiwiteit, handhawing van ’n gesonde gewig of gewigsverlies, ’n gesonde slaaproetine en ’n beperking op daaglikse alkoholgebruik word aanbeveel.

“Sou dít nie voldoende wees nie en na gelang van die graad van hipertensie, sal medikasie moontlik aanbeveel word. Jou dokter sal na gelang van jou mediese agtergrond die gepaste medisyne of ’n kombinasie van medikasie aanbeveel,” sê hy.

“Hoe vroeër hipertensie gediagnoseer word, hoe makliker kan dit behandel word en hoe kleiner is die kans vir toekomstige komplikasies. Laat jou bloeddruk gereeld nagaan, hetsy deur jou dokter of by jou plaaslike apteek of kliniek. Spits op die koop toe gerus jou ore vir apteekgroepe wat dié diens by geleentheid gratis aanbied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Ek is geneig tot lae BP, my familie van beide ouers se kant is hoe BP. Ons neem gereeld tot 3x per week ons BP omdat my stiefma by ons woon en sy het hoe BP asook gemengde demensie/alzheimer’s en is op verskeie meds. so ons moet gereeld haar toets en dan raak dit sommer n speelse aktiwiteit tuis en almal sit met n uitgestrekte arm en die monitor word opgesit…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.