Tem die bloedsuikerwipwarit

(Foto: iStock)

Ons almal was al op dié wipwarit: die een oomblik bars jy uit jou nate van energie en die volgende oomblik kan jy nie jou oë oophou nie en voel dit asof jy flou gaan word. Dié kruin óf krans het alles met ons bloedglukose, oftewel bloedsuikervlak, te doen. Hoë en lae bloedsuiker raak nie net mense met diabetes nie. Dit kan ook by mense voorkom wat nie diabetes het nie.

Wat is bloedsuiker presies?

Wanneer jou liggaam die kos verteer wat jy eet, skakel dit die koolhidrate in glukose om wat in die bloedstroom opgeneem en deur die liggaam vervoer word. Glukose is noodsaaklik om te verseker dat jou liggaam behoorlik funksioneer en is die liggaam se vernaamste bron van energie.

Soos wat die glukosevlak in jou bloedstroom styg, stel die pankreas insulien vry. Insulien is ʼn hormoon wat help dat die glukose deur die verskillende selle in die liggaam opgeneem word. Van die glukose word in die lewer, spiere en vetselle geberg, waar dit in glikogeen omskep word. Namate jou liggaam die glukose gebruik en glikogeen berg, verlaag jou bloedsuikervlak en hoef insulien nie meer vrygestel te word nie.

Indien jy egter vir ʼn paar ure nie geëet het nie, neem die glukosevlak in jou bloedstroom af. Gevolglik begin die pankreas om ensieme af te skei wat die gebergde glikogeen weer in glukose omskakel om deur die liggaam se selle gebruik te word. Sodra die bloedsuikervlak weer styg, stel die pankreas insulien vry om met die opname van die glukose te help. Hierdie siklus word deurlopend herhaal om te verseker dat jou bloedsuikervlak bestendig bly.

Hiperglukemie is hoë bloedsuiker, terwyl hipoglukemie lae bloedsuiker is. Omdat albei groot gesondheidsprobleme by mense met diabetes kan veroorsaak, is dit belangrik om jou bloedsuiker in toom te hou.

Wat is die verskil tussen hoë en lae bloedsuiker?

Simptome van hoë bloedsuiker sluit in uitermatige dors, ʼn droë mond, swakheid, hoofpyn, gereelde urinering, dowwe sig, naarheid, verwarring, en kort van asem. Simptome van lae bloedsuiker sluit in honger, prikkelbaarheid, konsentrasieprobleme, moegheid, sweet, verwarring, vinnige hartklop, bewing en hoofpyn.

Lae bloedsuiker is wanneer jy te veel insulien in jou bloedstroom het. Dit kan gebeur as jy vir ʼn paar ure nie eet nie. ʼn Daling in bloedsuiker beteken dat daar nie genoeg glukose in jou bloedstroom is om jou brein en liggaam te voed nie.

Lae bloedsuiker sonder diabetes kan ook voorkom as jy medikasie neem wat jou bloedsuiker verlaag. Dit sluit in aspirien, voorbehoedpille, steroïede, bloeddrukmedikasie en sommige antibiotika. Ander oorsake van lae bloedsuiker sonder diabetes sluit in oormatige drinkery (dit beïnvloed hoe jou lewer glukose in jou bloed vrystel) en verhoogde fisieke aktiwiteit.

Boonop kan sommige mediese toestande die hoeveelheid insulien wat jou pankreas produseer, verhoog. Dit sluit in ʼn pankreasgewas, bynierafwykings en hepatitis. Jy kan ook lae bloedsuiker ervaar as jy prediabetes het, of as jy baie verfynde koolhidrate eet, soos witbrood, pasta en gebakte kos.

Net so kan hiperglukemie voorkom by mense met en sonder diabetes. As jy nie diabetes het nie, kan verskeie faktore hoë bloedsuiker veroorsaak, hetsy skielik of geleidelik. Sommige mediese toestande verhoog bloedsuiker. Dit sluit in polisistiese ovariumsindroom en Cushing se sindroom.

