Tee wat troos (en nóg tien wenke)

(Foto: iStock)

Die gesondheidsvoordele van tee, veral rooibostee, is goed bekend en word met reg wyd besing, maar selfs gewone tee het verskeie nuttige gebruike. Voordat jy weer daardie gebruikte teesakkie weggooi, lees eers hier!

  • Sakkies vir die sakkies – Het jy powwerige oë? Plaas twee teesakkies in warm water (maak sommer terselfdertyd vir jouself ’n lekker koppie tee), verwyder die sakkies en plaas vir ’n rukkie in die yskas om af te koel. Plaas die koue sakkies op jou oë. Dit sal help om die swelling te verlig en die bloedvate naby jou oë te vernou.
  • Haal die juk uit jeuk – Soms laat ’n staptog deur die bos jou met ’n pynlike uitslag of jeukerigheid. Tap ’n bad en gooi sommer ’n hele paar teesakkies by die water. Dit sal die ontsteking verlig en die jeuk ’n dwarsklap gee. Navorsing toon dat klam teesakkies ook doeltreffend is vir die behandeling van ander veltoestande wat ’n jeukerige uitslag kan veroorsaak, soos gesigdermatitis.
  • Natuurlike verband – Tee is ideaal om pyn en swelling te verlig wat deur klein skrape of kneusplekke veroorsaak word. Skeur die teesakkie oop, stoom die tee en laat dit afkoel. Plaas die klam teeblare vir ’n paar minute op die beseerde area.
  • Maak vir gogga bang – ’n Mens het nie noodwendig ’n hele noodhulpkissie byderhand as ’n mens op vakansie is nie. As jy egter ’n paar teesakkies het, is jou kop deur – selfs as ’n gogga of drie jou beetpak. Maak ’n teesakkie nat, druk van die water uit en plaas vir 15 tot 20 minute op die bytplek. Dit sal die pyn en jeuk in ’n japtrap verlig.
  • Herkou hieraan – ’n Klam teesakkie (verkieslik pepermentgeur) kan help om tandpyn te verlig. Hou die teesakkie teen die tand of tandvleis wat pyn. Die suur in tee help ook met bloedstolling. So as die tandemuis dalk kom kuier het, byt op ’n teesakkie waar die tand getrek is as jy dalk nie watte byderhand het nie.
  • Die byt uit borsvoeding – Borsvoeding veroorsaak dikwels ’n pynlike en brose bors. Navorsing het getoon dat deur klam teesakkies vir 15 minute op ’n keer, vier keer per dag op die bors te plaas, herstel aangespoor en bloedvloei verbeter word.
  • Slaan swartkoppies vir ’n ses – Maak ’n pasta van groenteeblare en ’n klein bietjie water. Vryf dit vir ’n paar minute oor die dele van jou gesig wat deur swartkoppies geteister word en spoel met louwarm water af. Maak jou gesig droog en wend ’n vogroom aan.
  • Knoop en doop – Plante word reeds vir eeue as ’n natuurlike kleurmiddel gebruik en tee is geen uitsondering nie. Gebruik los teeblare en kook dit vir sowat ’n uur lank met net genoeg water om die blare te bedek. As die blare vaal begin lyk, kan jy dit met ’n sif verwyder. Die oplossing wat agterbly, is jou kleurmiddel. Siedaar!
  • Verlep tot vrolik – Plante het stikstof nodig om hulle woema te gee en gebruikte teesakkies is net die regte medisyne. Navorsing toon dat gebruikte teeblare wat met grond gemeng is, lote en wortels help om vinniger te groei en chemiese produksie in plante ’n hupstoot gee. Jou gebruikte teesakkies hoort dus ook op die komposhoop en nie in die vullisdrom nie.
  • Vat vlam – Maak jou eie vuuraanstekers met ou teesakkies. Laat die teesakkies uitdroog, week dit in paraffien of selfs gesmelte kerswas en plaas in ’n lugdigte houer, gereed om die volgende braai te laat vlamvat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.