Stywer gordel? Jou eetgewoontes in die weegskaal

(Foto: Unsplash)

Die wêreldpandemie se greep op jou gesondheid en beursie is beslis nie iets wat ongesiens verbyglip nie. Met strenger inperkings wat ons daaglikse roetine en bewegings beperk het en die gordel wat stywer om ons broeke en beursies getrek is, het inkopie- en oefengewoontes sowel as kook- en eetpatrone ook verander.

Volgens die Suid-Afrikaanse Dieetkunde-vereniging (Adsa) het dit baie Suid-Afrikaners dus laat nadink oor hoe en wat hulle eet.

Maria van der Merwe, geregistreerde dieetkundige en president van Adsa, sê buiten dat voeding ʼn mens se immuunsisteem ondersteun, speel dit ʼn groot rol in voorkomende gesondheid.

“Voeding is noodsaaklik vir optimale gesondheid,” sê Van der Merwe. “Gedurende die kinder- en tienerjare moet kos voortdurend aangepas word om aan veranderende voedingsbehoeftes te voldoen.

“Tydens volwassenheid verhoog dit nie net veerkragtigheid nie, maar kan die regte voeding ook help om ʼn persoon se ​​gewig te beheer en voedingstekorte en die ontwikkeling van ʼn reeks chroniese gesondheidstoestande voorkom.”

Van der Merwe sê wanneer ʼn mens dan wel siek word kan ʼn gebalanseerde dieet jou help om akute gesondheidsprobleme te beveg en vinniger te herstel.

Die pandemie en jou daaglikse eetpatrone

Talle Suid-Afrikaners voel die ekonomiese gevolge van die pandemie aan hul beursies met stygende voedselpryse en verlaagde inkomste wat hul huishouding se voedselsekerheid bedreig, meen Nazeeia Sayed, ʼn geregistreerde dieetkundige.

Sayed sê dit hoef egter nie vir slapelose nagte of ʼn leë maag te sorg nie. “Met ʼn knap begroting kan jy steeds bekostigbare, gesonde kos kies en gebalanseerde maaltye opdien.”

Deur te konsentreer op die verhoging van jou gesin se inname van seisoenale groente en vrugte, volgraanopsies soos hawer, sowel as om oor te skakel na plantaardige proteïenbronne, soos boontjies en lensies in plaas van vleis, kan verbruikers geld bespaar.

“Gesonde eetgewoontes is binne jou bereik. Tradisionele kossoorte soos samp en boontjies, of dahl [gesplete lensies] en rys is byvoorbeeld lekker, bekostigbare maaltye wat met ekstra groente of slaai aangevul kan word,” sê Sayed.

Volgens Sayed moet mense daarteen waak om vitamienaanvullings as plaasvervanger vir vars groente en vrugte te gebruik.

“Ons het die afgelope ruk gesien dat vitamiene en minerale van die rakke af vlieg. Dit is egter belangrik om daarop te let dat daar geen wetenskaplike bewyse is dat daar spesifieke voedsel of voedingsaanvullings of dieet is wat Covid-19 of enige ander infeksies kan voorkom nie.”

Sayed sê die beste stap is om by die riglyne vir gesonde eetgewoontes te bly en te verseker dat jy en jou gesin elke dag ʼn verskeidenheid kos geniet.

Wat is funksionele voedsel?

Van der Merwe sê funksionele voedsel, ook bekend as voedingsmiddels, bevat besondere bestanddele wat gesondheidsvoordele bied wat verder strek as hul voedingswaarde. Dié bestanddele kan jou byvoorbeeld teen siektes beskerm, tekorte aan voedingstowwe voorkom en behoorlike groei en ontwikkeling bevorder.

Enkele voorbeelde van funksionele voedsel sluit in kossoorte wat ryk is aan vitamiene, minerale, probiotika of vesel. Voedsame kos soos vrugte, groente, neute, sade en volgraan sal uiteraard ook as funksionele voedsel beskou word.

Volgraan voedsel soos hawer en gars sou ook hierby ingereken word. Dié kossoorte bevat ʼn vesel genaamd beta-glukan wat inflammasie verminder en immuunfunksie en die gesondheid van die hart verbeter. Net so bevat vrugte en groente antioksidante, wat voordelige verbindings is wat help om jou liggaam teen siektes te beskerm.

“Jy kan jou gesin se inname van funksionele voedsel op ʼn bekostigbare manier verhppg deur meer vars groente en vrugte, peulgewasse en volgraan by die daaglikse maaltye in te sluit,” sê Van der Merwe.

Voedingswenke vir ʼn knap begroting

Adsa gee die volgende wenke om meer gesondheidsvoordeel uit ʼn knap begroting te trek:

  • Fokus daarop om ʼn verskeidenheid bekostigbare kossoorte te eet, sodat jy ʼn groot hoeveelheid voordelige voedingstowwe inneem.
  • Gee prioriteit aan onverwerkte voedsel, insluitend seisoenale groente en vrugte, volgraan, droëbone en lensies.
  • Eet minder wegneemetes of kitskos wat baie sout en vette bevat en bestee die geld eerder op kos wat jy self kan maak.
  • Vervang drankies soos koeldrank, vrugte, sport- en energiedrankies, met baie water. Jy sal verbaas wees oor hoeveel geld jy op jou kosbegroting spaar deur minder drinkgoed te koop.
  • Verminder jou vleisinname deur te fokus op meer plantgebaseerde kossoorte. Goedkoop, gedroogde boontjies en lensies is heerlike plaasvervangers in vleisgeregte, of dit kan as ʼn ekstra bestanddeel bygevoeg word om jou vleisgeregte te rek.
  • As vleisopsies te duur raak, moet jy oorskakel na ander meer bekostigbare proteïenbronne soos eiers, maas en jogurt.
  • Beplan jou etes en inkopielys. Kyk uit vir prysaanbiedings, afslag en oorweeg grootmaataankope saam met familie, vriende en bure.
  • Begin jou eie of ʼn gemeenskaplike groentetuin en verhoog so jou daaglikse toegang tot groente wat maklik verbou kan word. Oorweeg dit om groente soos spinasie, krulkool (“kale”) en tradisionele groente soos marog, uie, boontjies, beet, wortels en tamatie te plant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anthony

Hier het ek gehoop vir n paar respete