Stuit velveroudering met dié handige wenke

Argieffoto. (Foto: Chermiti Mohamed)

Teenverouderingsmiddels kom in verskeie, bereikbare vorme voor wat oor die hele huis – van die slaapkamer tot in die badkamerkassie en die yskas – aangetref kan word.

Water

Hidreer. Hidreer. Hidreer. Dit kan nie genoeg benadruk word nie. Gereelde waterinname, minstens agt glase per dag, is nie net noodsaaklik vir die gesondheid van jou liggaamsfunksies nie, maar ook vir jou vel. Namate ons verouder, verloor ons liggame die vermoë om vog te behou, wat plooie en droë vel nog meer sigbaar maak.

Kossoorte met anti-oksidante en vitamien C

Maak jou bord vol kosse wat hoog is in omega-3, soos salm en ander vetterige vissoorte. Dit help jou vel om ʼn gesonde buffer op te bou. Groen tee, granate en bessies, asook sonneblomsade en kekerertjies is voorbeelde van kossoorte wat baie anti-oksidante bevat.

Vitamien C is ʼn goeie anti-oksidant wat net so goed vir jou vel werk as vir jou liggaam. Vitamien C speel ʼn groot rol in jou vel se produksie van kollageen, wat elastisiteit verbeter en tekens van veroudering vertraag.

Hoewel velprodukte met ʼn hoë konsentrasie vitamien C kan help om vroeë tekens van veroudering soos plooie te voorkom, is dit belangrik om dit ook in ʼn gesonde dieet in te sluit deur byvoorbeeld koejawels, soetrissies, brokkoli, tamaties, aarbeie en lemoene te eet.

Afval

Ja, jy het reg gelees. Afval. Het jy geweet diere se ingewande, brein, testes en ander afval is goeie bronne van kollageen, wat veroudering bekamp?

Dié diere-afval is ryk in nutriënte, vitamiene en minerale, veral kollageen. Kollageen bied struktuur aan ons vel en maak ons bene sterker.

Daar is darem reeds alternatiewe vir diere-afval beskikbaar, soos geurlose kollageenpoeier wat saam met enigiets gemeng kan word.

Oogroom

ʼn Goeie oogroom help om vog spesifiek in die vel rondom jou oog vas te vang. Die vel rondom die oog is dun en sensitief, en wanneer dit nie genoeg bevogtig word nie, kan plooie maklik daar vorm. Wend oogroom soggens en saans aan om die vorming van plooie te vertraag.

Wend dit so aan: Druk ʼn klein bietjie oogroom op jou ringvinger uit. Druk dit dan liggies oor die lid van jou oog, onder jou oog en langs jou oog. Sowat die helfte van ʼn ertjiegrootte is genoeg room per oog. Maak ook seker jy druk dit liggies, moet nooit oor jou oë vryf of die room probeer insmeer nie, dit kan die vel mettertyd tyd rek en ouer laat voorkom.

Retinol

Retinol is ʼn kragtige bestanddeel wanneer jy veroudering wil bekamp. Velprodukte wat retinol bevat, is hoog in vitamien A, wat die produksie van kollageen aanwakker. Retinol moedig ook die produksie van nuwe bloedvaatjies in die vel aan, wat die vel se voorkoms verbeter.

Wees wel versigtig wanneer jy vir die eerste keer retinol gebruik – dit vermeerder velsensitiwiteit, so mense word aangemoedig om uit die son te bly nadat hulle dit gebruik het. ʼn Mens se vel kan sensitief wees vir retinol – maak dus jou vel stelselmatig gewoond daaraan deur dit byvoorbeeld eers twee dae per week te gebruik, voordat jy dit elke tweede dag gebruik.

Slaap

Wanneer jy rus, herstel jou liggaam die skade wat dit deur die dag opgedoen het. Om hierdie proses te verhinder, kan inmeng met behoorlike velfunksie. Neem ʼn diep asemteug, ontspan en probeer jou stresvlakke onder beheer kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Retha ·

Afval is koningkos, net jammer dit so duur geword om aan te koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.