Suiwer jou bloed self só

(Foto: iStock)

Voor elke reënseisoen sorg ons dat die huis se geute blaarvry is en ons vermy morsige situasies deur ons dreine en rioolpype skoon en “flatervry” te hou. Net so behoort ons moeite te doen om ons liggaam se belangrikste vervoerstelsel, ons bloed, skoon te hou sodat suurstof, noodsaaklike voedingsbronne, afvalstowwe en die soldate wat ons teen siektes en infeksies moet beskerm ongehinderd van kroon tot toon kan beweeg.

Dit hoef jou nie ’n hoop geld te kos om jou bloed op ’n natuurlike manier van afval- en gifstowwe te reinig nie. Inteendeel, jou lewer en niere is perfek geskape om dié taak te verrig. Ons grootste verantwoordelikheid is om te verseker dat dié organe hulle werk behoorlik kan doen. Met eenvoudige en klein leefstyl- en dieetaanpassings sal jou bloed klopdisselboom bruis.

Belangrikste funksies van bloed

Die bloed het drie hooffunksies, naamlik vervoer, beskerming en regulering. Dit vervoer suurstof en koolstofdioksied na en van die longe en die res van die liggaam, voedingstowwe van die spysverteringskanaal na die res van die liggaam, asook afvalprodukte, hormone en ander selle.

Die bloed bevat witbloedselle wat indringerorganismes vernietig en bloedplaatjies om die bloed te stol en bloedverlies weens ’n besering te verminder. Die bloed help voorts om die liggaam se pH, waterbalans en temperatuur te reguleer.

Die lewer en niere is die liggaam se natuurlike detoksstelsel. Die lewer help om voedsel in energie om te skakel, terwyl dit gifstowwe soos alkohol, skadelike metale en medikasie onskadelik stel en verseker dat dit uit die liggaam verwyder word. Jou twee boontjievormige niere is verantwoordelik vir die filtrasie van die bloed en die verwydering van afval. Die liggaam se natuurlike detoksproses sluit ook jou ingewande, vel, milt en limfstelsel in.

Hoewel daar talle produkte is wat die bloed kwansuis kan reinig en suiwer, meen medici ’n mens moet ligloop. Hoewel die bestanddele in hierdie aanvullings die bloed indirek kan help deur nier- en lewerfunksie te ondersteun, is daar geen bewyse dat dit regstreeks bydra tot die verwydering van afval en gifstowwe uit die bloed nie.

Eet en drink dié tien goed

Drink genoeg water.(Foto: iStock)

Hoewel daar nie ’n kitskuur bestaan wat jou organe in staat stel om jou bloed te suiwer nie, is ’n gesonde dieet propvol groente en vrugte net die regte medisyne om jou lewer en niere ’n filtrasiehupstoot te gee.

Water is die beste manier om jou niere se werkverrigting te verbeter – dis soos olie vir jou motor. Water help nie net om jou are oop te hou sodat suurstof en voedingstowwe hul bestemming kan bereik nie, maar dit is die einste stroom wat afval- en gifstowwe (moet) meesleur. Te min water of dehidrasie kan ernstige nierskade veroorsaak. Daar is uiteenlopende menings oor die ideale hoeveelheid water wat ’n mens per dag moet drink, maar gemiddeld agt glase word aanbeveel. Mans benodig meer water as vroue, en jy behoort ook meer water te drink as jy oefening doen. ’n Mens behoort ongeveer ses koppies water per dag uit te skei en die optimale kleur van urien is liggeel of kleurloos.

Groente soos broccoli, kool, blomkool en Brusselse spruite word dikwels aanbeveel vir mense met niersiekte. Dit is ryk aan antioksidante en uiters voedsaam. Navorsing het getoon dat dié groentes die risiko vir baie soorte kanker verminder, insluitend nierkanker. Of jy dit nou rou, gestoom, gebak, gerooster, of as deel van ’n sop of bredie eet, maak seker dit is deel van jou dieet.

Bessies soos bloubessies of bosbessies (cranberries) behoort op jou lys van peuselhappies te wees. Bloubessies is propvol antioksidante wat die lewer beskerm. Bosbessies keer op hul beurt dat bakterieë aan die urienwand heg en hou die niere infeksievry. Kikker ’n vaal slaai met dié bessies op of gooi ’n hand vol oor jou jogurt, hawermout of in ’n smoothie.

Goeie nuus vir koffieliefhebbers: Studies toon dat die drink van koffie die risiko van sirrose by mense met chroniese lewersiekte verlaag en die risiko vir lewerkanker verminder. Koffie word verbind met ’n laer risiko van dood by mense met chroniese lewersiekte en ’n verbeterde reaksie op antivirale behandeling vir hepatitis C. Dit word toegeskryf aan koffie se vermoë om die ophoping van vet en kollageen in die lewer te voorkom.

Pomelo’s is hoog in antioksidante en help om inflammasie in die liggaam te beheer. Studies het bevind dat dié antioksidante kan help om die lewer teen onder meer die nadelige uitwerking van alkohol te beskerm.

(Argieffoto: Unsplash)

Appels bevat ’n groot hoeveelheid pektien, ’n oplosbare vesel wat help om jou bloedsuikervlak te reguleer. Aangesien hoë bloedsuiker jou niere kan beskadig, sal daardie appel ’n dag ’n indirekte, positiewe uitwerking op jou niergesondheid hê.

Sekere soorte vis, soos salm, tuna of sardiens, is hoog in omega-3-vetsure. Omega-3-vetsure verlaag trigliseriedvlakke asook bloeddruk, wat die lewer en niere help. Onthou egter dat vis hoog in proteïene is. As jy ’n niersiekte het, moet jy jou proteïeninname beperk omdat dit die niere harder laat werk.

Hoewel kruie gesondheidsvoordele inhou, kan dit skadelik wees indien jy ’n nier- of lewersiekte het. Navorsing het getoon dat gemmer help om jou bloedsuiker in toom te hou, terwyl dit ook kan help om niealkoholiese vetterige lewersiekte (nonalcoholic fatty liver disease of NAFLD) te behandel.

Pietersielie help ook om die lewer te beskerm. Een studie het voorts bevind dat dit die volume urien verhoog, wat die niere help om vinniger van afvalstowwe ontslae te raak.

Perdeblom (dandelion) wat soms as tee gedrink word, is ’n diuretikum, wat beteken dit verhoog die hoeveelheid water wat deur jou niere beweeg. ’n Ander studie het bevind dat dit ook voordelig vir lewerfunksie kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

Gaan skenk ook gereeld bloed. Liggaam moet dan nuwe, skoon bloed maak om dit wat geskenk is te vervang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.