As jy ʼn infeksie het, kan jou liggaam ook ʼn groot hoeveelheid streshormone, soos adrenalien en kortisol, vrystel. Te veel van hierdie hormone kan inmeng met jou liggaam se vermoë om insulien behoorlik te gebruik. As gevolg hiervan verhoog jou bloedglukosevlak.

Ander faktore wat tot hiperglukemie sonder diabetes kan lei, sluit in vetsug en ʼn gebrek aan fisieke aktiwiteit. Jy kan ook hoë bloedsuiker hê as jy ʼn familiegeskiedenis van diabetes het.

Lae bloedsuiker en hoë bloedsuiker kan tot ernstige diabeteskomplikasies lei. Onbehandelde hipoglukemie kan aanvalle, floute en selfs die dood veroorsaak. Komplikasies van onbehandelde hiperglukemie sluit in kardiovaskulêre siektes, niersiekte, senuweeskade, infeksies, beenprobleme, en amputasie of dood.

In Suid-Afrika meet ons bloedglukosevlakke in millimol per liter (mmol/l). Die normale omvang vir niediabetiese mense is 4-6 mmol/l. Jy word as ʼn diabeet beskou as jou vastende bloedglukose (voordat jy ontbyt eet) meer as 7 mmol/l is, of jou nievastende vlak meer as 11 mmol/l is. Jy kan jou bloedsuikervlak tuis of by jou naaste apteek laat toets.

 Hou jou bloedsuikervlak bestendig

  • Eet meer gereeld kleiner etes. Begin jou dag altyd met ʼn gesonde en stewige ontbyt. Eet dan gereeld kleiner etes deur die dag om te verseker dat jy deurlopend energie het. Dit sal voorkom dat jy moeg voel. Jy sal ook minder gereeld honger voel, wat sal help dat jy minder kilojoules inneem en jou gewig kan beheer. Moenie maaltye oorslaan nie.
  • Neem meer vesel in. Vesel help dat die bloedsuikervlak geleidelik toeneem omdat dit die opname van suiker en die vertering van koolhidrate vertraag. Kos wat ryk aan vesel is, sluit in volgraanbrood, hawermout, pere, lemoene, broccoli, asook aartappels (met die skil).
  • Neute soos amandels, okkerneute en pistasieneute bevat gesonde vet wat die liggaam se opname van suiker vertraag. Beperk egter die hoeveelheid neute wat jy verorber, want selfs gesonde vette bevat kalorieë.
  • Drink baie water. Deur genoeg water te drink, sal nie net keer dat jy ontwater nie, maar ook jou niere help om die oortollige suiker in jou liggaam deur urine uit te skei. Waak daarteen om alkohol op ʼn leë maag te drink.
  • Vermy versoete drankies indien moontlik, aangesien dit jou bloedsuikervlak sal verhoog, jou gewig kan laat toeneem, en die risiko vir diabetes verhoog.
  • Gereelde oefening sal ook help om jou bloedsuikervlak in toom te hou. Probeer om minstens vir 30 minute lank, vyf dae per week, een of ander vorm van oefening in te kry.

Bykomende bronne: Medihelp; Everydayhealth.com; Healthline.com; WebMed; Alllife.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

Luister hier, man. DIE LAASTE DING wat jy behoort te eet as jy pre-diabeties is, is brood en stysels. Jy behoort omtrent net vleis, groente,, suiwel (maar nie melk nie), en neute te eet.

Asgat ·

Vrugte is ook n’ nee want dit sit in te veel suiker oor. As jy 6 druiwe eet het jy jou dag se kJ oorskry. En soos jy se geen stysels nie, of dit nou bruin rys of bruin pasta is of volgraan Low GI brood of wat ook al is nie.

VaalDonkie ·

Netso. En die enigste rede waarom ek so “passievol” is, is omdat my pa oorlede is aan Diabetes. Die verslag het gewys “longontsteking”, maar die ou het 40kg geweeg en hy was brandmaer oor hy met sy liggaam wat nie kan suikers metaboliseer nie, die raad gevolg het om volgraan en stysels te eet. Die arme man het letterlik van honger gesterf al het hy ses sny brood op ‘n slag ge-eet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.