Terneergedruk? Skink ʼn koppie tee

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Rooibostee kan nie net jou kans op depressie en angs verminder nie, selfs die eenvoudige ritueel om self ʼn koppie tee te maak, kan al ʼn positiewe uitwerking op jou gemoed hê. Dié goeie nuus word deur navorsing gestaaf.

Adele du Toit, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad (SARR), sê al hoe meer navorsing dui deesdae op die belang van ʼn gesonde leefstyl om depressie te help afweer. Dit sluit in die drink van ʼn koppie lekker, stomende tee.

Navorsers het bevind dat gereelde teeverbruik noemenswaardig met die verligting van stres en angs verband hou.

Du Toit verwys spesifiek na ʼn studie wat toon dat iemand se risiko vir depressie met ʼn allemintige 37% verminder vir elke drie koppies tee wat die persoon per dag drink.

“Dit is moontlik dat die gesonde verbindings in tee ʼn positiewe reaksie in die ingewande en brein stimuleer wat ʼn mens se bui verbeter. Net so is die daad van teemaak op sigself ontspannend en maak dit vir ons moontlik om ʼn sielkundige en emosionele blaaskans te neem,” verduidelik Du Toit.

Wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) het bevind dat rooibostee twee seldsame antioksidante bevat, aspalatien en notofagien, wat die vrystelling van die streshormoon kortisol belemmer.

Dié hormoon word deur die byniere afgeskei. Die wetenskaplikes het toetse op bynierselle gedoen deur die selle te stimuleer om ʼn stresreaksie na te boots wat soortgelyk is aan die stresreaksie wat by die mens voorkom. Die wetenskaplikes het tot die gevolgtrekking gekom dat rooibostee die vrystelling van kortisol en dus stres verminder.

Du Toit wys voorts daarop dat rooibostee kafeïenvry is en dus die liggaam help ontspan. Dít teenoor kafeïen wat slaap belemmer en ontwatering, asook verhoogde bloeddruk en angsvlakke tot gevolg kan hê.

“Rooibos is ryk aan polifenole – verbindings wat in plante voorkom – waaronder flavonoïede en karbolsuur wat voordelig vir die liggaam is en siektes bestry. Dit help ook om bloedvate te verwyd wat weer bloeddruk en angs verminder.”

Volgens Du Toit het tee te midde van die Covid-19-pandemie ʼn selfs groter rol in mense se lewe begin speel omdat talle mense hulle tot ʼn koppie tee vir vertroosting gewend het.

“Die talle uitdagings wat die pandemie meegebring het, het wêreldwyd ʼn toename in depressie en angs veroorsaak. Dit plaas ʼn geweldige las op gesondheidsorgstelsels en met beperkte beskikbare behandelingsopsies moet dieetmiddels, soos tee, ondersoek word – hoe gering die uitwerking daarvan ook al mag wees.

“Namate navorsers al hoe meer te wete kom oor die invloed van verskillende teesoorte op die liggaam en hoeveel daarvan nodig is om die gewenste uitwerking te verkry, is daar geen rede om mense nie aan te moedig om tee te drink as ʼn manier om hul gemoedstoestand te verbeter nie,” sê Du Toit.

  • Een uit elke drie Suid-Afrikaners ly aan depressie. Wêreldgeestesgesondheidsdag word Sondag herdenk. Skakel die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angsgroep (Sadag) se hulplyn by 0800 70 80 90 as jy of ʼn geliefde hulp benodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

As my probleem met ‘n koppie tee opgelos kan word, is dit nie rerig ‘n probleem nie

Eend Bessinger ·

Ek is mal oor rooibostee! Swart, met melk of met vrugtesap. Altyd lekker. Ek begin en sluit my dag af met rooibos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.