Trauma is ’n gemeenskapsuitdaging

Argieffoto (Foto: Anemone123/Pixabay)

Geweld, seksuele mishandeling, emosionele mishandeling, vernedering. Die probleem van mense wat met verkeerde bedoelings teenoor ander optree, skade berokken en trauma veroorsaak, bestaan al van die vroegste tye af.

In die verlede is ʼn kombers van stilte oor skadelike gedrag in die huis getrek, veral in meer gesiene groepe van die samelewing, omdat “slegte dinge nie in goeie huise gebeur nie”. Soveel meer skade is aangerig omdat skade ongesiens en onaangespreek verbygegaan het.

In 2021 is daar straks net ʼn baie klein groepie mense wat nog nie met die boodskap dat geslagsgeweld, seksuele mishandeling en dergelike gedrag onaanvaarbaar en krimineel is, bereik is nie.

Baie skade word egter sonder fisiese geweld gedoen. Daar is die moontlikheid van seksuele mishandeling in die ouerhuis, bedek met lae geheimhouding en skaamte. Jong kinders, (veral meisies) het ʼn baie klein kans om geglo te word wanneer hul die waarheid aan ouer mense probeer vertel. As die werklike syfers ooit bekendgemaak sou kon word, sou dit sekerlik haas ongeloofwaardig wees.

“As maatskaplike werkers kom ons daagliks in kontak met skokkende menslike gedrag,” verduidelik Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos. “Ons poog om ons gemeenskappe te bereik met programme wat op voorbereiding sowel as ingryping gemik is, en natuurlik – omdat ons reg by die kontakpunt werk – moet ons die nodige statutêre stappe neem in die kinders se belang.

“Baie kan bereik word om probleme te voorkom as mense bedag is en die belemmerende faktore om hulle kan raaksien. Voorbeelde is kuberboelies, emosionele mishandeling en die verslawing aan pornografie. Voorkoming is altyd beter as om probleme wat ontstaan aan te spreek nadat die skade reeds gedoen is.

“Kinders wat uit hul huise verwyder moet word as gevolg van erge trauma, word met behulp van berading ondersteun om hul te help om te genees en weer hoop te kan ervaar. Baie van hulle toon probleemgedrag wat woede-uitbarstings, geweld, selfbeskadiging en selfs selfmoordpogings insluit – dit kom ook baie by jong kinders voor.

“Ons maatskaplike werkers ondersteun die kinders met langtermyn emosionele genesing en integrasie in die gemeenskap. Die hartseer werklikhede word nie minder nie, dit word steeds meer. Dit beteken ons benodig steeds meer opgeleide mense om die probleme van ons tyd te hanteer, en natuurlik vra ons steeds dat gemeenskappe gevalle moet aanmeld waar hulp benodig word,” sluit Van der Merwe af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.